Leesplan inligting

Koeke en terteVoorbeeld

Koeke en terte

DAG 2 VAN 7

Sponskoeke


Hoe identifiseer jy ’n plein, droë sponskoek in ’n saal vol vroue? Dis moeilik, want Sponskoeke het die neiging om ander vroue se eienskappe op te suig soos ’n spons eerder as om hulle uniekheid uit te leef. Gooi karamel oor ’n sponskoek en die sponskoek word ’n karamelkoek. Dieselfde gebeur wanneer jy sjokolade of vla gebruik.


Sponskoeke kruip graag agter ander meer baldadige en uitgesproke vroue weg. Hulle verkies om nie opvallend te wees in ’n groep nie en dra graag kamoefleerpakkies in skakerings van beige of bruin wat hulle maklik met die agtergrond laat saamsmelt. Selfs hulle skoene is gewoonlik beige of bruin en ryg meestal toe met veters, soos skoolskoene.


Hulle haarstyle is deel van die incognito-strategie. Dis prakties en verg min instandhouding en trek min aandag. Kuiwe is wel gewild, want dit steek al eenderde van hulle gesigte weg. Sponskoeke het nooit uitspattig gekleurde of flambojante salonkapsels soos ander in die saal nie.


Hierdie vroue het egter baie pluspunte, en besonder goeie maniere is een daarvan. Hulle is altyd die minste en druk nie soos voorbarige Tipsyterte voor in die ry by die kostafel of die boeketafel in nie. Hulle staan koponderstebo en doodstil heel agter in die ry en wag geduldig hulle beurt af. Wanneer hulle uiteindelik voor my staan, praat hulle so sag en verskonend dat ek my ore regtig moet spits om te kan hoor wat hulle sê.


Sponskoeke glo nie in hulleself nie. Hulle bestaan feitlik net uit vrees, onsekerheid en senuwees. 


Ek gesels graag met ’n Sponskoek wanneer ek ook al die kans kry. “Wat is jou natuurlike passie, talent of gawe?” is een van my beste aanknopingspunte. Gewoonlik staan die Sponsie dan verstom daar met ’n mond vol tande.


Dan sal ’n uitgesproke vriendin dikwels intjip met ’n klip in die bos. “Hierdie vrou is vrot van die talent,” sal die vriendin uitbulder sodat die hele saal dit kan hoor. “Sy kook vyfsteretes vir ’n hele rugbyspan en doen lieflike naaldwerk en blommerangskikkings. Sy het ons tafel so mooi versier. Sy is so beskeie, ek wil haar sommer stamp dat sy kan bykom.”


Herinner hierdie oorbeskeie, skaam vrou, wat haarself gedurig in geselskap as die stert eerder as die kop posisioneer, jou dalk ’n bietjie aan jouself? Sponskoeke glo nie in hulle potensiaal om wenners te wees nie. Maar dit hoef nie so te wees nie. Met ’n paar kopskuiwe en nuwe gewoontes kan die meeste Sponskoeke hulle ware identiteit ontdek en met selfvertroue begin leef. 


My raad aan Sponskoeke is: Wees oop en ontvanklik vir ander se aanbevelings, maar wees ook ’n waaksame hekwagter voor jou welstand. Stel gesonde grense. As jy twyfel oor iemand se raad of invloed, vra God vir meer onderskeidingsvermoë. Maak seker die mense wat jy by jou invloedsfeer inlaat, onderdruk nie jou natuurlike en egte eienskappe en jou unieke persoonlikheid, identiteit en styl nie. Jou missie moet wees om die beste weergawe van jouself te word – nie ’n afskrif van iemand anders nie.


Jou eerste stap en verantwoordelikheid is egter om jou geskenkpakkie oop te maak en jou vermoëns en vaardighede wat die Here vir jou gegee het te ontwikkel. Ontdek en ontwikkel jou unieke kombinasieresep. Dit sal van jou vra om op jou selfbewussyn te fokus in plaas van die groepbewussyn, wat voorheen jou instinktiewe reaksie en gemaksone was.




Stilwordtyd by God vir Sponskoeke


· Lees die Bybelgedeeltes hierbo in afsondering en met jou volle aandag deur. Jy is welkom om ook ander Bybelgedeeltes saam met hierdie te lees en oordink. Wanneer jy die gedeeltes klaar aandagtig gelees het, vra jou af:


o Wat het my getref? Bid daaroor.


o Luister dan in stilte en met ’n oop hart na God se aanwysings vir groei in jou lewe. Luister vir antwoorde op moontlike vrae soos:


o Hoe kan ek my bestaande resep verbeter? Wat moet uit? Watter nuwe bestanddele kan in?


o Wat keer dat ek ’n deurbraak beleef? Hoe kan ek my hart, teenoor myself én my medemens, prakties verruim?

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Koeke en terte

Vir mense wat vir hulself kan lag. Susan Coetzer takel ernstige onderwerpe soos dat jy as vrou goed genoeg is, jy nie so hard op jouself moet wees nie en jy is genoeg vir God net soos jy is. Sy help jou om jouself en and...

More

Ons wil graag NB Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.luxverbi.co.za

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid