Leesplan inligting

Uit Die Beek 2020Voorbeeld

Uit Die Beek 2020

DAG 3 VAN 7

Hy is hier

“Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.” (Genesis 28:16)

Jakob vlug in aller yl voor sy broer Esau se wraak. Hy slaap sommer in die oop veld, met ’n klip as kopkussing. En hy droom van ’n leer wat hemel en aarde met mekaar verbind.

Die Here self verskyn aan die dromer en herhaal die beloftes wat Hy destyds aan sy oupa gemaak het: “Ek sal … Ek sal … Ek sal …” En, as finale bevestiging: “Ek sal doen wat Ek jou beloof het.”

Dit is alles bitter vreemd: daardie Stem, daardie woorde. Daardie herhaling, soos vir Abram, “Ek sal … Ek sal …”

Jakob is onthuts: Die Here is hiér, hier waar hy vir sy broer se wraak wegkruip. In hierdie nag, in hierdie stukkie veld. Dit maak hom bang; hy kan nie vir Hóm vlug nie. Soos die latere Psalm 139-digter, vind Jakob uit dat die Here dwarsdeur hom sien. Hy weet alles …

Dalk is dit vrees wat Jakob noop om sy klipkussing aan die Here toe te wy. Dalk doodgewone ontsag. Ag, en straks ook maar ’n goeie skoot opportunisme: “As U, o God, by my is en my beskerm … en vir my kos en klere gee … sal U, Here, my God wees.”

Hoe ook al: Die waarheid is dat die Here, wat dwarsdeur sy bang kinders sien en hul kansvattery ken, by hulle is en by hulle bly. Dat Hy hulle nie onder sy oë laat uitgaan nie, omdat Hy weet tot watter vernietigende én selfvernietigende gedrag hulle in staat is.

Hy vergesel hulle as hulle vlug en waak as hulle slaap. Hy is onafgebroke by dié wat leef van sy “Ek sal”-belofte.

   
 

GEBED: Ook nou, Here, aan die begin van dié onbekende jaar, is U hier. Hier by my.
Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Uit Die Beek 2020

Uit die Beek se tekskeuse vir elke dag is grootliks op die "Revised Common Lectionary" gebaseer. Dit maak hierdie dagboek geskik vir persoonlike stiltetyd, vir huisgodsdiens en vir Bybelstudiegroepe. Mag jy die Here leer...

More

Ons wil graag NB Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.luxverbi.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid