MATTEUS 14:22-33

MATTEUS 14:22-33 NLV

Dadelik hierna het Jesus sy dissipels gedwing om weer in die skuit te klim en na die oorkant van die see te vaar terwyl Hy die mense intussen huis toe stuur. Daarna het Hy teen die berg uitgeklim om eenkant te gaan bid. Laataand was Hy alleen daar. Ondertussen was die skuit reeds ver van die land af. Met ’n sterk wind teen hulle moes hulle teen woeste golwe veg. Kort voor dagbreek het Jesus op die see na hulle toe aangeloop gekom. Toe die dissipels Hom so op die see sien loop, was hulle verskrik, en hulle het benoud begin skree, want hulle het gedink dis ’n spook. Maar Jesus het dadelik vir hulle gesê: “Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.” Petrus sê toe vir Hom: “Here, as dit regtig U is, laat my dan op die water na U toe kom.” “Kom dan,” het Jesus gesê. Petrus klim toe oor die kant van die skuit en begin op die water na Jesus toe loop. Maar toe hy die hoë golwe rondom hom sien, het hy paniekerig geword en begin sink. Hy skree toe vir Jesus: “Here, red my!” Jesus het onmiddellik sy hand uitgesteek en hom ge-gryp. “Jou geloof is maar bitter klein,” sê Hy vir hom. “Waarom vertrou jy My nie?” En toe hulle in die skuit terugklim, gaan lê die wind. Daarop het die mense in die skuit Hom aanbid. “U is werklik die Seun van God!” het hulle uitgeroep.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid