Leesplan inligting

Blydskap en goeie nuus deur Nina Smit Voorbeeld

Blydskap en goeie nuus deur Nina Smit

DAG 2 VAN 5

Die tyd wat God bepaal het


Wanneer die profeet Jeremia God se toekomsbelofte aan die volk bekendmaak, gaan dit baie sleg met hulle – hulle is in ballingskap weggevoer en baie ver van hul eie land. Tog belowe God dat Hy vir hulle ’n toekoms wil gee, dat Hy ’n verwagting op beter tye by hulle wil laat posvat. 


As jou eie omstandighede op die oomblik baie negatief is, wil God vir jou ook ’n toekomsverwagting daarstel wat vir jou voorspoed sal inhou. Hy beloof dat Hy jou gebede sal beantwoord en sy wil aan jou bekend sal maak. God is immers daarvoor bekend dat Hy elke belofte in sy Woord na die letter uitvoer.


Met Kersfees vier ons fees oor Jesus se geboorte. Hier is daar sprake van spesiale tydsbeplanning. Dit het gebeur op die tyd wat God bepaal het. 


Die Jode het reeds eeue lank uitgesien na die koms van die Messias, tog aanvaar hulle Jesus nie toe Hy wel aarde toe kom nie. God stuur sy Seun sodat óns van sonde verlos kan word; sodat ek en jy ’n kans kan kry om by God uit te kom, om Hom as Vader aan te spreek. 


Die Joodse woord Abba beteken eintlik “liefste Pappa”. In die antieke Joodse literatuur oor gebed, word daar nie eers éénkeer na God as Abba verwys nie. Maar Jesus doen dit in al sy gebede, behalwe wanneer Hy aan die kruis uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46, 1983-vertaling).


Omdat Jesus jou Verlosser is, mag jy God nou as Abba aanspreek; met ander woorde, jy het die ongelooflike voorreg om die heilige Skeppergod jou liefste Pappa te mag noem. Fokus in die Kersmaand opnuut op watter geweldige voorreg dit vir jou inhou: Jý het ’n Pa wat jou liefhet en vir jou sorg, wat sy Naam vir jou gee en vir jou die hemel beloof.


Gebed


Vader God, dankie dat ek U as Pappa mag aanspreek, dat ek seker weet dat U my liefhet, dat U vir my sal sorg en die hemel vir my moontlik maak. Amen. 

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Blydskap en goeie nuus deur Nina Smit

Die gedagtes in hierdie Advent-leesplan sal lesers help om hierdie Kersfees nader aan God te kom. As jy dink aan die wonderbaarlike geboorte van Christus en die voorreg om Hom te ken, sal jou lewe, liefde, hoop en vreugd...

More

Ons wil graag vir Struik Christian Media en Nina Smit bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.cumbooks.co.za/leef-in-sy-lig-grootdruk-hardeband

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid