Genesis 18:16-33

Genesis 18:16-33 AFR20

Die manne het daar opgestaan en afgekyk in die rigting van Sodom. Abraham het saam met hulle gestap om hulle weg te sien. Die HERE het gesê: “Sal Ek vir Abraham geheim hou wat Ek gaan doen, terwyl Abraham beslis 'n groot en magtige nasie gaan word, en al die nasies van die aarde deur hom geseënd sal wees? Want Ek het hom gekies, sodat hy opdragte kan gee aan sy kinders en sy huishouding ná hom, en hulle dan by die pad van die HERE kan hou deur te doen wat reg en billik is, sodat die HERE met Abraham kan laat gebeur wat Hy aan hom beloof het.” Die HERE sê toe: “Die hulpgeroep oor Sodom en Gomorra is werklik groot, en hulle sonde is werklik uitermate swaar. Ek wil afgaan en kyk of wat hulle gedoen het, volledig ooreenstem met die noodkreet oor die stad wat tot My gekom het, en indien nie, dan wil Ek dit weet.” Die manne het daarvandaan weggedraai en na Sodom gegaan. Maar Abraham het nog voor die HERE bly staan. Abraham gaan toe nader en vra: “Gaan U werklik •regverdiges saam met goddeloses verdelg? Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad; sal U nogtans die stad verdelg en nie die plek vergewe ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie? U sal tog nooit so iets doen nie – om regverdiges saam met goddeloses te laat sterf, asof regverdiges soos goddeloses is! U sal tog nooit! Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?” Die HERE het Abraham geantwoord: “As Ek in Sodom, in die stad, vyftig regverdiges vind, sal Ek die hele plek vergewe ter wille van hulle.” Abraham antwoord toe en sê: “Kyk, ek het my verstout om met my Heer te praat, terwyl ek stof en as is. Dalk ontbreek vyf van die vyftig regverdiges. Sal U net oor vyf die hele stad verdelg?” Hy het geantwoord: “Ek sal dit nie verdelg as Ek daar vyf-en-veertig regverdiges vind nie.” Abraham het toe voortgegaan om met die HERE te praat; hy het gesê: “Miskien word daar veertig gevind?” Die HERE het geantwoord: “Ter wille van die veertig sal Ek dit nie doen nie.” Daarop sê hy: “My Heer moet tog nie kwaad word nie! Ek wil nog praat; dalk word daar dertig gevind.” Die HERE het gesê: “Ek sal dit nie doen as Ek dertig daar vind nie.” Abraham sê toe: “Kyk, ek het dit gewaag om met my Heer te praat. Dalk word daar twintig gevind?” Hy het geantwoord: “Ter wille van twintig sal Ek die stad nie verdelg nie.” Toe sê hy: “My Heer moet tog nie kwaad word nie! Ek wil nog net dié keer praat. Dalk word daar tien gevind.” Die HERE het gesê: “Ter wille van die tien sal Ek dit nie verdelg nie.” Die HERE het weggegaan toe Hy klaar met Abraham gepraat het. En Abraham het teruggegaan na sy woonplek.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Genesis 18:16-33

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid