Leesplan inligting

Elke Taal: Luister Na Die Veeltalige GodVoorbeeld

Every Language: Listening To The Multilingual God

DAG 1 VAN 7

Liefde is geduldig


Hierdie woorde is vir ons bekend as gevolg van ontelbare troues en preke. Tog, net soos met baie ander dinge in die lewe, help dit ons om weer met nuwe oë na die bekende dinge te kyk — in hierdie geval, kyk ons deur die oë van andertaliges. 



Hoekom? Nie omdat Bybelvertalers in ander tale noodwendig beter teoloë is of unieke geestelike insigte het nie, maar omdat hul tale hul dwing om die oorspronklike teks op maniere uit te druk wat waarhede kan onthul wat nie vir ons onmiddellik toeganklik is nie.



Wat kan 'n ander taal dus in die stelling "liefde is geduldig" moontlik ontsluit? Kom ons begin met "liefde".



"Liefde" is 'n abstrakte selfstandige naamwoord — 'n woord wat iets ontasbaar beskryf. In Afrikaans (en Koine Grieks, die oorspronklike taal waarin die Nuwe Testament geskryf is) word baie abstrakte selfstandige naamwoorde gebruik met verwysing na woorde soos dood, vryheid, chaos, kennis en demokrasie. Daar is egter sommige tale wat baie minder of selfs geen abstrakte selfstandige naamwoorde bevat nie. 



Abstrakte selfstandige naamwoorde word dikwels gevorm deur die werkwoord na 'n naamwoord te verander, soos in die geval van "liefde". In 'n taal waar geen abstrakte selfstandige naamwoorde voorkom nie, bly "liefde" 'n werkwoord, wat dus twee bykomende stukkies inligting benodig: die persoon wat liefhet en vir wie (of wat) die persoon liefhet.



As jy 'n Bybelvertaler is wat "liefde is geduldig" moet vertaal in 'n taal waar liefde 'n werkwoord is en nie in 'n naamwoord kan verander nie, moet jy dan die noodsaaklike inligting aflei van wie vir wie of wat liefhet. Daar is twee sulke tale, Lamogai, wat in Papoea-Nieu-Guinee gepraat word en Tezoatlán Mixtec, wat in Mexiko gepraat word. Aangesien die oorspronklike Griekse teks nie direkte bewys lewer van die onderwerp en voorwerp (wie vir wie of wat liefhet) nie, moet na die verband gekyk word, dus die inligting wat die betrokke vers omskryf. 



Die Lamogai vertaler, Dave Brunn, het by 1 Korintiërs 13:1-3 besef dat Paulus gedurig na homself verwys ("Al praat ek die tale …" en is "... ek 'n stuk klinkende metaal …" ens.). Dave het dus tot die slotsom gekom, as Paulus homself insluit, dan is "mense" die "wie" wat liefhet. 



John Williams, wat weer na Tezoatlán Mixtec vertaal, verduidelik: "Die vertalingspan het aanvanklik gedink dit kan God wees wat ons liefhet, maar [toe] sien ons ná die stellings dat liefde geduldig en vriendelik is, sê die daaropvolgende stellings weer wat liefde nié is nie" en besef hulle toe dat die negatiewe stellings nie met God verband hou nie. 



Ten opsigte van die voorwerp van die liefde, lyk dit vanselfsprekend dat dit ook "mense" is, verduidelik Dave verder, want: "Wanneer beoefen ons meestal eienskappe soos geduld, vriendelikheid, afguns, verwaandheid en woede? Ons doen dit gewoonlik in ons verhoudings met ander mense."



Jou vertaling moet dus so iets wees: "Die persoon wat mense liefhet, tree geduldig teenoor mense op" of "Wanneer ons ander liefhet, moet ons ook innerlik verduur wat hulle doen."



Probeer dus 1 Korintiërs 13:4-7 weer lees, maar herformuleer die sinne waarin liefde voorkom in persoonlike aksiestellings met jou naam as die onderwerp en mense — dalk spesifieke mense — as die voorwerp. Hoe verander dit jou siening oor die harde werk om lief te hê? Hoe word jou persoonlike "liefde-spier" hierdeur gestrek?


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Every Language: Listening To The Multilingual God

God se kommunikasie met die mensdom was van die begin af vir "elke nasie, stam, volk en taal" bedoel. Alhoewel alle tale ewe doeltreffend in die oordra van die Bybelse boodskap is, het elke taal ook unieke vermoëns om se...

More

Ons wil graag vir United Bible Societies — Global Mission Team vir die verskaffing van hierdie leesplan bedank. Besoek https://tips.translation.bible/ vir meer inligting.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid