RIGTERS 7:1-8

RIGTERS 7:1-8 AFR83

Jerubbaäl, dit is Gideon, en al sy manne het vroegmôre klaargemaak en kamp opgeslaan by En-Garod. Die kamp van Midian was noord van Gideon s'n, in die vlakte by Waarsêershoogte. Die Here het vir Gideon gesê: “Ek kan Midian nie oorgee in die mag van soveel manne by jou nie. Israel sal teenoor My spog en sê: ‘Ek het myself gered.’ Jy moet vir die manskappe sê dié wat bewe en bang is, moet omdraai en van Gileadberg af padgee. Al die manskappe moet dit kan hoor.” Twee en twintig duisend man het toe van die leër af padgegee en tien duisend het oorgebly. Toe sê die Here vir Gideon: “Daar is nog te veel. Vat hulle af water toe, en daar sal Ek hulle vir jou sif. As Ek vir jou sê: ‘Hierdie een moet saamgaan’, moet hy met jou saamgaan, maar elkeen van wie Ek vir jou sê: ‘Hierdie een mag nie saamgaan nie’, hy mag nie met jou saamgaan nie.” Toe het Gideon die manne afgevat water toe en daar het die Here vir hom gesê: “Elkeen wat water drink soos 'n hond dit met sy tong oplek, moet jy skei van dié wat kniel om te drink.” Drie honderd het die water met die hand opgeskep. Die res het gekniel om te drink. Toe sê die Here vir Gideon: “Ek sal julle red met die drie honderd man wat die water opgeskep het. Ek sal vir Midian in jou mag oorgee. Die ander moet almal huis toe gaan.” Gideon-hulle het al die kos en die ramshorings gevat en toe het hy die ander almal huis toe gestuur. Hy het net die drie honderd by hom gehou. Die kamp van die Midianiete was teenoor hom in die vlakte.

Gratis leesplanne en oordenkings oor RIGTERS 7:1-8

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid