RIGTERS 7:1-8

RIGTERS 7:1-8 Bybel vir almal (ABA)

Gideon en al die manne by hom het vroeg opgestaan en hulle het hulle tente opgeslaan by die stad En-Garod. Die Midianiete se kamp was by die Waarsêer-hoogte in die vallei, noord van Gideon se kamp. Die Here het vir Gideon gesê: “Jy het te veel manne by jou. As ek hulle laat wen teen die Midianiete, dan sal die Israeliete spog en sê hulle het hulleself gered. Daarom, jy moet hulle roep en sê elkeen wat bang voel, kan teruggaan huis toe.” Gideon het die manne bymekaargeroep en hy het dit vir hulle gesê. Toe het 22 000 manne teruggegaan huis toe. Daar het 10 000 manne oorgebly. Die Here het vir Gideon gesê: “Die manne is nog te veel. Laat hulle afgaan na die water, dan sal Ek hulle daar uitsoek. Ek sal vir jou sê wie mag saamgaan met jou en wie nie.” Gideon het toe die manne laat afgaan na die water, en die Here het vir hom gesê: “Party manne sal water skep met hulle hande soos 'n hond water oplek met sy tong. Jy moet hulle apart laat staan, nie by die ander manne wat kniel om water te drink nie.” Daar was 300 manne wat die water met hulle hande opgeskep het. Al die ander manne het gekniel om water te drink. Die Here het vir Gideon gesê: “Ek sal julle red met hierdie 300 manne wat die water met hulle hande geskep het. Ek sal jou laat wen teen die Midianiete. Laat die ander manne teruggaan, elkeen na sy huis.” Gideon het die ander manne laat teruggaan huis toe en hy het die 300 manne by hom laat bly. Hulle het die padkos en ramshorings by hulle gehou. Die kamp van die Midianiete was in die vallei, onderkant die kamp van Gideon.

RIGTERS 7:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAARNA het Jerúbbaäl, dit is Gídeon, en al die manskappe wat by hom was, vroeg klaargemaak, en hulle het laer opgeslaan by die fontein Harod, terwyl die laer van die Midianiete ten noorde van hom was, van die heuwel More af in die dal. Toe sê die HERE vir Gídeon: Die manskappe by jou is te veel vir My om die Midianiete in hulle hand te gee; anders kan Israel hom teen My beroem deur te sê: My eie hand het my verlos. Roep dan nou tog uit voor die ore van die manskappe en sê: Die wat bang is en bewe, kan teruggaan en wegdraai van die gebergte van Gílead af. Toe het daar van die manskappe twee-en-twintigduisend omgedraai, en tienduisend het oorgebly. Daarop sê die HERE vir Gídeon: Die manskappe is nog te veel; bring hulle af na die water, dan sal Ek hulle daar vir jou uitsoek; en van wie Ek aan jou sê: Hierdie een mag met jou saamgaan — dié mag met jou saamgaan; maar elkeen van wie Ek aan jou sê: Hierdie een mag nie met jou saamgaan nie — dié mag nie gaan nie. Hy bring toe die manskappe af na die water; en die HERE sê vir Gídeon: Elkeen wat met sy tong die water oplek soos 'n hond lek, moet jy eenkant laat staan; en elkeen wat op sy knieë vooroor buig om te drink, anderkant. En die aantal van die wat gelek het met hul hand na hul mond toe, was driehonderd man; en al die ander manskappe het op hulle knieë vooroor gebuig om water te drink. Toe sê die HERE vir Gídeon: Deur die driehonderd man wat gelek het, sal Ek julle verlos en die Midianiete in jou hand gee; maar al die ander manskappe kan elkeen na sy woonplek gaan. Daarop neem hulle die padkos van die manskappe en hulle ramshorings in hul hand; en hy het al die manskappe van Israel laat gaan, elkeen na sy tente toe; maar die driehonderd man het hy agtergehou, terwyl die laer van die Midianiete onderkant hom in die laagte was.

RIGTERS 7:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jerubbaäl, dit is Gideon, en al sy manne het vroegmôre klaargemaak en kamp opgeslaan by En-Garod. Die kamp van Midian was noord van Gideon s'n, in die vlakte by Waarsêershoogte. Die Here het vir Gideon gesê: “Ek kan Midian nie oorgee in die mag van soveel manne by jou nie. Israel sal teenoor My spog en sê: ‘Ek het myself gered.’ Jy moet vir die manskappe sê dié wat bewe en bang is, moet omdraai en van Gileadberg af padgee. Al die manskappe moet dit kan hoor.” Twee en twintig duisend man het toe van die leër af padgegee en tien duisend het oorgebly. Toe sê die Here vir Gideon: “Daar is nog te veel. Vat hulle af water toe, en daar sal Ek hulle vir jou sif. As Ek vir jou sê: ‘Hierdie een moet saamgaan’, moet hy met jou saamgaan, maar elkeen van wie Ek vir jou sê: ‘Hierdie een mag nie saamgaan nie’, hy mag nie met jou saamgaan nie.” Toe het Gideon die manne afgevat water toe en daar het die Here vir hom gesê: “Elkeen wat water drink soos 'n hond dit met sy tong oplek, moet jy skei van dié wat kniel om te drink.” Drie honderd het die water met die hand opgeskep. Die res het gekniel om te drink. Toe sê die Here vir Gideon: “Ek sal julle red met die drie honderd man wat die water opgeskep het. Ek sal vir Midian in jou mag oorgee. Die ander moet almal huis toe gaan.” Gideon-hulle het al die kos en die ramshorings gevat en toe het hy die ander almal huis toe gestuur. Hy het net die drie honderd by hom gehou. Die kamp van die Midianiete was teenoor hom in die vlakte.

RIGTERS 7:1-8 Die Boodskap (DB)

Jerubbaäl, dit is nou Gideon, en sy soldate het een oggend vroeg opgestaan en tot by die fontein van Garod getrek, waar hulle kamp opgeslaan het. Die Midianiete se kamp was net noord daarvandaan in die vallei naby die koppie met die naam Moreh. Toe sê die Here vir Gideon: “Jy het te veel soldate by jou. As Ek jou toelaat om met so baie soldate teen die Midianiete te veg, sal die Israeliete later spog dat hulle sterk genoeg was om op hulle eie die oorwinning te behaal. Daarom moet jy vir die manskappe by jou sê: “Dié wat bang en onseker is, moet eerder teruggaan huis toe.” Toe het 22 000 besluit om huis toe te gaan. Daar het net 10  000 soldate oorgebly. Toe sê die Here vir Gideon: “Daar is nog te veel soldate! Vat hulle af na die fontein toe, daar sal Ek hulle vir jou skei. Ek sal vir jou wys wie moet saamgaan en wie moet bly.” Gideon is toe met sy soldate af fontein toe. Toe hulle daar kom, sê die Here vir hom: “Deel die soldate in twee groepe. Maak ’n eerste groep uit al die soldate wat soos ’n hond water drink deur dit met die tong uit hulle hande op lek. Maak ook ’n tweede groep van al die soldate wat op hulle knieë gaan staan en water drink.” Drie honderd soldate het die water met hulle hande uitgeskep en so gedrink. Die res van hulle het op hulle knieë gaan staan om te drink. Toe sê die Here vir Gideon: “Met hierdie 300 soldate wat die water met hulle hande opgeskep het om te drink gaan Ek jou help en die Midianiete verslaan. Stuur die res van die manne huis toe.” Gideon het al die kos, trompette en ander nodige middels by hierdie soldate gevat en hulle toe huis toe gestuur. Uiteindelik was dit net hy en die 300 ander soldate wat oorgebly het. Die Midianiete se kamp was in die vallei net onder hulle.

RIGTERS 7:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jerubbaäl, dit is nou Gideon, en al sy manskappe by hom is vroeg die oggend op, en het gaan kamp opslaan by En-Garod. Die Midianiete se kamp was op die vlakte naby die Moré-koppie, noord van hulle. Toe sê die HERE vir Gideon: “Jy het te veel soldate by jou. As Ek die Midianiete met soveel manskappe aan jou oorgee, sal die Israeliete teenoor My beweer dat hulle hulleself met hulle eie mag bevry het. Sê vir die manskappe elkeen wat bang is om te gaan veg, mag van die Gileadberg af wegdraai en teruggaan huis toe.” Toe het 22 000 man teruggegaan. Daar het 10 000 oorgebly. Toe sê die HERE vir Gideon: “Hulle is nog steeds te veel. Vat hulle af na die water toe. Ek sal daar vir jou uitsoek watter saam met jou moet gaan en watter nie.” Gideon is toe met die manskappe af na die water toe. Daar het die HERE vir hom gesê: “Sit dié wat die water uit hulle hand soos ’n hond met hulle tonge opslurp, eenkant. Skei hulle van dié wat op hulle knieë gaan om die water te drink.” Daar was 300 wat die water met hulle hand geskep het om te drink. Al die ander het afgebuk om te drink. Toe sê die HERE vir Gideon: “Ek sal julle met hierdie 300 man wat die water uit hulle hand gedrink het, bevry. Ek sal Midian aan jou onderwerp. Al die ander manskappe kan teruggaan na hulle huise toe.” Gideon het hulle proviand en die ramshorings wat hulle by hulle gehad het, gevat en hulle teruggestuur. Hy het net die 300 by hom oorgehou. Die Midianitiese kamp was onder op die vlakte.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid