Leesplan inligting

In Alle DingeVoorbeeld

In All Things

DAG 1 VAN 5

Ons Diepste Verlange



Geld, roem, verhoudings en sukses — die dinge wat ons najaag — is eintlik net middele tot 'n doel. Ons diepste verlange is na blydskap. Vrede. Tevredenheid.



Ons hoop dat geld vir ons vrede kan koop of dat verhoudings aan ons vreugde sal bring. Die lewe werk egter nie soos ons dink dit moet nie. Alles hoop om ons op, maar bevredig ons nie. Die hegste verhoudings kan die meeste onrus veroorsaak. So dikwels is hierdie goeie begeertes waarna ons verlang — blydskap, vrede, tevredenheid — net buite ons bereik. 



Ek en jy het albei iets baie groter nodig as wat ons op ons eie kan bymekaarskraap. Ons het iets buite onsself nodig, iets sterker, iets sekerder. Wat is hierdie ding waarna ons soek en wat ons hoop om te kry? Wel, dis nie eintlik 'n ding nie, dit is 'n Persoon. 



Aap uit die mou: dit is Jesus. 



Ek weet dit klink dalk oorvereenvoudig. Te maklik, nè? Tog is daar soveel meer aan Jesus as wat ons besef. Hy is die Skepper, Onderhouer en Bron van elke goeie ding en in sy teenwoordigheid is daar "oorvloedige blydskap" (Psalm 16:11). Hoe beter ons vir Jesus leer ken, hoe meer blydskap, vrede en tevredenheid sal ons hê. Wanneer ons Filippense bestudeer, help dit ons om te verstaan waarom om Hom beter te ken, so 'n groot verskil kan maak. 



Filippense is 'n uitnodiging tot blydskap wat in die gevangenis deur die apostel Paulus geskryf is aan gelowiges in die vroeë kerk wat onder teenstand gely het. Die voortdurende refrein regdeur die brief is: "Verbly julle". 



Sy blydskap was onwrikbaar. Sy vrede was behaal. Sy hoop was oorvloedig. Waar het hy sulke diepe rykdom te midde van sy erge omstandighede gevind? By watter bron het hy gedrink wat hom so ten volle gevul het? Waar het hy die geheim van tevredenheid geleer? 



Kan ek dit ook leer? 



Al hierdie vrae talm in my gedagtes terwyl ek Filippense herhaaldelik lees. Hoe meer ek dit bestudeer, hoe meer besef ek hoe verskillend Paulus se blydskap is van die geluk waarna ek gewoonlik strewe. Ek sit te dikwels my hart op tevergeefse drome en valse skatte, eerder as op die rykdom wat in Christus te vinde is. Wêreldse dinge — die perfekte huis, jou droom beroep, 'n fantastiese vakansie of finansiële sekuriteit — mag dalk kortstondige geluk verskaf, maar skiet herhaaldelik tekort om tevredenheid te bring. Dit is nie verkeerd om enige van hierdie dinge te geniet nie; dit is bloot onvoldoende om blywende tevredenheid te bring. Alte gou is die nuutjie verby. Dit is my hoop en gebed dat ons vroue van blywende vreugde sal word. 



Wat gee jou op hierdie oomblik die meeste blydskap?


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

In All Things

Die brief wat Paulus aan die gemeente in Filippi geskryf het, het oor geslagte heen gereis om vandag ons harte en denke te voed en uit te daag. Hierdie 5-dag leesplan gee jou 'n kykie in die boek Filippense, baie eeue na...

More

Baie dankie aan WaterBrook Multnomah wat hierdie leesplan verskaf het. Vir verdere inligting, besoek: https://waterbrookmultnomah.com/books/561570/in-all-things-by-melissa-b-kruger/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid