Leesplan inligting

21 dae oor die krag van gebed deur Angus Buchan™Voorbeeld

21 dae oor die krag van gebed deur Angus Buchan™

DAG 2 VAN 21

“Gebed verander sake” Iets wat die moeite werd is om te hê, is altyd die moeite werd om voor te bid. Die sleutel tot evangelisasie is gebed; nie mediese hulp, opvoeding of indrukwekkende toesprake nie, slegs gebed uit die hart en niks minder nie. Die enigste verantwoordelikheid wat ons in die lewe het, is teenoor ons Here Jesus Christus. Ons werk vir sy oes; niemand anders s’n nie. Daarom behoort al ons konsentrasie en fokus op gebed te wees – om God se aangesig in elke situasie te soek en na niks of niemand anders te luister nie. Dis waarom die Bybel sê: “Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle verwag omdat julle met Christus Jesus verenig is” (1 Tessalonisense 5:16-18). Groter werke spruit uit getroue arbeid aan net een saak, naamlik gebed. Ons moet tyd in God se teenwoordigheid begin deurbring. Wat werklik spesiaal is, is die feit dat Christus self ook vir ons bid. Hy is ons beste Voorbidder in hierdie sterwende wêreld. Dit raak ’n mens altyd diep as jy weet dat jou vriende of familie vir jou bid; hoeveel te meer as jy weet die Seun van God bid vir my en jou! Dis wonderlik om te weet dat Jesus ons elke dag in gebed ondersteun. Daarom moet ons nie die Here teleurstel nie; ons moet ook elke dag bid en sy aangesig soek. Ons moet tyd in gebed en oordenking deurbring, net soos ons Meester, die Here Jesus Christus, sy tyd gebruik het. Moenie nalaat om die “binnekamerwerk” te doen nie, want dis soos die wortel van ’n boom: Die boom kan nie sonder sy wortel sterk word en oorleef as daar sterk winde waai nie. Moenie die belangrikste deel van jou Christelike lewe afskeep nie – daaglikse gemeenskap met ons hemelse Vader. Dis baie belangrik dat ons die eerste vrug van elke dag aan Jesus gee deur soggens vroeg, en ook die res van die dag, tyd in gebed saam met Hom deur te bring. Wanneer jy bid, gaan na ’n stil plek en hou dit persoonlik. Vra die Here om jou op ’n spesiale, vars manier te ontmoet sodat jy sy kragtige teenwoordigheid in jou stiltetyd kan ervaar. GEBED: Here, soms onderskat ek die belangrikheid daarvan om elke dag met U te praat. Help my asseblief om my prioriteite reg te kry en om die eerste vrug van my dag vir U te gee. Amen. Geneem uit DIE BYBEL – MET GRASSROOTS-OORDENKINGS DEUR ANGUS BUCHAN © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

21 dae oor die krag van gebed deur Angus Buchan™

Hierdie 21 dae-plan is ’n samestelling van dagstukkies oor gebed. Dit is ’n wonderlike hulpmiddel om ’n dieper verhouding met God te ontwikkel. Elke dag bevat ’n Skrifverwysing, ’n oordenking oor gebed en ’n slotgebed. H...

More

Ons wil graag Angus Buchan / Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.cumuitgewers.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid