Leesplan inligting

Elke Taal: Luister Na Die Veeltalige GodVoorbeeld

Every Language: Listening To The Multilingual God

DAG 4 VAN 7

Voorspraak, Raadgewer, Helper


Wanneer Bybelvertalers nie met die vertaling van 'n enkele Griekse of Hebreeuse woord kan ooreenstem nie, kan ons tereg aanvaar dat dit 'n moeilik-vertaalbare woord is. "Trooster" (AFR53), "Voorspraak" (AFR83), "Raadgewer" (NLV) of "Helper" (DB), verwys almal na dieselfde belofte van Jesus oor die Heilige Gees in Johannes 14:16.



Eugene Nida, die bekende konsultant vir Bybelvertaling, skryf: "Daar is waarskynlik geen ander woord in die Nuwe Testament wat so moeilik is om bevredigend te vertaal as die woord 'Trooster' nie. Die Griekse woord, meestal oorgeskryf as Parakleet, is buitengewoon ryk aan betekenis, want dit impliseer nie net 'om te troos' nie, maar ook 'om te vermaan', 'om te berispe', 'om aan te moedig' en 'om te help'. Dit is dus duidelik uiters moeilik om al hierdie betekenisse in een inheemse uitdrukking te vertaal, maar tog moet gepoog word om 'n term of frase te vind wat 'n voldoende beeld van die unieke bediening van die Heilige Gees sal verskaf."



Die geskiedenis van Bybelvertaling verskaf baie pragtige en gedagteprikkelende vertalings, insluitende "die een wat deurlopend sy-aan-sy saamgaan" (Tausug/Filippyne), "Hy wat die siel verwarm" (Oostelike Hoogland Otomi/Mexiko), "Hy wat die gedagtes vasbind" (Baoulé/Ivoorkus) en "middelaar wat namens ons praat". 



Eugene verwys na 'n besonder betekenisvolle verhaaltjie uit die vertaling in Kare, 'n taal wat in die Sentraal-Afrikaanse Republiek gepraat word. 'n Sendeling, Estella Myers, wat onder die Kare-mense werk, het baie hard probeer om aan die inheemse helpers die betekenis van die "Trooster" te verduidelik. Sy het in die fynste besonderhede verduidelik hoe die Heilige Gees bemoedig, vermaan, berispe, beskerm, vertroos en die Christen lei. Uiteindelik het die Kare vertalers uitgeroep: "O, as iemand al daardie dinge vir ons doen, sou ons sê: 'Hy is die een wat langs ons neerval.'" 



Aanvanklik was Estella verslae — dit het na 'n heeltemal ontoereikende frase voorgekom om die werk van die Heilige Gees te beskryf. Tog het die vertalers aangedring dat dit die unieke manier is waarop hulle die term gebruik.



Wanneer pakdraers gedurende lang reise swaar vragte op hul koppe gedra het, dikwels vir twee of drie maande, en hulle soms malaria of disenterie opgedoen het, het hulle gaandeweg swakker en swakker geword. Uiteindelik het hulle in algehele uitputting langs die roete ineengestort, in die wete, as hulle nie die veiligheid van die volgende dorpie bereik nie, sou hulle gedurende die nag deur wilde diere doodgemaak en verorber word. Nietemin, as iemand langs die roete verbykom en hulle daar sien lê, hulle jammer kry, ophelp en ondersteun om die veiligheid van die volgende dorpie te bereik, beskryf hulle die persoon se optrede as "die een wat langs ons neergeval het". Die Kare vertalers het aangedring dat dit die mees gepaste vertaling vir "Trooster" was, as die Een wat onderhou, beskerm en die kinders van God op hulle reis na hul hemelse tuiste bewaar.



Wanneer het die Heilige Gees langs jou neergeval om jou op te tel en te help om veiligheid te bereik? Is dit iets wat jy vandag nodig het? Vra die Trooster om jou "siel te verwarm" in hierdie uur. 


Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Every Language: Listening To The Multilingual God

God se kommunikasie met die mensdom was van die begin af vir "elke nasie, stam, volk en taal" bedoel. Alhoewel alle tale ewe doeltreffend in die oordra van die Bybelse boodskap is, het elke taal ook unieke vermoëns om se...

More

Ons wil graag vir United Bible Societies — Global Mission Team vir die verskaffing van hierdie leesplan bedank. Besoek https://tips.translation.bible/ vir meer inligting.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid