RIGTERS 7:1-8

RIGTERS 7:1-8 AFR53

DAARNA het Jerúbbaäl, dit is Gídeon, en al die manskappe wat by hom was, vroeg klaargemaak, en hulle het laer opgeslaan by die fontein Harod, terwyl die laer van die Midianiete ten noorde van hom was, van die heuwel More af in die dal. Toe sê die HERE vir Gídeon: Die manskappe by jou is te veel vir My om die Midianiete in hulle hand te gee; anders kan Israel hom teen My beroem deur te sê: My eie hand het my verlos. Roep dan nou tog uit voor die ore van die manskappe en sê: Die wat bang is en bewe, kan teruggaan en wegdraai van die gebergte van Gílead af. Toe het daar van die manskappe twee-en-twintigduisend omgedraai, en tienduisend het oorgebly. Daarop sê die HERE vir Gídeon: Die manskappe is nog te veel; bring hulle af na die water, dan sal Ek hulle daar vir jou uitsoek; en van wie Ek aan jou sê: Hierdie een mag met jou saamgaan — dié mag met jou saamgaan; maar elkeen van wie Ek aan jou sê: Hierdie een mag nie met jou saamgaan nie — dié mag nie gaan nie. Hy bring toe die manskappe af na die water; en die HERE sê vir Gídeon: Elkeen wat met sy tong die water oplek soos 'n hond lek, moet jy eenkant laat staan; en elkeen wat op sy knieë vooroor buig om te drink, anderkant. En die aantal van die wat gelek het met hul hand na hul mond toe, was driehonderd man; en al die ander manskappe het op hulle knieë vooroor gebuig om water te drink. Toe sê die HERE vir Gídeon: Deur die driehonderd man wat gelek het, sal Ek julle verlos en die Midianiete in jou hand gee; maar al die ander manskappe kan elkeen na sy woonplek gaan. Daarop neem hulle die padkos van die manskappe en hulle ramshorings in hul hand; en hy het al die manskappe van Israel laat gaan, elkeen na sy tente toe; maar die driehonderd man het hy agtergehou, terwyl die laer van die Midianiete onderkant hom in die laagte was.

Gratis leesplanne en oordenkings oor RIGTERS 7:1-8

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid