Rigters 7:1-8

Rigters 7:1-8 ABA

Gideon en al die manne by hom het vroeg opgestaan en hulle het hulle tente opgeslaan by die stad En-Garod. Die Midianiete se kamp was by die Waarsêer-hoogte in die vallei, noord van Gideon se kamp. Die Here het vir Gideon gesê: “Jy het te veel manne by jou. As ek hulle laat wen teen die Midianiete, dan sal die Israeliete spog en sê hulle het hulleself gered. Daarom, jy moet hulle roep en sê elkeen wat bang voel, kan teruggaan huis toe.” Gideon het die manne bymekaargeroep en hy het dit vir hulle gesê. Toe het 22 000 manne teruggegaan huis toe. Daar het 10 000 manne oorgebly. Die Here het vir Gideon gesê: “Die manne is nog te veel. Laat hulle afgaan na die water, dan sal Ek hulle daar uitsoek. Ek sal vir jou sê wie mag saamgaan met jou en wie nie.” Gideon het toe die manne laat afgaan na die water, en die Here het vir hom gesê: “Party manne sal water skep met hulle hande soos 'n hond water oplek met sy tong. Jy moet hulle apart laat staan, nie by die ander manne wat kniel om water te drink nie.” Daar was 300 manne wat die water met hulle hande opgeskep het. Al die ander manne het gekniel om water te drink. Die Here het vir Gideon gesê: “Ek sal julle red met hierdie 300 manne wat die water met hulle hande geskep het. Ek sal jou laat wen teen die Midianiete. Laat die ander manne teruggaan, elkeen na sy huis.” Gideon het die ander manne laat teruggaan huis toe en hy het die 300 manne by hom laat bly. Hulle het die padkos en ramshorings by hulle gehou. Die kamp van die Midianiete was in die vallei, onderkant die kamp van Gideon.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Rigters 7:1-8

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid