Matteus 13:24-30, 36-43

Matteus 13:24-30 DB

“Maar Ek het nog ’n verhaal vir julle. Vergelyk nou hierdie verhaal met ’n geestelike waarheid oor hoe God in die wêreld regeer. “Daar was ’n boer. Hy het skoon saad, sonder enige onkruid tussenin, in sy land gesaai. Daardie nag, terwyl almal slaap, kom sy vyand skelm en saai ’n klomp onkruid tussen sy koring. Hierdie onkruid het baie soos koring gelyk, maar toe die oes kom, was daar nie ’n enkele koringaar aan die plante nie. Die koring en die onkruid het natuurlik lustig saamgegroei. Toe die koringare begin vorm, kom die plaaswerkers die probleem agter. Hulle is toe reguit na die boer toe. ‘Meneer, jy het dan sulke mooi skoon saad gesaai. Hoe is dit moontlik dat die land so vol onkruid staan?’ Die boer sê toe: ‘Wie anders as die vyand sal so iets doen?’ “‘Moet ons die lande gaan skoonmaak?’ wou die werkers weet. ‘Nee,’ sê die boer, ‘netnou trek julle van die koring saam met die onkruid uit. Die onkruid moet nou maar saam met die koring groei tot die koring ryp is. As ons begin oes, sal ons eers die onkruid uithaal en verbrand. Dan kan ons die koring oes en in die skuur bêre.’”

Matteus 13:36-43 DB

Daarna is Jesus en sy getrouste volgelinge alleen huis toe. Daar gekom, vra hulle Hom: “Ons verstaan nie mooi wat U met die verhaal van die onkruid bedoel het nie. Verduidelik dit asseblief vir ons.” Jesus het begin verduidelik: “Die boer wat die skoon saad saai, is die Seun. Die land waarin Hy saai, kan vergelyk word met die wêreld. Die goeie saad is die mense in die wêreld wat God dien. Die onkruid is die mense wat die Bose dien. Die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel self. Die oestyd verwys na die tyd wanneer God die mense finaal kom oordeel. Die mense wat die oes insamel, is die engele van God. “Nou het ons die sleutel om die verhaal te verstaan. Kom ons sit nou alles bymekaar. Ons het gesien dat die onkruid ná die oes eenkant gegooi en verbrand word. Wanneer God mense finaal kom oordeel, gaan hierdie wêreld net so aan ’n einde kom. Die Seun gaan sy engele stuur om te kom oes. Hulle gaan eers al die mense bymekaarmaak wat ander so op die verkeerde pad lei en nie doen wat God wil nie. Vir hierdie mense is daar dan geen uitkoms meer nie, net die vlamme van die hel. Daar sal hulle van pyn krul en om hulp skreeu, maar alles tevergeefs. Die mense wat reg geleef het, sal dan die nuwe wêreld van hulle Vader skitterend versier. “Neem hierdie dinge ernstig op. “Luister mooi na wat Ek sê.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid