MATTEUS 13:24-30,36-43
MATTEUS 13:24-30 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n man goeie saad in die grond gesaai het. Een nag het sy vyand gekom en gewag totdat al die mense slaap. Toe het hy onkruid tussen die koring gesaai en daarna het hy weggegaan. Die koringplantjies het mooi begin groei en die koring-are het uitgekom. Die werkers kon toe die onkruid ook sien. Hulle gaan toe na die man toe en sê vir hom: ‘Meneer, jy het goeie saad gesaai in die grond. Van waar kom die onkruid?’ Die man het vir hulle gesê: ‘My vyand het die onkruid gesaai.’ Die werkers vra toe vir die man: ‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ Die man het vir hulle gesê: ‘Nee. As julle nou die onkruid uittrek, dan sal julle miskien party van die koringplantjies ook uittrek. Die onkruid en die koring moet saam groei totdat die koring ryp is. Dan sal ons dit afsny. Dan sal ek vir die werkers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit vas en verbrand dit. Maak dan die koring bymekaar en bring dit na my stoorkamer.’ ”
Matteus 13:36-43 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het toe weggegaan van die mense en Hy het huis toe gegaan. Sy dissipels het na Hom toe gekom en hulle het gesê: “Verduidelik asseblief vir ons wat beteken die gelykenis van die onkruid in die koringland.” Jesus het vir hulle gesê: “Die Persoon wat die goeie saad saai, is Ek, die Seun van die mens. Die koringland is die wêreld. Die goeie saad is die goeie mense, God regeer oor hulle. Die onkruid is die slegte mense, die slegte een, die duiwel, regeer oor hulle. Die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die tyd wanneer die koring ryp is en die werkers dit afsny, is die tyd wanneer dit die einde van die wêreld sal wees. Die werkers wat die koring-oes bymekaarmaak, is die engele. Hulle maak die onkruid bymekaar en gooi dit in die vuur. Dit sal dieselfde wees wanneer die einde van die wêreld kom. Die Seun van die mens sal dan sy engele stuur, en hulle sal die sondaars bymekaarmaak en wegvat daar waar God regeer. Hulle sal die mense wegvat wat ander mense verlei het om sonde te doen en die mense wat nie gedoen het wat God se wette sê nie. Die engele sal al daardie sondaars in die vuur gooi. Daar in die vuur sal hulle huil en hulle sal hard op hulle tande byt van pyn. Dan sal die mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here, blink soos die son. Hulle sal daar wees waar hulle Vader Koning is. As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê!”
MATTEUS 13:24-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N ANDER gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n man wat goeie saad in sy land gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook. En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan? En hy antwoord hulle: 'n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak? Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.
MATTHÉÜS 13:36-43 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
NADAT Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand. En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, en die saailand is die wêreld. Die goeie saad — dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele. Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
MATTEUS 13:24-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met 'n man wat goeie saad op sy land gesaai het. Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’ Hy antwoord hulle: ‘Dit is 'n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’ ‘Nee,’ sê hy, ‘as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ”
MATTEUS 13:36-43 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna het Jesus van die mense af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid in die land.” Jesus antwoord: “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose; die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele. “Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son. “Wie ore het, moet luister.”
MATTEUS 13:24-30 Die Boodskap (DB)
“Maar Ek het nog ’n verhaal vir julle. Vergelyk nou hierdie verhaal met ’n geestelike waarheid oor hoe God in die wêreld regeer. “Daar was ’n boer. Hy het skoon saad, sonder enige onkruid tussenin, in sy land gesaai. Daardie nag, terwyl almal slaap, kom sy vyand skelm en saai ’n klomp onkruid tussen sy koring. Hierdie onkruid het baie soos koring gelyk, maar toe die oes kom, was daar nie ’n enkele koringaar aan die plante nie. Die koring en die onkruid het natuurlik lustig saamgegroei. Toe die koringare begin vorm, kom die plaaswerkers die probleem agter. Hulle is toe reguit na die boer toe. ‘Meneer, jy het dan sulke mooi skoon saad gesaai. Hoe is dit moontlik dat die land so vol onkruid staan?’ Die boer sê toe: ‘Wie anders as die vyand sal so iets doen?’ “‘Moet ons die lande gaan skoonmaak?’ wou die werkers weet. ‘Nee,’ sê die boer, ‘netnou trek julle van die koring saam met die onkruid uit. Die onkruid moet nou maar saam met die koring groei tot die koring ryp is. As ons begin oes, sal ons eers die onkruid uithaal en verbrand. Dan kan ons die koring oes en in die skuur bêre.’”
Matteus 13:36-43 Die Boodskap (DB)
Daarna is Jesus en sy getrouste volgelinge alleen huis toe. Daar gekom, vra hulle Hom: “Ons verstaan nie mooi wat U met die verhaal van die onkruid bedoel het nie. Verduidelik dit asseblief vir ons.” Jesus het begin verduidelik: “Die boer wat die skoon saad saai, is die Seun. Die land waarin Hy saai, kan vergelyk word met die wêreld. Die goeie saad is die mense in die wêreld wat God dien. Die onkruid is die mense wat die Bose dien. Die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel self. Die oestyd verwys na die tyd wanneer God die mense finaal kom oordeel. Die mense wat die oes insamel, is die engele van God. “Nou het ons die sleutel om die verhaal te verstaan. Kom ons sit nou alles bymekaar. Ons het gesien dat die onkruid ná die oes eenkant gegooi en verbrand word. Wanneer God mense finaal kom oordeel, gaan hierdie wêreld net so aan ’n einde kom. Die Seun gaan sy engele stuur om te kom oes. Hulle gaan eers al die mense bymekaarmaak wat ander so op die verkeerde pad lei en nie doen wat God wil nie. Vir hierdie mense is daar dan geen uitkoms meer nie, net die vlamme van die hel. Daar sal hulle van pyn krul en om hulp skreeu, maar alles tevergeefs. Die mense wat reg geleef het, sal dan die nuwe wêreld van hulle Vader skitterend versier. “Neem hierdie dinge ernstig op. “Luister mooi na wat Ek sê.”
MATTEUS 13:24-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy het ’n ander gelykenis aan hulle voorgehou met die woorde: “God se koningsheerskappy kan vergelyk word met ’n man wat goeie saad op sy land saai. Maar een nag, terwyl die mense geslaap het, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, verskyn terselfdertyd ook die onkruid. Die slawe van die boer kom toe en sê vir hom: ‘Meneer, u het tog goeie saad op u land gesaai. Waar kom die onkruid dan vandaan?’ “‘Dis ’n vyand se werk!’ het hy uitgeroep. “‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ vra sy slawe hom. “Maar hy antwoord: ‘Nee, dalk trek julle die koring saam uit wanneer julle die onkruid in bondels uittrek. Laat albei saam groei tot oestyd. Dan sal ek vir die mense wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar. Bind dit dan in bondels vas om verbrand te word. Maar bring die koring bymekaar in my skuur.’”
MATTEUS 13:36-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarna het Jesus van die skare af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe na Hom toe en vra: “Verduidelik asseblief vir ons die gelykenis van die onkruid op die saailand.” “Goed,” antwoord Jesus. “Ek, die Seun van die Mens, is die boer wat die goeie saad saai. Die saailand is die wêreld. Die goeie saad is die mense wat aan God se koninkryk behoort. Die onkruid is hulle wat aan die Bose behoort. Die duiwel is die vyand wat die onkruid saai. Die oestyd is die voleinding van die wêreld en dié wat oes, is die engele. “Net soos die onkruid bymekaargemaak word en verbrand word, so sal dit ook wees by die voleinding van die wêreld. “Ek, die Seun van die Mens, sal my engele uitstuur. Hulle sal alles wat sonde veroorsaak en almal wat God se wet oortree uit my koninkryk verwyder en hulle in die brandende oond gooi. Daardie mense sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners. “Dan sal dié wat reg voor God gelewe het, soos die son skitter in die koninkryk van hulle Vader. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.”