JOSUA 4:4-7
JOSUA 4:4-7 Bybel vir almal (ABA)
Josua het toe die twaalf mans geroep wat hy uit die Israeliete gekies het, een man uit elke stam, en hy het vir hulle gesê: “Julle moet voor die kis van julle God die Here loop na die middel van die Jordaan-rivier, en julle elkeen moet 'n klip optel en op sy skouer sit, een klip vir elke stam van die Israeliete. Die klippe moet vir julle 'n teken wees. Wanneer julle kinders eendag vir julle vra: ‘Wat beteken daardie klippe vir julle?’ dan moet julle vir hulle sê: ‘Toe die verbondskis van die Here deur die Jordaan-rivier gegaan het, het die water opgehou om te vloei. Daardie klippe is daar sodat die Israeliete altyd sal onthou wat gebeur het.’ ”
JOSUA 4:4-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het Josua die twaalf man geroep wat hy uit die kinders van Israel, uit elke stam een man, aangestel het, en Josua het vir hulle gesê: Trek uit voor die ark van die HERE julle God tot binne-in die Jordaan, en tel vir julle 'n klip op, elke man een op sy skouer, volgens die getal van die stamme van die kinders van Israel, sodat dit 'n teken onder julle kan wees. As julle kinders later vra en sê: Wat beteken hierdie klippe vir julle? moet julle vir hulle sê: omdat die water van die Jordaan afgekeer is voor die verbondsark van die HERE by sy deurtog deur die Jordaan — die water van die Jordaan is afgekeer; daarom is hierdie klippe as 'n aandenking vir die kinders van Israel vir altyd.
JOSUA 4:4-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Josua roep toe die twaalf man wat hy uit die Israeliete aangewys het, een uit elke stam, en hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die Here julle God verby tot in die middel van die Jordaan en tel elkeen 'n klip op die skouer, in ooreenstemming met die getal stamme van die Israeliete. Dit moet onder julle as 'n teken dien. Wanneer julle kinders julle eendag vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir u?’ moet julle vir hulle sê die Jordaan se water is voor die verbondsark van die Here afgesny; toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die rivier se water afgesny; daarom is hierdie klippe vir die Israeliete 'n blywende herinnering daaraan.”
JOSUA 4:4-7 Die Boodskap (DB)
Josua roep toe die twaalf wat hy gekies het bymekaar en sê vir hulle: “Loop tot in die middel van die Jordaan, by die ark van die Here verby. Daar moet julle elkeen ’n klip optel en dit op julle skouers uitdra, een klip vir elkeen van die twaalf stamme. Hierdie klippe sal die mense herinner aan wat die Here gedoen het. As julle kinders dan eendag vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir julle?’ kan julle vir hulle vertel dat die water van die Jordaan ophou vloei het toe die verbondsark van die Here daardeur is. En dat hierdie klippe vir die Israeliete ’n permanente herinnering aan hierdie wonderwerk is.”
JOSUA 4:4-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Josua het toe die twaalf mans wat uit elke stam kom, nadergeroep. Hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die HERE julle God verby tot in die middel van die Jordaan. Elkeen moet ’n klip op sy skouer tel sodat daar vir elke stam een is. Ons sal daarmee ’n gedenkteken bou. Julle kinders sal julle in die toekoms vra: ‘Waaraan herinner hierdie klippe julle?’ Julle moet dan vir hulle vertel: ‘Die water van die Jordaan is afgesny toe die ark van die verbond van die HERE deur die Jordaan gegaan het.’ Hierdie klippe sal die Israeliete altyd daaraan herinner.”