Lukas 6

6
Jesus is die Here van die Sabbatdag
(Ook Matt 12:1-4,8; Mark 2:23-26,28)
1Jesus en sy dissipels het op 'n Sabbatdag deur 'n koringland geloop. Die dissipels het van die koring-are gepluk en hulle het die korrels met hulle hande uitgevryf en dit geëet. 2Toe vra party van die Fariseërs: “Hoekom doen julle iets wat 'n mens nie op die Sabbatdag mag doen nie?”
3Jesus het vir hulle gesê: “Het julle gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger was? 4Dawid het in 'n tempel ingegaan en hy het die brood geneem wat net die priesters mag eet. Dawid het dit geëet en hy het ook vir sy manne daarvan gegee.”
5Jesus sê toe vir hulle: “Ek, die Seun van die mens, is die Here wat besluit wat op die Sabbatdag mag gebeur.”
Die man met 'n gebreklike hand
(Ook Matt 12:9-10,12-14; Mark 3:1-6)
6Op 'n ander Sabbatdag het Jesus na die sinagoge gegaan en Hy het vir die mense geleer. Daar was 'n man, sy regter-hand was gebreklik. 7Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het Jesus dopgehou om te kyk of Hy die man op die Sabbatdag gesond sal maak. As Jesus dit doen, dan wou hulle Hom beskuldig dat Hy verkeerd gedoen het. 8Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Hy sê toe vir die man met die gebreklike hand: “Kom staan hier tussen die mense sodat almal jou kan sien.”
Die man het gedoen wat Jesus gesê het. 9Jesus sê toe vir die skrifgeleerdes en die Fariseërs: “Sê vir My, mag 'n mens op die Sabbatdag goed doen of verkeerd doen? Mag 'n mens iemand se lewe red, of mag 'n mens hom doodmaak?”
10Jesus het na al die mense rondom Hom gekyk en Hy het vir die man gesê: “Steek jou hand uit.”
Die man het dit gedoen, en toe was sy hand gesond. 11Die skrifgeleerdes en Fariseërs het baie kwaad geword, hulle was woedend. Hulle het planne gemaak en gedink wat hulle met Jesus kan doen.
Jesus kies twaalf apostels
(Ook Matt 10:1-4; Mark 3:13-19)
12Nie lank daarna nie het Jesus na die berg gegaan om daar te bid. Hy het die hele nag tot God gebid. 13Toe dit dag word, het Hy sy dissipels na Hom toe geroep. Hy het twaalf van hulle gekies en Hy het hulle apostels genoem. 14Hulle name was: Simon, sy ander naam was Petrus, en ook sy broer Andreas, Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus, 15Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die patriot, 16Judas seun van Jakobus, en Judas Iskariot wat later vir Jesus verraai het.
Jesus maak mense gesond
(Ook Matt 4:24-25; Mark 3:7-12)
17Daarna het Jesus saam met die apostels van die berg afgegaan en op 'n gelyk plek gaan staan. Daar was baie van sy dissipels en baie ander mense wat gekom het uit die hele provinsie Judea, en van Jerusalem en van die stede Tirus en Sidon by die see. 18Hulle het almal na Jesus kom luister en hulle wou hê Hy moet hulle gesond maak. Daar was onrein geeste in party mense, en Jesus het daardie mense ook gesond gemaak. 19Almal wou graag aan Jesus raak, want daar het krag uit Hom gekom en die krag het almal gesond gemaak.
Die gelukkige mense en die mense met wie dit sleg sal gaan
(Ook Matt 5:3-12)
20Jesus kyk toe na sy dissipels en Hy sê vir hulle:
Julle wat arm is, is gelukkige mense,
want God is julle Koning.
21Julle wat nou honger is,
is gelukkige mense,
want God sal vir julle
genoeg gee om te eet.
Julle wat nou huil,
is gelukkige mense,
want julle sal lag.
22Julle is gelukkige mense
wanneer die mense julle haat
en wegjaag
en beledig en slegte dinge
van julle sê
omdat julle aan My behoort,
aan My, die Seun van die mens.
23Julle moet bly wees
wanneer dit gebeur,
so bly dat julle rondspring,
want in die hemel sal God
baie goed wees vir julle.
Kan julle onthou wat gebeur het
met die profete?
Die voorouers van die mense
wat vir julle nou haat,
het die profete lank gelede
ook so gehaat.
24Maar God sal dit sleg laat gaan
met julle wat ryk is,
want dit het in hierdie lewe
goed gegaan met julle.
25God sal dit sleg laat gaan
met julle wat nou baie kos het,
want julle sal eendag honger wees.
God sal dit sleg laat gaan
met julle wat nou lag,
want julle sal eendag huil en treur.
26God sal dit sleg laat gaan met julle
wanneer al die mense net
mooi dinge van julle sê,
want hulle voorouers het lank gelede
ook net mooi dinge
van die vals profete gesê.
Die dissipels moet vir hulle vyande lief wees
(Ook Matt 5:39-42; 7:12; 5:43-44,46-48)
27“Ek sê vir julle wat nou na My luister: Julle moet lief wees vir julle vyande. Julle moet goed wees vir die mense wat vir julle haat. 28Julle moet die mense seën wat vir julle vloek. Julle moet bid vir die mense wat vir julle beledig.
29“As iemand jou op jou wang slaan, dan moet jy jou gesig draai sodat hy jou ook op jou ander wang kan slaan. As iemand jou bo-kleed vat, dan moet jy ook jou onderkleed vir hom gee.
30“Jy moet vir elkeen gee wat vir jou iets vra. En as iemand jou goed vat, dan moet jy dit nie terugvra nie.
31“Julle moet aan ander mense doen soos julle graag wil hê hulle moet aan julle doen. 32As julle net lief is vir die mense wat lief is vir júlle, dan doen julle net wat julle moet doen, julle doen niks beter nie. Want die sondaars is ook lief net vir die mense wat lief is vir húlle.
33“As julle goed doen net aan die mense wat goed doen aan julle, dan doen julle net wat julle moet doen, julle doen niks beter nie. Die sondaars doen dieselfde.
34“As julle net vir mense iets leen sodat julle later weer iets by hulle kan kry, dan doen julle net wat julle moet doen, julle doen niks beter nie. Die sondaars leen ook vir mekaar sodat hulle weer iets kan terugkry.
35“Nee, julle moet anders wees. Julle moet lief wees vir julle vyande. Julle moet goed wees vir mense, julle moet vir hulle dinge leen, maar julle moenie hoop om iets terug te kry nie. Dan sal die Here goeie dinge vir julle gee. Julle sal kinders van die Hoogste God wees. Want God is goed vir almal, ook vir die mense wat nie dankbaar is nie en wat sleg is. 36Julle moet jammer wees vir ander mense, soos julle Vader jammer is vir almal.”
Mense moenie altyd sê ander mense doen verkeerd nie
(Ook Matt 7:1-5,16-18; 12:35; Mark 4:24)
37“Julle moenie altyd sê ander mense doen verkeerd en God moet hulle straf nie. As julle dit nie doen nie, dan sal God júlle ook nie straf nie. Ja, julle moenie altyd ander mense wil oordeel nie, dan sal niemand vir julle wil oordeel nie. Julle moet ander mense vergewe, dan sal God julle ook vergewe.
38“Dit moet vir julle maklik wees om vir ander mense iets te gee, want dan sal hulle vir julle ook iets gee. Ja, hulle sal vir julle baie meer gee, want wat julle aan ander mense doen, sal hulle aan julle doen.”
39Jesus het die volgende voorbeelde gebruik om vir hulle nog iets te sê: “'n Blinde mens kan nie 'n ander blinde mens lei nie. Want hulle sal saam in 'n sloot val.
40“'n Dissipel is nie belangriker as die meneer by wie hy leer nie. Maar as hy alles geleer het, dan sal hy wees soos sy meneer. 41Hoekom sien jy die klein stukkie hout in jou broer se oog, maar jy sien nie die groot stuk hout in jou eie oog nie? 42Jy sê vir jou broer: ‘Ek wil daardie stukkie hout uithaal uit jou oog,’ maar jy sien nie die groot stuk hout in jou eie oog nie. As jy dit doen, dan is jy 'n skynheilige mens. Nee, jy moet eers die groot stuk hout uit jou eie oog haal, dan sal jy goed kan sien om die klein stukkie hout uit jou broer se oog te haal.
“'n Mens ken 'n boom wanneer jy sien watter vrugte die boom dra. 43'n Goeie boom dra nie slegte vrugte nie, en 'n slegte boom dra nie goeie vrugte nie. 44Hoe weet 'n mens watter soort boom dit is? Jy kyk na die boom se vrugte. 'n Mens pluk nie vye van 'n doringboom nie. Jy kan ook nie druiwe van 'n doringbos pluk nie. 45Dit is dieselfde by mense: 'n Goeie mens praat en doen goeie dinge omdat hy in sy hart goed is. En 'n slegte mens praat en doen slegte dinge omdat hy in sy hart sleg is. Ja, 'n mens praat oor die baie dinge wat in sy hart is.”
Twee soorte fondamente
(Ook Matt 7:21,24-27)
46“Hoekom sê julle so baie maal Ek is julle Here, maar julle doen nie wat Ek sê nie? 47Ek sal vir julle verduidelik hoe is iemand wat na My toe kom en hoor wat Ek sê en wat dit doen. 48Hy is soos 'n man wat 'n huis gebou het, en hy het die fondament van die huis diep in die grond gegrawe, tot op die rots. Toe kom daar 'n watervloed. Die rivier het vol water geword en die water het tot teen die huis gekom. Maar die rivier kon nie die huis wegspoel nie, want die man het die fondament goed gebou. 49Maar hoe is iemand wat hoor wat Ek sê en dit nie doen nie? Hy is soos 'n man wat sy huis bo-op die grond gebou het. Die huis het nie 'n fondament gehad nie. Toe die rivier vol water word en tot teen die huis kom, het die huis dadelik inmekaar geval. Daar het niks van die huis oorgebly nie.”

Tans Gekies:

Lukas 6: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid