Leesplan inligting

Lewe Veranderd: VoorsieningVoorbeeld

Living Changed: Provision

DAG 4 VAN 5

Seëninge Deur Oorgawe 



'n Oordenking saam met Harmony



Baie van ons sukkel om beheer te laat vaar. Ons glo as alles presies verloop soos ons beplan, ons 'n goeie lewe kan lei. Die eienaardige ding is, wanneer ons beheer aan God oorgee, ons die goeie van Hom kry, wat baie beter is as ons eie planne.



Onlangs het ek in die wagkamer van 'n hospitaal gesit en wag terwyl dokters in minder as drie weke my man se tweede breingewas verwyder. Terwyl ek vir die neurochirurg se verslag gewag het, het vriende my gevra vir 'n lys van dinge wat hulle kan doen om my gesin gedurende die spanningsvolle tyd te help. 



Bo-aan my lys was die verkoop van ons ou bussie. Dit het die afgelope paar maande stukkend voor ons huis gestaan. Ons het vermoed dat die bussie 'n nuwe ratkas nodig het, maar nie ek of my man het die energie gehad om aandag daaraan te gee nie. Binne enkele dae is die bussie verskuif en ons het een minder las gehad om oor te bekommer. 



Een gesin het gereël om die bussie op 'n besige plek te parkeer, 'n tweede gesin het dit daarheen gesleep en 'n derde gesin het hul telefoonnommer by die "Te Koop"-bord opgesit. Met die samewerking van hierdie gesinne het alles vinnig verloop en daar was byna onmiddellik 'n navraag oor die koop van die bussie. 



Intussen het ek 'n kennis raakgeloop wat my uitgevra het oor my nuwe bussie. Dit was dieselfde fabrikaat en model van 'n bussie wat sy wou koop en sy wou weet of ek daarmee tevrede is. Ek het vir haar gesê dat ek so lief was vir my ou bussie wat onklaar geraak het, dat ek weer dieselfde fabrikaat en model gekoop het! 



Sy vertel toe hoe sy vir 'n baie spesifieke bussie gebid het, 'n wynrooi een waarvan die binnekant roomkleurig is. Sy vertel hoe sy onlangs 'n pad gery het wat sy nie normaalweg ry nie en 'n wynrooi bussie te koop gesien het. Toe sy die nommer bel het sy die hartseerstorie gehoor waarom die gesin die bussie moes verkoop en dat die eienaar met breinkanker sukkel ... Ons oë het ontmoet en sy het besef dit is my gesin en my bussie! Dadelik het sy opgewonde oor die kleur aan die binnekant van die bussie uitgevra. Roomkleurig. 



God het vir ons albei op 'n unieke en heeltemal onverwagse manier voorsien. Met al die aktiwiteite en betrokkenes was die pad na sy voorsiening so ingewikkeld dat ek nooit die roete sou kon uitdink of daardie uitkoms self sou kon reël nie. 



Wanneer die lewe genadeloos op jou toeslaan en jou omstandighede jou oorweldig, moedig ek jou aan om vas te byt deur die vrees en beheer aan God oor te gee. Wanneer jy alles aan Hom oorgee, gee jy vir God ruimte om te werk. Glo my, sy plan vir jou is beter as wat jy ooit kan dink, vra of oor kan droom. Hy is die Weg en sy pad is vrede en oorvloed.


Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: Provision

Ons dien 'n vrygewige God wat belowe om in elke behoefte van ons te voorsien. Al laat Hy nie alle wense waar word nie, doen Hy tog wonderwerke. God geniet dit om vir ons geskenke te gee, want Hy gee baie om vir ons, self...

More

Baie dankie aan Changed Women's Ministries wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.changedokc.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid