MATTEUS 13:24-30, 36-43

MATTEUS 13:24-30 NLV

Hy het ’n ander gelykenis aan hulle voorgehou met die woorde: “God se koningsheerskappy kan vergelyk word met ’n man wat goeie saad op sy land saai. Maar een nag, terwyl die mense geslaap het, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, verskyn terselfdertyd ook die onkruid. Die slawe van die boer kom toe en sê vir hom: ‘Meneer, u het tog goeie saad op u land gesaai. Waar kom die onkruid dan vandaan?’ “‘Dis ’n vyand se werk!’ het hy uitgeroep. “‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ vra sy slawe hom. “Maar hy antwoord: ‘Nee, dalk trek julle die koring saam uit wanneer julle die onkruid in bondels uittrek. Laat albei saam groei tot oestyd. Dan sal ek vir die mense wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar. Bind dit dan in bondels vas om verbrand te word. Maar bring die koring bymekaar in my skuur.’”

MATTEUS 13:36-43 NLV

Daarna het Jesus van die skare af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe na Hom toe en vra: “Verduidelik asseblief vir ons die gelykenis van die onkruid op die saailand.” “Goed,” antwoord Jesus. “Ek, die Seun van die Mens, is die boer wat die goeie saad saai. Die saailand is die wêreld. Die goeie saad is die mense wat aan God se koninkryk behoort. Die onkruid is hulle wat aan die Bose behoort. Die duiwel is die vyand wat die onkruid saai. Die oestyd is die voleinding van die wêreld en dié wat oes, is die engele. “Net soos die onkruid bymekaargemaak word en verbrand word, so sal dit ook wees by die voleinding van die wêreld. “Ek, die Seun van die Mens, sal my engele uitstuur. Hulle sal alles wat sonde veroorsaak en almal wat God se wet oortree uit my koninkryk verwyder en hulle in die brandende oond gooi. Daardie mense sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners. “Dan sal dié wat reg voor God gelewe het, soos die son skitter in die koninkryk van hulle Vader. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid