Leesplan inligting

Blydskap en goeie nuus deur Nina Smit Voorbeeld

Blydskap en goeie nuus deur Nina Smit

DAG 5 VAN 5

’n Goddelike glans


Jesus se hele lewe staan in die teken van lig. By sy geboorte skyn God se lig oor die velde van Betlehem. Met die verheerliking op die berg is die dissipels vir die eerste keer getuies dat God se heerlikheid uit Jesus straal. 


Die Goddelike glans rondom Jesus dui die teenwoordigheid van God aan: “Die Seun weerkaats God se heerlikheid, en Hy is die presiese ewebeeld van wie God werklik is” (Heb. 1:3 NLV).


Ons, as God se kinders, behoort hierdie heerlikheid in ons eie lewe te weerkaats en ons doen dit deur al hoe meer soos Jesus te word. Hieroor skryf Paulus in 2 Korintiërs 3:18 (NLV): “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here . . . Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ’n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee.”


Die enigste manier hoe jy dit sal regkry om Jesus se heerlikheid in jou eie lewe uit te straal, is om die beheer van jou lewe aan die Heilige Gees oor te gee en Hom te vra om jou elke dag meer soos Jesus te maak.


Met Kersfees dink ons terug aan Johannes se voorspelling dat die ware lig wat elke mens verlig, aan die kom was na die wêreld toe, en dat die duisternis dit nie kon uitdoof nie. As jy dus ooit weer moedeloos wil word dat daar so baie donkerte om jou is, mag jy nou reeds begin uitsien na die hemel. In donker tye in jou eie lewe mag jy vashou aan die belofte dat daar eendag in die hemel geen donkerte meer sal wees nie!


Gebed


Here Jesus, ek loof U dat U bereid was om na die wêreld te kom, sodat ek, omdat ek in U glo, nou vir die res van my lewe in u lig mag leef. Amen.

Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Blydskap en goeie nuus deur Nina Smit

Die gedagtes in hierdie Advent-leesplan sal lesers help om hierdie Kersfees nader aan God te kom. As jy dink aan die wonderbaarlike geboorte van Christus en die voorreg om Hom te ken, sal jou lewe, liefde, hoop en vreugd...

More

Ons wil graag vir Struik Christian Media en Nina Smit bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.cumbooks.co.za/leef-in-sy-lig-grootdruk-hardeband

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid