Josua 4

4
Die klippe by Gilgal
1Toe al die mense klaar deur die Jordaan-rivier gegaan het, het die Here vir Josua gesê: 2“Julle moet twaalf mans kies uit die volk, julle moet een man kies uit elke stam, 3en julle moet vir hulle sê: ‘Julle moet hier in die middel van die Jordaan-rivier twaalf klippe optel, op die plek waar die priesters gestaan het. Julle moet die klippe saamneem en julle moet die klippe neersit op die plek waar julle vannag gaan slaap.’ ”
4Josua het toe die twaalf mans geroep wat hy uit die Israeliete gekies het, een man uit elke stam, 5en hy het vir hulle gesê: “Julle moet voor die kis van julle God die Here loop na die middel van die Jordaan-rivier, en julle elkeen moet 'n klip optel en op sy skouer sit, een klip vir elke stam van die Israeliete. 6Die klippe moet vir julle 'n teken wees. Wanneer julle kinders eendag vir julle vra: ‘Wat beteken daardie klippe vir julle?’ 7dan moet julle vir hulle sê: ‘Toe die verbondskis van die Here deur die Jordaan-rivier gegaan het, het die water opgehou om te vloei. Daardie klippe is daar sodat die Israeliete altyd sal onthou wat gebeur het.’ ”
8Die Israeliete het gedoen wat Josua gesê het. Hulle het twaalf klippe in die Jordaan-rivier opgetel, een klip vir elke stam van die Israeliete. Hulle het die klippe saamgeneem en hulle het dit neergesit op die plek waar hulle die nag geslaap het. Die Here het vir Josua gesê hulle moet dit doen. 9Josua het twaalf klippe regop gesit in die Jordaan-rivier op die plek waar die priesters gestaan het wat die verbondskis gedra het. Die klippe is nou nog daar. 10Die priesters wat die kis gedra het, het in die Jordaan-rivier bly staan totdat alles gebeur het wat die Here vir Josua gesê het. Josua moes vir die Israeliete alles sê wat Moses vir hom gesê het om te doen. Die Israeliete was haastig, hulle het vinnig oor die rivier gegaan. 11Toe hulle klaar oorgegaan het, het die priesters die verbondskis van die Here ook oorgedra, en hulle het voor die volk geloop. 12Die manne van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het voor die Israeliete oorgegaan. Hulle was gereed om oorlog te maak. 13Daar het omtrent 40 000 manne voor die verbondskis oorgegaan na die Jordaan-vallei naby die stad Jerigo. 14Die Here het daardie dag vir Josua 'n belangrike man laat word. Al die Israeliete het gedink Josua is 'n belangrike man, hulle het hom gerespekteer so lank soos hy gelewe het, soos hulle ook vir Moses gerespekteer het. 15Die Here het vir Josua gesê: 16“Sê vir die priesters hulle moet uitkom uit die Jordaan-rivier.”
17Josua het toe vir die priesters gesê hulle moet uitkom. 18Die priesters wat die verbondskis van die Here gedra het, het uit die Jordaan-rivier gekom, en toe hulle voete aan die kant van die rivier raak, het die water van die rivier weer begin vloei, soos voorheen. Die rivier het oor sy walle gevloei, soos voorheen. 19Die Israeliete het uit die Jordaan-rivier gekom op die tiende dag van die eerste maand, en hulle het hulle tente opgeslaan by die plek Gilgal oos van die stad Jerigo. 20Josua het daardie twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan-rivier geneem het, regop gesit by Gilgal, 21en hy het vir die Israeliete gesê: “Wanneer julle kinders eendag vir hulle pa's vra wat daardie klippe beteken, 22dan moet julle vir die kinders vertel: ‘Israel het op droë grond oor hierdie Jordaan-rivier gegaan.’ 23Die Here het die water van die Jordaan-rivier laat ophou vloei, sodat julle kon oorgaan. Julle God die Here het dit ook gedoen by die Riet-see. Hy het die see laat ophou vloei sodat ons kon deurgaan. 24Die Here het dit gedoen sodat al die volke van die aarde moet weet dat die Here sterk is en sodat julle self julle God die Here altyd sal respekteer en dien.”

Tans Gekies:

Josua 4: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid