Leesplan inligting

Lewe Veranderd: Toe Jou Geboorteverhaal Nie Volgens Verwagting Verloop Het NieVoorbeeld

Living Changed: When Your Birth Story Didn’t Go As Expected

DAG 3 VAN 7

Verwagtinge teenoor Werklikheid


Ek weet nie van jou nie, maar ek geniet dit om te beplan. Ek verkies dit om te weet wat gaan gebeur, wanneer iets gaan gebeur, en met wie dit gaan gebeur. As ek weet wat om te verwag, kan ek nadink oor hoe ek daarop gaan reageer en beter daarop voorbereid wees. Natuurlik, kan ons na hartelus beplan, maar dit beteken nie dat ons planne inderdaad gaan realiseer nie.


My dogter is op drie en dertig weke gebore en het 1,47 kilogram geweeg. Ek het haar slegs vir ‘n paar minute vasgehou, voordat die verpleegsters van die neonatale intensiewesorgeenheid haar vinnig kom haal het om haar in ‘n neonatale broeikas warm te hou en teen kieme te beskerm. Ek het my man saam met hulle gestuur sodat hy kon seker maak dat sy veilig en versorg is. Daarna, het die dokters my nageboortelike sorg afgehandel, en meteens was alles stil.


Daar was geen geleentheid vir persoonlike aanraking nie. Ons kon nie oulike gesinsfoto’s neem nie. Die eerste leerervaring met borsvoeding is my ontneem. Dit was net ek, alleen in ‘n kamer, bedlêend, en nie in staat om helder te dink nie. Die afstand tussen my en my dogter was die grootste tot dusver. Dit is nie hoe ek die werklikheid voorgestel het nie. Ek was gefrustreerd, hartseer, kwaad en verward. Ek het dit nie besef nie, maar ek was besig om te treur oor my onvervulde verwagtinge.


  • Ek het verwag om gesond te wees tydens my swangerskap. In plaas daarvan, het ek ernstige preëklampsie ontwikkel.

  • Ek het verwag dat my swangerskap die volle termyn sou duur. In plaas daarvan, het ek sewe weke te vroeg geboorte geskenk.

  • Ek het verwag dat ek my baba na haar geboorte sou kon vashou. In plaas daarvan, moes ek haar vir iemand anders gee.

  • Ek het verwag om die eerste oomblikke na die geboorte van my dogter met my nuwe gesin van drie te deel. In plaas daarvan, was ek tydens daardie eerste oomblikke alleen.

  • Ek het verwag dat ek na my baba sou omsien terwyl ek die rol van ma-wees my eie maak. In plaas daarvan, moes ek die dokters vir haar versorging vertrou, terwyl ek my aandeel in alles bevraagteken het.

Ek ken nie die verwagtinge, vooruitsigte en drome wat wat jy vir hierdie lewensfase gekoester het nie, maar ek is jammer dat die werklikheid jou verwagtinge weerspreek het. Óf jy tans in die neonatale intensiewesorgeenheid by jou baba sit, en óf jou kleinding nou tuis rondhardloop – jy mag teleurgesteld wees in die verloop van jou geboorteproses. Jy mag vreugde sowel as droefheid beleef, sonder om skaam te voel.


Te midde van al jou onvervulde verwagtinge is daar een ding waarop jy kan staatmaak. Vader sal voortdurend by jou wees.Jesaja 43:2 sê die volgende: “As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie.”


Ongeag hoe graag ons trauma en droefheid wil vermy, die enigste manier om dit te verwerk is om dit met vasberadenheid te bemeester. Wees ten volle bewus van jou trauma en droefheid − dit is deel van die pad na genesing. Onderweg na genesing kan ons bemoediging vind in die sekerheid dat ons goeie Vader enduit met ons sal wees, ons innerlike menswees sal beskerm, en ons sal genees.


Vader, U ken die drome wat ek in my hart hou. Ek treur oor die verwagtinge wat ek gehad het wat nie vervul is nie. Help my om nie meer aan my verwagtinge vas te hou nie, maar om dit saam met die swaarmoedigheid wat my belas, vir U te gee. Help my om te midde van my seer u liefde, vreugde en vertroosting te ervaar. Dankie dat U my deur hierdie laagtepunt in my lewe lei. In die Naam van Jesus, Amen.


Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: When Your Birth Story Didn’t Go As Expected

Ons almal het ‘n voorstelling van hoe ons dink ons swangerskap en die geboorteproses gaan verloop. Wanneer die realiteit ons voorstelling weerspreek, kan dit intense hartseer veroorsaak. Of die geboorteproses moeilik was...

More

Baie dankie aan Changed Women's Ministries wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.changedokc.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid