Leesplan inligting

Jy Sê, God SêVoorbeeld

Jy Sê, God Sê

DAG 3 VAN 5

JY SÊ: Ek maak nie kontak met U nie GOD SÊ: Jesus maak die deur vir jou oop 


Jesus is ons enigste deur na God. Maak dit oop, stap in sy genade oor die drumpel en leer die Vader ken. So groei jy al nader aan sy lig, lewe, insig en liefde. 


Niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun. En andersom. Maar ons kry die belofte en uitnodiging: Elkeen aan wie die Seun die Vader wil bekend maak, sal Hom ken. 


Ons weet Hy is getrou en kom altyd sy beloftes na. Vra Jesus om jou in sy Vader se arms te plaas sodat jy baie veilig en baie naby aan Hom kan wees. Leer Hom ken. 


Almal weet mos hoe belangrik die fondament van ’n huis of ’n gebou is. Dis die begin en die einde. 


In Jesus se tyd was die hoeksteen die beginpunt van die fondament. Daarom word Hy die hoeksteen genoem. Hy maak dus alles reguit, oftewel haaks. ’n Stewige fondament keer dat die huis kraak en sorg dat die gebou ná hoeveel jare steeds staan. 


Hoe sterker jou kennis en fondament van God in jou lewe, hoe groter die huis wat jy daarop kan bou. Kyk maar, in Jesus se lewe was daardie fondament vas. Niemand kon dit laat verkrummel nie. 


Hy het geweet wie die Vader is, wat sy wil, roeping en pad was en hoe groot sy liefde vir sy Seun was. Daarom het Hy ’n lewe gehad wat ’n verskil maak, een van vervulling en blydskap. 


As jou fondament vas en gesond is, kan jy ook ’n huis bou wat die storms weerstaan. Maar dan moet jy sewe kernwaarhede van God verstaan. Jy kan dit as sewe prentjies probeer onthou. 


Maak jou oë toe en sien ’n groot vraagteken. Dit sê vir jou: Waar is jy? Wie is jy? Wat gaan aan in jou lewe? In Genesis, toe Adam en Eva klaar gesondig het, vra God: Mens, waar is jy? Dis die begin van alles. Waar is jy nou, waar moet Hy jou ontmoet? 


En hierdie waarheid is: God is beskikbaar en ontmoet jou net waar jy is. 


Kom ek vertel jou ’n storie van iemand wat ek ken. Hy verloor sy kind, en is daarna verskriklik bitter en kwaad vir God. Maar God los hom nie, want Hy is lief vir hom. Die man woon oorsee, en ’n vriend van hom staan skielik en wreed ook ’n kind aan die dood af. En daar, oorsee, kry die man hierdie begeerte in sy hart om met sy vriend te praat. 


Hy is net so ’n rukkie terug in Suid-Afrika en sy eerste afspraak is dan ook met hierdie vriend. Toe sy vriend hom vertel, daar vanuit sy rolstoel in die hospitaalkamer, wie God is, hoe Hy beskikbaar is en hom in sy bitterheid en woede nog steeds ontmoet, breek hierdie man. 


“Ek is nou al jare kwaad vir God,” sê hy, “maar van my oorsese dae af het Hy my nooit gelos nie. Hy staan met sy arms oop en ontmoet my hier, in my bitterheid.” 


Maak weer jou oë toe en sien ’n hartjie. Dit wys jou Hy is liefdevol. Hy is jou Vader en wil ’n verhouding met jou hê. Dit maak nie saak wat in jou lewe gebeur nie. Moenie dat dit bepaal hoe lief Hy jou het, of nie. God is liefde. Punt. 


Sien nou ’n sirkel. Dit sê vir jou Hy is kreatief en roep jou om Hom te volg met jou hele lewe. Dis waaroor die sirkel gaan. Dit gee iets van jou Skepper se grootheid weer. Jy weet mos hoe lyk dit as kinders ’n hand vol klippe vat en dit in die water gooi. Het jy al gesien wat gebeur? Al daardie kringe en kartels van elke klip wat val, skuif oor mekaar en meng en bots. 


Dis God se kreatiwiteit – in jou lewe, daar in die middel van duisende ander lewens, waar almal keuses maak. Jou ouerhuis, huwelik, werk, kultuur, alles wat gebeur, is klippe in die water. 


Hy roep jou om met jou hele lewe na Hom te kom. 


Sien nou ’n pad voor jou uitstrek. Hy is die weg, die waarheid en die lewe. Hy het die wysheid om jou lewe te genees. Waar is die goggas in jou lewe? Wel, Hy kan persoonlik in jou lewe inklim met sy hande, jou genees en jou karakter verander na sy beeld. 


Sien ’n vierkant wat in twee helftes of blokkies verdeel is. Dit het te doen met sy liefde vir die hele wêreld. Hy stuur jou om ook lief te hê. Die blokkie bo is wat Hy met jou persoonlik doen, en die blokkie onder is wat Hy deur jou doen. Hy wil deur jou hierdie wêreld liefhê. 


Sien ’n driehoek. God is drie-enig. Hy nooi jou ook uit om binne-in ’n gemeenskap te leef. As Hy nie alleen gestaan het nie, kan jy tog ook nie alleen wil staan nie. Ons sê so graag: O, ek is nie ’n mens-mens nie. Of, ek is nie ’n kleingroep-mens nie. Ek hou van my eie gedagtes. Al sulke verskonings. Onthou nou, Hy is drie-enig en nooi jou om ook in ’n groep te wees. 


Sien ’n kroon. God is Koning. Hy vra jou hulpbronne om sy koninkryk te laat kom. Alles wat jy het, is tot sy eer. 

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Jy Sê, God Sê

In JY SÊ, GOD SÊ gee Andries Enslin jou ’n helder antwoord en oplossing van God vir elke probleem – groot én klein – in jou lewe. In hierdie 5 dae fokus hy op Jesus, ons verlosser. Hy stel jou fokus in sodat jy duidelik...

More

Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid