Leesplan inligting

21 dae oor die krag van gebed deur Angus Buchan™Voorbeeld

21 dae oor die krag van gebed deur Angus Buchan™

DAG 3 VAN 21

“Vurige gebed” Dis skrikwekkend om te dink hoe min tyd daar deesdae aan gebed afgestaan word, veral deur Christen-leiers. Waarom is dit so? Kan dit wees dat ons geneig is om min tyd saam met iemand deur te bring wat ons nie juis goed ken nie? Hoe kan jy tot iemand bid wat jy nie ken nie? ’n Goeie manier om ons verhouding met die Meester te meet is deur te kyk hoeveel tyd ons aan gebed bestee. Dit is nogal ’n uitdaging, want die hoeveelheid tyd wat gelowiges in gebed deurbring, is ’n goeie aanduiding van hulle geestelike volwassenheid. Daar word gesê dat Martin Luther al hoe meer tyd in gebed deurgebring het namate hy besiger geword het. Hoe meer verantwoordelikhede hy moes nakom, hoe vroeër het hy soggens opgestaan. Die teenoorgestelde is waar van ons: Hoe besiger ons word, hoe minder tyd bring ons in gebed deur. Onthou jy hoe baie jy gebid het toe jy pas jou lewe vir Jesus gegee het? Hoeveel tyd bring jy nou saam met die Here deur? As jy die situasie nie regstel nie, kan dit dalk rampspoedig wees. Die Here vereis dat ons tyd aan gebed afstaan, en dis net ’n dwase gelowige wat nie gehoor gee aan hierdie opdrag nie. Gebed is die lewensbloed van die kerk. Elke herlewing wat nog ooit gebeur het, het begin omdat mense begin bid het. Ons moet voortdurend bid. As ons verhouding met die Here vir ons belangrik is, behoort dit nie vir ons moeilik te wees om tyd in sy teenwoordigheid deur te bring nie. Daar is verskillende soorte gebed: daar is korporatiewe gebed, wanneer ons saam bid. Daar is ook voorbidding, wanneer ons vir ’n spesifieke situasie of persoon intree. Die gebed waarvan ek praat, is egter persoonlike, individuele gebed – gebed tussen elke gelowige en God. Gebed is ’n natuurlike ding; dit verg nie inspanning nie. Dit behoort net so natuurlik as asemhaling te wees vir ’n Christen. Gebed beteken nie net jy praat nie – dit beteken ook om te luister en op God te wag. Onthou die gesegde: “As mense werk, werk hulle. As mense bid, werk God.” GEBED: Liewe Here, dankie vir alles wat gebed kan vermag. Mag ek nooit die krag onderskat wat gebed het om lewens te verander nie. Ek wil moeite doen om meer met U te praat en meer te luister na wat U vir my wil sê. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen. Geneem uit DIE BYBEL – MET GRASSROOTS-OORDENKINGS DEUR ANGUS BUCHAN © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

21 dae oor die krag van gebed deur Angus Buchan™

Hierdie 21 dae-plan is ’n samestelling van dagstukkies oor gebed. Dit is ’n wonderlike hulpmiddel om ’n dieper verhouding met God te ontwikkel. Elke dag bevat ’n Skrifverwysing, ’n oordenking oor gebed en ’n slotgebed. H...

More

Ons wil graag Angus Buchan / Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.cumuitgewers.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid