Markus 14:12-26

Markus 14:12-26 AFR20

Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, wanneer hulle gewoonlik die Pasgalam geslag het, het Jesus se dissipels vir Hom gesê: “Waar wil U hê moet ons gaan voorbereidings tref sodat U die Pasga kan eet?” Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan in die stad in, en 'n man wat 'n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom. En waar hy ook al mag ingaan, sê vir die eienaar van die huis, ‘Die Leermeester vra: Waar is my gastekamer waar Ek die Pasga saam met my dissipels moet eet?’ Hy sal vir julle 'n groot bokamer wys wat reeds ingerig en gereed gemaak is. Tref daar vir ons voorbereidings.” Die dissipels het vertrek en die stad ingegaan. Hulle het dit net so aangetref soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die Pasga voorberei. Teen die aand kom Jesus toe met die twaalf. Hulle het vir ete aangeleun, en terwyl hulle eet, het Jesus gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.” Hulle het bedroef geword en Hom een vir een gevra: “Tog seker nie ek nie?” Hy het vir hulle gesê: “Dit is een van die twaalf, die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek. Die •Seun van die Mens gaan wel heen, soos daar oor Hom geskryf staan, maar wee daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.” Terwyl hulle eet, het Hy brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit en gee dit vir hulle en sê: “Neem, dit is my liggaam.” Toe het Hy die beker geneem, gedank, dit vir hulle gegee, en hulle almal het daaruit gedrink. Hy het vir hulle gesê: “Dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word. •Amen, Ek sê vir julle: Ek sal beslis nie meer van die vrug van die druiwestok drink, tot daardie dag wanneer Ek dit nuut in die •koninkryk van God sal drink nie.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle na die Olyfberg vertrek.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid