MARKUS 14:12-26

MARKUS 14:12-26 Bybel vir almal (ABA)

Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, toe die mense die paaslam moes slag, het Jesus se dissipels vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons gaan gereedmaak sodat U die Paas-ete kan eet?” Jesus het twee van sy dissipels gestuur en vir hulle gesê: “Gaan in Jerusalem in. 'n Man wat water in 'n kruik dra, sal na julle toe kom. Gaan saam met hom. Hy sal in 'n huis ingaan, en julle moet vir die eienaar van daardie huis sê: ‘Ons Meneer vra waar is die kamer waar Hy die Paas-ete saam met sy dissipels kan eet.’ Die eienaar sal vir julle 'n groot kamer op die dak van sy huis wys. Alles wat nodig is vir die ete, is daar. Julle moet alles gereedmaak vir die Paas-ete sodat ons daar kan eet.” Die dissipels het gegaan en hulle het in Jerusalem gekom. Hulle het alles gekry soos Jesus vir hulle gesê het en hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete. Toe dit aand geword het, het Jesus en die ander dissipels daar aangekom. Hulle het by die tafel gesit en hulle was besig om te eet. Toe het Jesus gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Een van julle sal My verraai. Hy eet nou saam met My.” Die dissipels het baie hartseer geword. Elke dissipel het vir Jesus gevra: “Is dit ek?” Jesus het vir hulle gesê: “Dit is een van julle twaalf dissipels, die een wat sy brood saam met My in die sous druk. Ek, die Seun van die mens, sal sterf soos die profete oor My geskryf het. Maar daardie man wat My verraai, sal baie swaar kry. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Terwyl hulle geëet het, het Jesus brood geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee. Hy het gesê: “Neem die brood, dit is my liggaam.” Jesus het ook 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Toe gee Hy dit vir sy dissipels, en hulle het almal daarvan gedrink. Jesus sê toe vir hulle: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed wat vir baie mense sal vloei, is die bloed van die verbond. Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek sal nie weer wyn drink nie tot daardie dag wanneer Ek nuwe wyn sal drink by God wat Koning is.” Jesus en sy dissipels het 'n lied gesing en die Here geprys, en hulle het uitgegaan na die Olyf-berg.

MARKUS 14:12-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN op die eerste dag van die ongesuurde brode, wanneer hulle gewoonlik die pasga geslag het, sê sy dissipels vir Hom: Waar wil U hê moet ons gaan klaarmaak, dat U die pasga kan eet? En Hy stuur twee van sy dissipels en sê vir hulle: Gaan na die stad toe; en 'n man wat 'n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom, en waar hy ook mag ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: Die Meester laat weet: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die pasga kan eet? En hy sal julle 'n groot bovertrek wys, in gereedheid gebring. Daar moet julle vir ons klaarmaak. En sy dissipels het gegaan en in die stad gekom en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die pasga toeberei. En toe dit aand geword het, kom Hy met die twaalf. En terwyl hulle aan tafel was en eet, sê Jesus: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet. Toe het hulle begin om bedroef te word en een vir een aan Hom te sê: Is dit miskien Ek? En 'n ander een: Is dit miskien ek? En Hy antwoord en sê vir hulle: Dit is een van die twaalf wat saam met My sy hand in die skottel insteek. Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is; maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie. En terwyl hulle eet, neem Jesus brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. En Hy sê vir hulle: Dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word. Voorwaar Ek sê vir julle, Ek sal nooit meer van die vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit nuut sal drink in die koninkryk van God. En toe hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.

MARKUS 14:12-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood, die dag waarop die Jode altyd die paaslammers geslag het, vra Jesus se dissipels vir Hom: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?” Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan na die stad toe. Daar sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom en waar hy ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: ‘Ons Leermeester vra: Waar is my kamer waar Ek die paasmaaltyd saam met my dissipels kan eet?’ Hy sal julle dan 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle vir ons die paasmaaltyd voorberei.” Die dissipels het toe gegaan en in die stad gekom en alles gekry soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die paasmaaltyd voorberei. Die aand kom Jesus toe met die twaalf daar aan. Terwyl hulle sit en eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.” Hulle was onthuts, en een na die ander het Hom gevra: “Dis tog nie ek nie?” Hy sê toe vir hulle: “Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek. Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: “Neem dit, dit is my liggaam.” Toe neem Hy 'n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. Hy sê vir hulle: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word. Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

MARKUS 14:12-26 Die Boodskap (DB)

Op die eerste dag van die fees waarop hulle teruggedink het aan die ongesuurde brood wat Israel in Egipte moes eet, is die lam vir die paasfees ook geslag. Juis toe vra Jesus se volgelinge Hom: “Waar moet ons vir ons die paasete gaan regmaak?” Jesus stuur toe twee van sy volgelinge: “Gaan Jerusalem toe. Daar sal julle ’n man kry wat ’n emmer water dra. Loop agter hom aan tot hy by ’n huis ingaan. Sê dan vir die man aan wie die huis behoort: ‘Jesus, wat die mense so van God vertel, vra waar die kamer is waar Hy en sy volgelinge die paasete kan eet.’ Hy sal julle na ’n groot kamer op die boonste verdieping van die huis vat. Alles sal klaar regstaan. Daar moet julle die kos vir die ete begin voorberei.” Die twee volgelinge is toe daar weg en in Jerusalem het hulle alles net so gekry soos Jesus gesê het. Hulle het toe die kos vir die paasfees begin regmaak. Teen die aand se kant het Jesus met sy ander volgelinge ook daar aangekom. Aan tafel sê Jesus toe vir hulle: “Ek het ’n belangrike ding om vir julle te sê. Een van julle wat nou hier saam met ons sit en eet, gaan My in die rug steek.” Sy volgelinge was baie omgekrap en het onder mekaar gesê: “Dit is tog seker nie ek nie” en: “Ook tog seker nie ek nie, of hoe?” “Dit is een van julle twaalf,” sê Jesus. “Dit is die een wat saam met My sy hand in die bak insteek om kos te vat. Aan die een kant is dit nodig dat Ek, die Redder, doodgemaak moet word. Die Skrif skryf so daaroor en so moet dit gebeur. Maar aan die ander kant bly ’n verraaier ’n verraaier. Hy verraai immers die Redder. Arme hy! Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Terwyl hulle eet, vat Jesus ’n stuk brood. Nadat Hy vir God dankie gesê het vir die kos, breek Hy die brood en gee dit vir die ander. “Vat dit en eet dit. Dit is my liggaam,” sê Hy. Toe vat Hy die beker met die wyn. Weer sê Hy vir God dankie en gee dit toe vir sy dissipels om te drink. “Dit is my bloed wat bewys dat God sy ooreenkoms om julle God te wees, gaan hou. Dit geld nie net vir ’n paar nie, maar vir baie mense. Luister mooi wat Ek vir julle sê: Ek sal nie weer so saam met julle wyn sit en drink tot die dag dat Ek nuwe wyn in God se nuwe wêreld sal drink nie.” Nadat hulle saamgesing het, is hulle na die Olyfberg net buite die stad toe.

MARKUS 14:12-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood – die dag waarop hulle die paaslammers geslag het – sê Jesus se dissipels vir Hom: “Waar wil U hê moet ons vir U die paasete gaan voorberei?” Hy stuur toe twee van sy dissipels met die opdrag: “Gaan stad toe. Daar sal julle ’n man sien wat ’n kruik water dra. Gaan agter hom aan en waar hy indraai, moet julle vir die huiseienaar sê: ‘Die Leermeester vra: Waar is die gastekamer waar Ek die Paasfees saam met my dissipels kan geniet?’ Dan sal hy vir julle ’n groot bovertrek wys wat klaar gereed staan. Dáár kan julle vir ons die maaltyd voorberei.” Toe het die twee vooruit gegaan stad toe, en hulle het alles presies gekry soos Jesus vir hulle gesê het. En hulle het die paasmaaltyd voorberei. Teen die aand het Jesus toe saam met die twaalf dissipels daar aangekom. Terwyl hulle besig was om te eet, sê Jesus: “Ek sê nou vir julle, een van julle gaan My uitlewer, een van julle wat nou hier saam met My eet.” Geweldig geskok vra hulle toe een vir een vir Hom: “Dit kan tog sekerlik nie ek wees nie?” Jesus het hulle geantwoord: “Hy is een van julle twaalf, een wat saam met My sy brood in die bak week. Ek, die Seun van die Mens, moet inderdaad sterf soos daar van My geskryf staan, maar dit sal bitter swaar gaan met die man wat My uitlewer. Hy moes liewer nooit gebore gewees het nie!” Terwyl hulle besig was om te eet, het Jesus brood geneem en God se seën daarop gevra. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.” Hy het ook die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee en hulle het almal daaruit gedrink. Hy sê toe vir hulle: “Dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet. Ek verklaar nou hier plegtig dat Ek nie weer wyn sal drink nie tot op daardie dag wanneer Ek opnuut die feeswyn sal drink in die koninkryk van God.” Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid