Leesplan inligting

Lewe Veranderd: Toe Jou Geboorteverhaal Nie Volgens Verwagting Verloop Het NieVoorbeeld

Living Changed: When Your Birth Story Didn’t Go As Expected

DAG 1 VAN 7

God is in beheer


Aangesien jy hierdie boodskap lees, is daar ‘n goeie kans dat jy, net soos ek, ‘n traumatiese swangerskap en geboorteproses ervaar het. Jy mag dit dalk nie so verwoord nie, maar ek is seker dat ons oor een ding kan saamstem, naamlik dat die verwagtinge wat ons gehad het, nie vervul is nie.


My swangerskap het in redelike gesondheid verloop. My man en ek het al die dinge geniet wat deel vorm van ‘n eerste kennismaking met ouerskap, soos om rekord te hou van alles wat tydens die verloop van die swangerskap gebeur, weeklikse foto’s te neem van my bababoepie en om die babakamer mooi te maak. Alles was perfek – totdat dit nie meer die geval was nie.


Toe ek ‘n paar simptome ervaar wat my bekommerd gemaak het, het my man my hospitaal toe geneem vir ‘n ondersoek. Ek het aangeneem dit sou ‘n roetine ondersoek wees en dat ons weer daarna huis toe gestuur sou word. In plaas daarvan, het my verpleegster na afloop van etlike toetse na my gekyk en gesê: “Jy kan nie huis toe gaan voordat jou baba gebore is nie.” Ek was slegs 32 weke swanger.


Gedagtes het deur my kop gemaal: “Hoekom gebeur dit? Makeer ek iets? Gaan alles vir ons baba vlot verloop? Gaan alles vir my vlot verloop? Wat het ek verkeerd gedoen?”


Miskien is jou verhaal soortgelyk aan myne en was alles piekfyn totdat dit in ‘n oogwink verander het, of miskien kon jou dokters jou waarsku dat jy moontlik komplikasies tydens jou swangerskap of die geboorteproses sou ervaar. Hoe dit ook al sy, ek bid dat jy die volgende waarheid sal onthou: Te midde van chaos in ons lewens en wanneer ons buite beheer voel, is ons God ten volle in beheer.


Jesus herinner ons daaraan in die boek Johannes. Hy sê: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” (Johannes 16:33).


Ons het ‘n keuse wanneer ons tye van groot moeilikheid, onvoorsiene beproewings en intense hartseer beleef. Ons kan op ons eie krag probeer staatmaak, of ons almagtige, alwetende en liefdevolle Vader nader. Wanneer ons op ons eie krag staatmaak sal ons aanhoudend tekortskiet, maar as ons swak is, dra Christus ons laste en versterk ons.


Jou ervaring van swangerskap en die geboorteproses is belangrik vir God. Gee aan jouself erkenning dat jou verwagtinge onvervuld was en dat die proses nie verloop het soos wat jy dit wou gehad het nie. Jy hoef nie dit wat jy deurgemaak het te onderskat nie, bloot omdat dit dalk nie so erg as iemand anders se belewenis mag wees nie. Deur God se genade is genesing vir almal moontlik. Daar is geen einde aan God se liefde nie.


God sien jou hartseer. Hy is daar te midde van jou hartseer. Hy hoor die uitroepe wat jy in jou binneste wegbêre, selfs dié wat jy nie in woorde kan formuleer nie – jou angs, bekommernisse en smart. Die geheime gedagtes wat jy vir ander verberg kan jy alles voor God neerlê, want niks skrik vir God af nie. Hy wil jou help. Hy wag geduldig vir jou. Sal jy Hom deel maak van jou hartseer?


Vader, ek dank U dat U my sien en dat U bewus is van my hartseer. Ek beleef smart en is verward. Slegs U kan vir my hulp en genesing vir my hartseer bied. Ek mag dalk nie weet waar om te begin nie, maar ek nooi U uit om deel te word van my hartseer. Help my om op U te steun in oomblikke van desperaatheid. Gee my die krag om deur my hartseer te werk. Ek vra dit in die Naam van Jesus. Amen.


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: When Your Birth Story Didn’t Go As Expected

Ons almal het ‘n voorstelling van hoe ons dink ons swangerskap en die geboorteproses gaan verloop. Wanneer die realiteit ons voorstelling weerspreek, kan dit intense hartseer veroorsaak. Of die geboorteproses moeilik was...

More

Baie dankie aan Changed Women's Ministries wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.changedokc.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid