Leesplan inligting

Jy Sê, God SêVoorbeeld

Jy Sê, God Sê

DAG 2 VAN 5

JY SÊ: Ek glo, maar daar is soveel vraagtekens GOD SÊ: Bring jou twyfel en “maars” na My 


As jy jou Vader wil ken, sien en beleef, kyk net na sy Seun. Dan sal jy jou prentjie van God regkry wat so dikwels deur die wêreld, sonde en die duiwel skeefgetrek is. 


Hoe lyk jou prentjie van Jesus? 


Hebreërs 1:3 sê: Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God ... 


Kom ons gaan verder, hoe leer jy die Seun ken? Lees Matteus, Markus, Lukas en Johannes – die Evangelies van Jesus, sy woorde en dade. Hoe loop Hy op aarde? Hoe lyk Hy? Hoe tree Hy op? Hoe behandel Hy mense, sonde en siekte? Dan gaan jy ’n baie juiste beeld hê van wie God werklik is. 


Gaan vra ook mense wat Jesus goed ken: Hoe lyk God? Johannes is ’n goeie voorbeeld. Hy was Jesus se lieflingdissipel. Hy het Hom baie goed geken. 


Johannes het saam met Jesus geloop, aan Hom gevat, by Hom gebly. So, as jy Jesus wil ken, gaan kyk wat Johannes sê. Dis eg en eersterangse kennis. Dis nie net hoorsê nie. 


In 1 Johannes 1:5 lig hy hierdie kenmerk uit: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. 


Hoe sal jy God vir iemand verduidelik? Jy sal heel moontlik sê: God is liefde (dis baie belangrik, ja). Hy is genade, wysheid, baie meer. Ons het baie definisies vir Hom, né? 


Maar Johannes se groot verduideliking is: Hy is eenhonderd persent lig, daar is geen spikkeltjie duisternis in Hom nie. 


Weet jy wat doen die duiwel? Hy is doodgelukkig as jy sê: God is liefde, God is lig, God is heilig en alles wat goed en mooi is. Al ding is, hy wil hierdie woordjie vir jou bysit: “maar” ... Want ’n “maar” beteken daar is ’n stukkie twyfel. 


God is lief vir my, maar ek moet ook self werk. Hy is lief vir my, maar ek moet ook in my pasoppens wees. Hy is goed, maar as jy nie jou deel doen nie, gaan Hy ook nie sy deel doen nie. 


Solank die duiwel ’n spikkeltjie twyfel of skaduwee in jou gedagtes kan plant, vertrou jy nie jou Vader nie. 


Nou, Johannes sê vir ons: Ouens, God is volkome Lig. Daar is geen sprake van: Jy moet pasop, daar is ’n kant van Hom wat jy nie ken nie. As jy Hom kwaad maak, is daar moeilikheid. 


’n Ander goeie bron is Jakobus. Baie kenners sê hy was die direkte boetie van Jesus. Hy het in dieselfde huis grootgeword. Dis waarom die boek Jakobus ’n baie strenger Joodse boek is. 


Hy gebruik min of meer dieselfde woorde in Jakobus 1:16-17: Moenie julleself mislei nie, my liewe broers. Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie. 


Dis amper dieselfde beskrywing as Johannes s’n: God is lig. Van Hom kom net goeie dinge en volmaakte gawes. By Hom is daar geen skaduwee van ommekeer nie. 


Die duiwel spesialiseer in skaduwees. As hy dit kan regkry dat jy net ’n bietjie twyfel in God se karakter, sy heiligheid, sy volmaakte en onfeilbare liefde vir jou, het hy gewen. As hy jou net sover kan kry om te sê, “maar” ... 


Hy sal jou los om baie goed oor God te sê en te glo, solank daar net ’n skaduweetjie in jou agterkop val van: Hy straf my. Hy is kwaad vir my. Hy kry my terug. Hy wil my inloop. Hy hou my met ’n vergrootglas dop om te sien waar ek skeeftrap. O, dan’s die duiwel tog te bly. 


Johannes en Jakobus sê: Ouens, ons ken Hom wanneer die maskers af is, soos Hy regtig is. 


Dink maar aan Adam en Eva ... Hierdie skaduwee het daar al begin – toe die oervyand vir Eva by die boom versoek het. Net met twyfel ... Het God regtig dit gesê? Nee, man, dis nie waar nie. Hy’t eintlik dit bedoel en goed geweet dat gaan gebeur. En toe daar ’n mosterdsaadjie van twyfel in Eva se gedagtes val, ontkiem die sondeplant en groei tot ’n boskasie van onkruid. 


Kom ek sê nou vir jou, dis al wat die duiwel probeer. As jy ’n koerant optel, nuus lees, jou oë rig op rykdom of politiek, is dit al wat hy doen: Hy plant skadu- en skadesaadjies. 


Dis wanneer jy begin twyfel: Is God rêrig lig? Is Hy rêrig suiwer? Is Hy rêrig volmaak? Laat sy Naam geheilig word ... Is dit rêrig so, of val daar ’n skaduwee? Is daar ’n “miskien”? 


Dalk het daar seer goed in jou lewe gebeur. Jou gebedsversoek is nie beantwoord nie. En die duiwel sê heeltyd vir jou, sien jy, daar is ’n spikkel duister in Hom. Daar is ’n “maar”, ’n skaduwee in God. 


Glo wat twee eksperts sê wat saam met Jesus gewoon en geleef het. God is Lig en in Hom is daar geen duisternis nie. 

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Jy Sê, God Sê

In JY SÊ, GOD SÊ gee Andries Enslin jou ’n helder antwoord en oplossing van God vir elke probleem – groot én klein – in jou lewe. In hierdie 5 dae fokus hy op Jesus, ons verlosser. Hy stel jou fokus in sodat jy duidelik...

More

Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid