LUKAS 6:20-26

LUKAS 6:20-26 Die Boodskap (DB)

Toe kyk Jesus na sy volgelinge en sê vir hulle: “Julle is gelukkig as julle nou arm is. God sal dan vir julle ’n plek gee in sy nuwe wêreld. “Julle is gelukkig as julle nou honger is. God sal sorg dat julle genoeg kos het om te eet in sy nuwe wêreld. “Julle is gelukkig as julle nou hartseer is. God sal sorg dat julle in sy nuwe wêreld lag en feesvier. “Julle is gelukkig as ander mense julle haat, julle verstoot en julle sleg behandel. As hulle julle beledig en julle goeie naam onder hulle voete vertrap omdat julle my volgelinge is, moet julle baie bly wees. Spring dan op en dans rond van vreugde, want daar wag ’n groot beloning op julle in God se nuwe wêreld. Wanneer mense julle slegsê, is julle in baie goeie geselskap: God se boodskappers is nog altyd so behandel. “Vir al julle rykes wat net agter geld aanhardloop, lê daar groot probleme voor. Julle het julle beloning klaar ontvang. God skuld julle niks meer nie. “Daar wag groot probleme op julle wat julle nou vol eet. In God se nuwe wêreld sal daar nie vir julle plek wees nie. Julle sal buite staan en honger ly. “Daar wag groot probleme op julle wat dink dat die lewe een groot gefuif is. Wanneer God se nuwe wêreld aanbreek, sal julle verskriklik huil, want julle sal moet buite bly. “Daar wag groot probleme op julle wanneer mense heeltyd net mooi dinge oor julle moet sê. Onthou: in die ou dae het die mense ook mooi dinge oor al die vals boodskappers van die Here te sê gehad.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid