JOSUA 4

4
Die gedenktekens by die Jordaan
1Toe almal veilig aan die ander kant van die rivier was, het die Here met Josua gepraat: 2“Kies twaalf mans uit die volk, een uit elke stam 3en sê vir hulle: ‘Kry twaalf klippe uit die middel van die Jordaan van die plek waar die priesters staan. Dra hulle saam met julle en gaan pak hulle op ’n hoop waar julle vannag gaan oorbly.’”
4Josua het toe die twaalf mans wat uit elke stam kom, nadergeroep. 5Hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die Here julle God verby tot in die middel van die Jordaan. Elkeen moet ’n klip op sy skouer tel sodat daar vir elke stam een is. 6Ons sal daarmee ’n gedenkteken bou. Julle kinders sal julle in die toekoms vra: ‘Waaraan herinner hierdie klippe julle?’ 7Julle moet dan vir hulle vertel: ‘Die water van die Jordaan is afgesny toe die ark van die verbond van die Here deur die Jordaan gegaan het.’ Hierdie klippe sal die Israeliete altyd daaraan herinner.”
8Die Israeliete het gemaak soos Josua vir hulle gesê het. Hulle het twaalf klippe vir elkeen van die twaalf stamme uit die middel van die Jordaan uitgedra, soos die Here vir Josua beveel het. Hulle het dit saam met hulle gevat na die plek waar hulle kamp sou opslaan. Hulle het dit daar opmekaargestapel.
9Josua het ook twaalf klippe in die middel van die Jordaan opmekaar laat stapel, daar waar die priesters wat die ark van die verbond gedra het, gestaan het. Daardie klippe is vandag nog daar.
10Die priesters wat die ark van die verbond gedra het, het daar in die middel van die Jordaan bly staan totdat al die Here se opdragte wat Moses vir Josua gegee het, afgehandel was. Die volk het haastig deur die rivier getrek. 11Toe die volk klaar deur was, het die priesters met die ark van die Here deurgetrek. Die volk het vir hulle gestaan en kyk. 12Die gewapende vegters van die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het aan die voorpunt van die Israeliete eerste deur die rivier getrek, soos Moses bepaal het. 13Omtrent 40 000 mans gewapen vir oorlog het deur die rivier gegaan voor die ark van die Here uit na die vlakte van Jerigo.
14Op daardie dag het die Here Josua groot aansien in die oë van al die Israeliete gegee. Hy was sy hele lewe lank net so belangrik vir hulle soos Moses.
15Die Here het vir Josua gesê: 16“Sê vir die priesters wat die ark dra dat hulle uit die Jordaanrivier moet uitkom.”
17Josua het hulle so beveel. 18Die priesters wat die ark van die verbond#4:18 Of die ark van die getuienis. van die Here dra, het uit die Jordaan uitgekom. Toe hulle voete die droë grond van die wal raak, het die rivier se waters weer na sy ou plek begin terugvloei. Dit het weer sy walle begin oorstroom.
19Op die tiende dag van die eerste maand het die volk deur die Jordaan getrek. Hulle het gaan kamp opslaan by Gilgal, oos van Jerigo. 20Hier by Gilgal het Josua die twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan uit saamgebring het, opmekaargestapel. 21Hy het vir die Israeliete gesê: “Wanneer julle kinders in die toekoms vir hulle pa’s vra: ‘Watse klippe is dit hierdie?’ 22moet julle hulle vertel: ‘Israel het hier op droë grond deur die Jordaanrivier getrek. 23Die Here julle God het die water van die Jordaan voor julle laat wegdroog sodat julle daar deur kon gaan, net soos die Here destyds die Rietsee voor ons laat wegdroog het sodat ons daar deur kon trek.’ 24Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kon erken dat die Here groot mag het, en dat julle solank julle lewe die Here julle God moet vereer.”

Tans Gekies:

JOSUA 4: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid