Matteus 13:24-30, 36-43

Matteus 13:24-30 ABA

Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n man goeie saad in die grond gesaai het. Een nag het sy vyand gekom en gewag totdat al die mense slaap. Toe het hy onkruid tussen die koring gesaai en daarna het hy weggegaan. Die koringplantjies het mooi begin groei en die koring-are het uitgekom. Die werkers kon toe die onkruid ook sien. Hulle gaan toe na die man toe en sê vir hom: ‘Meneer, jy het goeie saad gesaai in die grond. Van waar kom die onkruid?’ Die man het vir hulle gesê: ‘My vyand het die onkruid gesaai.’ Die werkers vra toe vir die man: ‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ Die man het vir hulle gesê: ‘Nee. As julle nou die onkruid uittrek, dan sal julle miskien party van die koringplantjies ook uittrek. Die onkruid en die koring moet saam groei totdat die koring ryp is. Dan sal ons dit afsny. Dan sal ek vir die werkers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit vas en verbrand dit. Maak dan die koring bymekaar en bring dit na my stoorkamer.’ ”

Matteus 13:36-43 ABA

Jesus het toe weggegaan van die mense en Hy het huis toe gegaan. Sy dissipels het na Hom toe gekom en hulle het gesê: “Verduidelik asseblief vir ons wat beteken die gelykenis van die onkruid in die koringland.” Jesus het vir hulle gesê: “Die Persoon wat die goeie saad saai, is Ek, die Seun van die mens. Die koringland is die wêreld. Die goeie saad is die goeie mense, God regeer oor hulle. Die onkruid is die slegte mense, die slegte een, die duiwel, regeer oor hulle. Die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die tyd wanneer die koring ryp is en die werkers dit afsny, is die tyd wanneer dit die einde van die wêreld sal wees. Die werkers wat die koring-oes bymekaarmaak, is die engele. Hulle maak die onkruid bymekaar en gooi dit in die vuur. Dit sal dieselfde wees wanneer die einde van die wêreld kom. Die Seun van die mens sal dan sy engele stuur, en hulle sal die sondaars bymekaarmaak en wegvat daar waar God regeer. Hulle sal die mense wegvat wat ander mense verlei het om sonde te doen en die mense wat nie gedoen het wat God se wette sê nie. Die engele sal al daardie sondaars in die vuur gooi. Daar in die vuur sal hulle huil en hulle sal hard op hulle tande byt van pyn. Dan sal die mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here, blink soos die son. Hulle sal daar wees waar hulle Vader Koning is. As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid