Markus 14

14
Sameswering teen Jesus
(Matt 26:1-5; Luk 22:1-2; Joh 11:45-53)
1Die Pasga en die Fees van die Ongesuurde Brood sou twee dae later plaasvind. Die leierpriesters en skrifkenners het 'n manier gesoek om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. 2Hulle het gesê: “Nie tydens die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk ontstaan nie.”
Salwing in Betanië
(Matt 26:6-13; Joh 12:1-8)
3 Terwyl Hy in Betanië in die huis van Simon die Melaatse vir ete aangeleun het, het daar 'n vrou met 'n albasterfles egte, baie duur nardusolie gekom, die albasterfles gebreek en die nardusolie oor sy kop uitgegiet. 4Sommige het verontwaardig onder mekaar gesê: “Waarom het hierdie verkwisting van die kosbare reukolie plaasgevind? 5Hierdie olie kon vir meer as driehonderd denarius verkoop word, en dit kon aan die armes gegee word.” En hulle het teen haar uitgevaar. 6Jesus het egter gesê: “Laat haar begaan! Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. 7Die armes het julle tog altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle hulle help; maar vir My het julle nie altyd by julle nie. 8Wat sy kon doen, het sy gedoen. Sy het vooruit my liggaam gesalf met die oog op my begrafnis. 9•Amen, Ek sê vir julle: Oral in die hele wêreld waar die evangelie ook al verkondig word, sal daar, ter herinnering aan haar, vertel word van wat sy gedoen het.”
Judas se plan vir verraad
(Matt 26:14-16; Luk 22:3-6)
10Judas Iskariot, een van die twaalf, het na die leierpriesters gegaan met die doel om Hom aan hulle oor te lewer. 11Hulle was bly toe hulle dit hoor, en het beloof om vir hom geld te gee. Daarop het hy na 'n manier gesoek om Hom op 'n gepaste geleentheid oor te lewer.
Pasga
(Matt 26:17-25; Luk 22:7-14,21-23; Joh 13:21-30)
12Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, wanneer hulle gewoonlik die Pasgalam geslag het, het Jesus se dissipels vir Hom gesê: “Waar wil U hê moet ons gaan voorbereidings tref sodat U die Pasga kan eet?” 13Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan in die stad in, en 'n man wat 'n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom. 14En waar hy ook al mag ingaan, sê vir die eienaar van die huis, ‘Die Leermeester vra: Waar is my gastekamer waar Ek die Pasga saam met my dissipels moet eet?’ 15Hy sal vir julle 'n groot bokamer wys wat reeds ingerig en gereed gemaak is. Tref daar vir ons voorbereidings.” 16Die dissipels het vertrek en die stad ingegaan. Hulle het dit net so aangetref soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die Pasga voorberei.
17Teen die aand kom Jesus toe met die twaalf. 18Hulle het vir ete aangeleun, en terwyl hulle eet, het Jesus gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.” 19Hulle het bedroef geword en Hom een vir een gevra: “Tog seker nie ek nie?” 20Hy het vir hulle gesê: “Dit is een van die twaalf, die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek. 21Die •Seun van die Mens gaan wel heen, soos daar oor Hom geskryf staan, maar wee daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.”
Instelling van die Nagmaal
(Matt 26:26-30; Luk 22:15-20; 1 Kor 11:23-25)
22Terwyl hulle eet, het Hy brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit en gee dit vir hulle en sê: “Neem, dit is my liggaam.” 23Toe het Hy die beker geneem, gedank, dit vir hulle gegee, en hulle almal het daaruit gedrink. 24Hy het vir hulle gesê: “Dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word. 25 •Amen, Ek sê vir julle: Ek sal beslis nie meer van die vrug van die druiwestok drink, tot daardie dag wanneer Ek dit nuut in die •koninkryk van God sal drink nie.” 26Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle na die Olyfberg vertrek.
Waarskuwing aan Petrus
(Matt 26:31-35; Luk 22:31-34; Joh 13:36-38)
27Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal afvallig raak, want daar staan geskryf:
“ ‘Ek sal die herder neervel,
en die skape sal uitmekaar
gejaag word.’
28 “Maar nadat Ek opgewek is, sal Ek voor julle uit gaan na Galilea.” 29•Petrus sê daarop vir Hom: “Selfs al sal almal struikel, ek sal nie.” 30Jesus antwoord hom: “•Amen, Ek sê vir jou: Jy sal vandag, vannag nog, voor die haan twee maal kraai, My drie maal verloën.” 31Maar Petrus het uitdruklik gesê: “Selfs al moet ek saam met U sterf, ek sal U beslis nie verloën nie!” Almal het dieselfde gesê.
Jesus in Getsemane
(Matt 26:36-46; Luk 22:39-46)
32Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Bly hier sit totdat Ek klaar gebid het.” 33Hy neem toe vir •Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het erg ontsteld en beangs begin word, 34en sê toe vir hulle: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak.” 35Hy het 'n entjie verder gegaan, op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik is, die uur by Hom moet verbygaan. 36Hy het gesmeek: “Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik. Neem hierdie beker van My af weg – nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil. ” 37Hy kom en vind hulle toe aan die slaap, en sê vir Petrus: “Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur lank te waak nie? 38Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” 39Hy het weer gaan bid en dieselfde woorde gesê. 40Toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë het swaar geword. Hulle het nie geweet wat om Hom te antwoord nie. 41Hy kom toe 'n derde keer en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog steeds? Genoeg! Die uur het gekom. Kyk, die •Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer. 42Staan op, laat ons gaan! Kyk, die een wat My verraai, is naby!”
Jesus gevange geneem
(Matt 26:47-56; Luk 22:47-53; Joh 18:3-12)
43En dadelik, terwyl Jesus nog praat, daag Judas, een van die twaalf, daar op. En saam met hom was daar 'n menigte, met swaarde en knuppels, gestuur deur die leierpriesters, skrifkenners en familiehoofde. 44Sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg onder bewaking.” 45Toe Judas daar aankom, het hy dadelik na Jesus gegaan en gesê, “Rabbi”, en Hom gesoen. 46Hulle het Hom gegryp en Hom gevange geneem. 47Een van dié wat naby gestaan het, het sy swaard getrek, die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. 48Jesus sê toe vir hulle: “Het julle soos teen 'n rower met swaarde en knuppels uitgetrek om My gevange te neem? 49Dag ná dag was Ek by julle op die tempelterrein besig om onderrig te gee, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar laat die Skrifte vervul word!” 50 Almal het Hom in die steek gelaat en weggevlug. 51Ook 'n sekere jong man met net 'n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg. Hulle het hom ook gegryp, 52maar hy het die linnedoek laat los en nakend weggevlug.
Jesus voor die Sanhedrin
(Matt 26:57-68; Luk 22:54-55,63-71; Joh 18:13-14,19-24)
53Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester, en al die leierpriesters, familiehoofde en skrifkenners het daar saamgekom. 54•Petrus het Hom op 'n afstand gevolg tot in die voorhof van die hoëpriester. Hy het saam met die dienspersoneel gesit en hom by die vuur warm gemaak.
55Die leierpriesters en die hele Sanhedrin het getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak. Hulle kon egter niks vind nie. 56Baie het vals teen Hom getuig, en die getuienisse het nie met mekaar ooreengestem nie. 57Sommige het toe opgestaan en valse getuienis teen Hom afgelê deur te sê: 58“Ons het Hom hoor sê, ‘Ek sal hierdie •tempel, wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae 'n ander bou, wat nie met hande gemaak is nie.’ ” 59Maar ook hieroor was hulle getuienis nie eenders nie. 60Die hoëpriester staan toe in hulle midde op en vra vir Jesus: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” 61Maar Hy het stilgebly en niks geantwoord nie. Die hoëpriester vra Hom toe weer: “Is jy die Christus, die Seun van die Lofwaardige?” 62Jesus antwoord: “Ek is! En
“julle sal die •Seun van die Mens
sien sit aan die regterhand van die Magtige,
en sien kom met die wolke van die hemel.”
63Die hoëpriester skeur toe sy klere en sê: “Waarom het ons nog getuies nodig? 64 Julle het die godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle almal het geoordeel dat Hy die dood verdien. 65Sommige het begin om op Hom te spoeg, Hom geblinddoek en Hom met die vuis geslaan, en vir Hom gesê: “Profeteer!” Ook die dienaars het Hom klappe gegee.
Verloëning deur Petrus
(Matt 26:69-75; Luk 22:54-62; Joh 18:15-18,25-27)
66Terwyl •Petrus onder in die binnehof was, kom een van die diensmeisies van die hoëpriester, 67en toe sy vir Petrus sien, besig om homself warm te maak, kyk sy na hom en sê: “Ook jy was saam met Jesus, die Nasarener.” 68Hy het dit ontken deur te sê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie en verstaan ook nie wat jy sê nie.” Hy het buitentoe gegaan na die voorhof toe, en 'n haan het gekraai. 69Toe die diensmeisie hom sien, het sy vir die mense wat daar naby gestaan het, weer begin sê: “Hierdie man is een van hulle.” 70En weer het hy dit ontken. Ná 'n kort rukkie het die mense wat daar naby gestaan het, weer vir Petrus gesê: “Sowaar, jy is een van hulle, want jy is ook 'n Galileër.” 71Hy begin toe vloek, en sweer: “Ek ken nie hierdie man van wie julle praat nie!” 72En onmiddellik het 'n haan 'n tweede keer gekraai. Toe het Petrus die woorde onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat 'n haan twee maal kraai, sal jy My drie keer verloën.” En hy het bitterlik gehuil.

Tans Gekies:

Markus 14: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid