Matteus 14

14
Koning Herodes maak vir Johannes die Doper dood
(Ook Mark 6:14-29; Luk 9:7-9; 3:19-20)
1Koning Herodes het in daardie tyd oor die provinsie Galilea regeer. Hy het gehoor wat die mense oor Jesus sê. 2Hy sê toe vir sy amptenare: “Hierdie man is Johannes die Doper. Johannes het gesterf, maar hy lewe weer. Daarom doen hy wonderwerke.”
3-4Herodes het voor daardie tyd soldate gestuur om vir Johannes die Doper te vang en te boei en in die tronk toe te sluit. Herodes het dit gedoen omdat Johannes aangehou het om vir hom te sê hy mag nie trou met Herodias, sy broer Filippus se vrou nie. 5Herodes wou toe vir Johannes laat doodmaak, maar hy was bang vir die mense, omdat hulle gedink het Johannes is 'n profeet. 6Op Herodes se verjaarsdag het die dogter van Herodias tussen al die mense gedans. Dit was vir Herodes baie mooi, 7daarom het hy belowe om vir haar enige iets te gee wat sy vra. 8Haar ma het vir haar gesê wat sy moet vra, en daarom het sy gesê: “Bring vir my die kop van Johannes die Doper hier in 'n skottel.”
9Die koning het baie hartseer geword, maar hy het dit vir haar belowe en al die mense wat saam geëet het, het dit gehoor. Daarom het hy gesê sy soldate moet doen wat sy gevra het. 10Hy het soldate gestuur om Johannes die Doper se kop in die tronk af te kap. 11Die soldate het sy kop in 'n skottel gebring en hulle het dit vir die meisie gegee, en sy het dit vir haar ma gegee. 12Die dissipels van Johannes die Doper het gekom en hulle het sy liggaam weggeneem en dit begrawe. Toe het hulle gegaan en vir Jesus vertel wat gebeur het.
Jesus gee vir 5 000 mense kos
(Ook Mark 6:32-44; Luk 9:10-17; Joh 6:1-13)
13Jesus het gehoor wat gebeur het. Hy het toe in 'n boot weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Baie mense het gehoor waar Jesus is en hulle het na Hom toe geloop uit die stede. 14Jesus het uit die boot geklim en Hy het die klomp mense gesien. Hy was baie jammer vir hulle en Hy het die siek mense wat by hulle was, gesond gemaak. 15Toe dit begin donker word, kom die dissipels na Jesus toe en sê vir Hom: “Hierdie plek is ver van 'n stad en dit is al laat. Stuur die klomp mense weg sodat hulle na die dorpies kan gaan en vir hulle kos kan koop om te eet.”
16Maar Jesus het vir hulle gesê: “Nee, hulle moenie weggaan nie, dit is júlle wat vir hulle kos moet gee om te eet.”
17Die dissipels sê toe vir Jesus: “Ons het net vyf brode en twee visse.”
18Jesus het vir hulle gesê: “Bring dit hier vir My.”
19Hy het vir al die mense gesê hulle moet op die gras gaan sit. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het hy die brood in stukke gebreek en Hy het dit vir sy dissipels gegee, en die dissipels het dit vir die mense gegee. 20Almal het genoeg geëet, en hulle het twaalf mandjies vol stukkies kos opgetel wat oorgebly het. 21Daar was baie mense wat geëet het. Die mans was omtrent 5 000. Daar was ook nog vroue en kinders.
Jesus loop op die see
(Ook Mark 6:45-52; Joh 6:16-21)
22Daarna het Jesus vir die dissipels gesê hulle moet dadelik in die boot klim en voor Hom na die ander kant van die see gaan. Hy wou eers vir die mense sê hulle moet huis toe gaan. 23Nadat Jesus al die mense huis toe gestuur het, het Hy alleen teen die berg opgegaan om te bid. Dit het donker geword en Jesus was alleen daar. 24Die boot was toe ver van die land. Die branders het die boot rondgegooi, want die wind het sterk van voor gewaai. 25Vroeg die volgende oggend, voordat dit lig geword het, het Jesus na hulle toe gekom. Hy het op die see geloop. 26Toe sy dissipels Hom op die water sien loop, het hulle baie bang geword en gesê: “Dit is 'n spook!”
Hulle was baie bang, en hulle het hard geskree. 27Jesus het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Toemaar, dit is Ek! Moenie bang wees nie.”
28Petrus sê toe vir Jesus: “Here, as dit U is, sê dan ek moet op die water na U toe loop.”
29Jesus het vir hom gesê: “Kom!”
Petrus het uit die boot geklim, en toe het hy op die water geloop na Jesus toe. 30Maar toe Petrus sien die wind is sterk, het hy bang geword. Hy het begin sink en hy het geskree: “Here, red my!”
31Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en Hy het hom gegryp en vir hom gesê: “Hoekom is jou geloof so min, hoekom het jy begin twyfel?”
32Hulle het in die boot geklim, en die wind het opgehou waai. 33Die mense wat in die boot was, het voor Jesus gekniel en vir Hom gesê: “Waarlik, U is die Seun van God.”
Jesus maak mense gesond by die stad Gennesaret
(Ook Mark 6:53-56; Joh 6:22-25)
34Jesus en die dissipels het na die ander kant van die see gegaan, en by die stad Gennesaret afgeklim van die boot. 35Toe die mense van Gennesaret sien dit is Jesus, het hulle boodskappers gestuur om vir die mense daar naby te vertel dat Jesus daar is. Hulle het al die siek mense na Jesus toe gebring. 36Hulle het vir Jesus gevra of die siek mense aan die soom van sy bo-kleed mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.

Tans Gekies:

Matteus 14: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid