MATTEUS 14:22-33

MATTEUS 14:22-33 Die Boodskap (DB)

Na die ete het Jesus vir sy dissipels gesê om solank in die skuit te klim en na die oorkant van die See van Galilea te vaar. Hy het die skare ook na hulle huise toe teruggestuur. Toe almal weg is, het Jesus alleen teen die berg opgeklim om te gaan bid. Daar het Hy tot laat in die nag gebly. Intussen was die dissipels reeds ver uit op die see toe daar ’n storm opsteek. Groot golwe en ’n sterk wind van voor het dit vir hulle baie moeilik gemaak om te roei. Kort voor dagbreek die volgende môre het Jesus besluit om na sy dissipels toe te gaan. Hy het sommer op die water na hulle toe gestap. Toe die dissipels Hom sien, het hulle hulle morsdood geskrik. “’n Spook, ’n spook!” het hulle benoud uitgeroep. Maar Jesus het hulle dadelik gerusgestel: “Bedaar. Dit is Ek! Moenie bang wees nie.” Petrus roep toe: “Here, as dit regtig U is, sê dan vir my om op die water na U toe te stap.” “Waarvoor wag jy? Kom!” het Jesus geantwoord. Petrus het dadelik uitgeklim en op die water na Hom toe begin stap. Maar toe hy sien hoe sterk die wind is, het sy moed hom begeef. Hy het begin sink. Hy roep toe benoud: “Here, red my!” Jesus het sy hand vinnig uitgesteek en hom uit die water opgetrek. “Hoekom is jou geloof so klein? Hoekom hou jy nie aan glo nie?” het Hy verwytend vir Petrus gevra. Hulle het daarna in die skuit geklim en die wind het skielik bedaar. Die dissipels wat in die boot was, het in eerbied voor Jesus neergeval. Hulle het Hom aanbid en gesê: “U is regtig die Seun van God!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid