Leesplan inligting

Koeke en terteVoorbeeld

Koeke en terte

DAG 7 VAN 7

Papterte


In teenstelling met die swierige en eksieperfeksie Skouterte ontmoet ek ook gereeld die eenvoudiger Papterte. Papterte is die afgeskaalde weergawe van Skouterte. Hulle woon in minder gegoede buurte. Hulle het duidelik ook die begeerte om mooi te lyk en mooi aan te trek, maar hulle moet baie uitdagings en hindernisse op hierdie pad oorkom.


Hulle het selde die nodige geld, geleenthede of ondersteuning om ná skool verder te gaan studeer of nuwe vaardighede te ontwikkel. Daar is te veel monde wat gevoer moet word. Baie van hierdie vroue is enkelbroodwinners, wat vir hulle ouers, hulle werklose man en ’n crèche vol kinders moet sorg.


Hierdie vroue uit ’n laer sosio-ekonomiese klas probeer op ’n shoestring budget steeds by die Skouterte kers vashou, ongelukkig nie altyd met groot sukses nie. Anders as die Skouterte het Papterte nie ’n bodemlose begroting om ’n klereontwerper, haarstilis of ander mode- en skoonheidsdeskundige se raad in te win nie. Hulle word aan hulle eie oordeel en in hulle eie hande oorgelaat. En dit wys.


Papterte blink op ander maniere uit – soos om hulle ou, blink laehals-matriekafskeidrokke op te knap en na die vrouetee te dra. Hierdie rokke is gewoonlik reeds ’n nommer of twee te knap en beklemtoon, dié dele wat ná al die jare eerder verbloem behoort te word.


Ten spyte van hulle moeilike omstandighede lag Papterte graag, ook vir hulleself. Hulle bemoedig ander vroue wat swaartrek. Hulle is dalk arm aan aardse dinge, maar hulle is oop en ontvanklik om geestelik te groei en innerlik verryk te word.


Ek het baie deernis met hierdie vroue. Die kishoue van die lewe het hulle dalk papgeslaan, maar met hulle ou blink rokke en positiewe gesindheid bly hulle steeds hoopvol om die pad uit die donker na die lig te vind.


Baie jare gelede was ek ’n enkelma wat in ’n baie arm voorstad van Johannesburg gewoon het. Ek kon later hierdie hoofstuk in ’n rowwe buurt agter my sit en ’n mooi huis in ’n meer gegoede deel van Johannesburg koop. Dis dan ook hier waar ek die teater-restaurant, Die Blou Hond, geopen het en tien jaar die mede-eienaar daarvan was.


My arm jare het my geslyp om nederig te wees en deernis te hê met vroue wat finansieël swaarkry. Dit het my ook geleer om hard te werk en nie my neus op te trek vir die minder glansryke werk agter die skerms in die kombuis nie. As “baas” van die restaurant het ek gereeld gekook en skottelgoed gewas.


In hierdie finansiële somerseisoen het ek nooit my winter in die arm buurt vergeet nie. Dit het my aangespoor om met ’n dankbare hart te leef en ander te help of te bemagtig om uit die as op te staan.


Ek het geleer dat die Here ons seisoene kan omswaai. As jy jou nou bevind in ’n seisoen van skottelgoedwas, kan jy dit óf as ’n tronk óf as ’n klaskamer beskou. Wanneer jy dit as ’n klaskamer beskou, stel jy jou oop om by die Meester te leer. Dan kan hierdie seisoen baie verrykend wees.


Hou dus goeie moed. En bêre hierdie woorde van Teddy Roosevelt in jou hart: “Do what you can with what you have where you are.”


Stilwordtyd by God vir Papterte


Lees die Bybelgedeeltes hierbo in afsondering en met jou volle aandag deur. Jy is welkom om ook ander Bybelgedeeltes saam met hierdie te lees en oordink. Wanneer jy die gedeeltes klaar aandagtig gelees het, vra jou af:


· Wat het my getref? Bid daaroor.


o Luister dan in stilte en met ’n oop hart na God se aanwysings vir groei in jou lewe. Luister vir antwoorde op moontlike vrae soos:


o Hoe kan ek my bestaande resep verbeter? Wat moet uit? Watter nuwe bestanddele kan in?


o Wat keer dat ek ’n deurbraak beleef?


o Hoe kan ek my hart, teenoor myself én my medemens, prakties verruim?

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Koeke en terte

Vir mense wat vir hulself kan lag. Susan Coetzer takel ernstige onderwerpe soos dat jy as vrou goed genoeg is, jy nie so hard op jouself moet wees nie en jy is genoeg vir God net soos jy is. Sy help jou om jouself en and...

More

Ons wil graag NB Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.luxverbi.co.za

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid