GENESIS 18:16-33

GENESIS 18:16-33 Bybel vir almal (ABA)

Die mans het opgestaan om te gaan, en Abraham het 'n entjie saam met hulle gestap. Hulle het na die stad Sodom gekyk. Die Here dink toe: Ek sal nie stilbly nie, Ek sal vir Abraham vertel wat Ek wil doen. Abraham se nageslag sal 'n groot en sterk volk word, en al die mense van die aarde sal sy naam gebruik om te bid dat Ek hulle moet seën soos Ek vir Abraham geseën het. Ek het 'n verbond met Abraham gemaak. Hy moet vir sy seuns en sy nageslag sê om gehoorsaam te wees aan My. Hulle moet doen wat Ek wil hê. Dan sal Ek vir Abraham doen wat Ek vir hom belowe het. Toe sê die Here: “Ek hoor baie mense kla oor die stede Sodom en Gomorra, want daardie mense doen baie sonde. Ek wil afgaan en gaan kyk of hulle regtig doen wat Ek gehoor het. Ek wil dit weet.” Die mans het omgedraai en na Sodom gegaan, maar Abraham het nog voor die Here gestaan. Abraham kom toe nader en vra: “Sal U die goeie mense saam met die slegte mense straf? Miskien is daar 50 goeie mense in die stad. Sal U hulle ook doodmaak en die hele stad straf as daar 50 goeie mense in die stad is? Sal U die goeie mense saam met die slegte mense doodmaak? U sal nie dieselfde doen met goeie mense en met slegte mense nie. U sal dit nooit doen nie. U, die Regter van die hele aarde, sal reg oordeel.” Toe sê die Here: “As Ek in Sodom 50 goeie mense kry, dan sal Ek al die mense in die stad se sonde vergewe.” Toe sê Abraham weer: “Ek is 'n mens wat van stof en as gemaak is. Ek was bang, maar ek hét met die Here gepraat. Miskien is daar vyf minder as 50 goeie mense. Sal U die hele stad verwoes oor vyf mense?” Toe sê die Here: “Ek sal dit nie verwoes nie as Ek daar 45 goeie mense kry.” Abraham het nog 'n maal met die Here gepraat en gesê: “Miskien is daar 40 goeie mense.” En die Here het gesê: “As daar 40 is, dan sal Ek dit nie doen nie.” Toe sê Abraham: “Asseblief, Here, moenie kwaad word as ek praat nie. Miskien is daar 30 goeie mense.” Die Here het geantwoord: “Ek sal dit nie doen nie as Ek daar 30 goeie mense kry.” Toe sê Abraham: “Ek was bang, maar ek hét met die Here gepraat. Miskien is daar 20 goeie mense.” En die Here sê: “Ek sal die stad nie verwoes nie as daar 20 goeie mense is.” Toe sê Abraham: “Moet asseblief nie kwaad word as ek nog hierdie laaste maal praat nie. Miskien is daar tien goeie mense.” En die Here het gesê: “Ek sal die stad nie verwoes nie as daar tien goeie mense is.” Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy weggegaan. Abraham het teruggegaan na sy tent.

GENESIS 18:16-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe staan die manne daarvandaan op, en hulle het gekyk na die kant van Sodom; en Abraham het saam met hulle gegaan om hulle weg te bring. Daarop sê die HERE: Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen, terwyl Abraham tog sekerlik 'n groot en magtige nasie sal word en al die nasies van die aarde in hom geseën sal word? Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen; sodat die HERE oor Abraham kan bring wat Hy oor hom gespreek het. Verder het die HERE gesê: Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot, en hulle sonde is waarlik baie swaar. Ek wil neerdaal en sien of hulle werklik gehandel het soos die geroep oor hulle is wat by My gekom het; en so nie, Ek wil dit weet. Toe het die manne daarvandaan weggedraai en na Sodom gegaan, maar Abraham het nog bly staan voor die aangesig van die HERE. En Abraham het nader gekom en gesê: Sal U ook die regverdige saam met die goddelose ombring? Miskien is daar vyftig regverdiges binne-in die stad; sal U hulle ook ombring en die plek nie spaar ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie? Laat dit ver van U wees om so iets te doen: om die regverdige saam met die goddelose om te bring, sodat die regverdige gelyk is met die goddelose. Laat dit ver van U wees! Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie? Toe sê die HERE: As Ek in Sodom vyftig regverdiges vind binne-in die stad, dan sal Ek die hele plek spaar om hulle ontwil. En Abraham antwoord en sê: Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te spreek alhoewel ek stof en as is. Miskien sal daar aan die vyftig regverdiges vyf ontbreek; sal U ter wille van vyf die hele stad verwoes? En Hy antwoord: Ek sal dit nie verwoes as Ek daar vyf-en-veertig vind nie. En hy het nog verder met Hom gespreek en gesê: Miskien sal daar veertig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die veertig nie doen nie. Verder sê hy: Laat die Here tog nie toornig wees nie, en mag ek nog iets sê. Miskien sal daar dertig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit nie doen as Ek daar dertig vind nie. Toe sê hy: Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te spreek. Miskien sal daar twintig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die twintig nie verwoes nie. Toe sê hy: Laat die Here tog nie toornig wees nie en laat my net hierdie keer mag spreek. Miskien sal daar tien gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die tien nie verwoes nie. En die HERE het weggegaan toe Hy opgehou het om met Abraham te spreek, en Abraham het na sy woonplek teruggekeer.

GENESIS 18:16-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe die mans opstaan om te vertrek, het Abraham 'n entjie saam met hulle gestap. Die mans het afgekyk in die rigting van Sodom, en toe dink die Here: sal Ek vir Abraham wegsteek wat Ek wil doen? Abraham sal tog 'n groot en sterk nasie word en in hom sal al die nasies van die aarde geseën word. Ek het hom gekies dat hy sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het. Toe sê die Here: “Die geroep teen Sodom en Gomorra is hard. Hulle sonde is baie groot! Ek wil gaan kyk sodat Ek kan weet of hulle ooreenkomstig die geroep wat tot by My gekom het, gehandel het of nie.” Die mans het weggedraai Sodom toe, maar die Here het by Abraham bly staan. Abraham het toe nader gekom na die Here toe en gevra: “Sal U die regverdiges saam met die goddeloses vernietig? Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad. Sal U die plek werklik vernietig? Sal U dit nie spaar oor vyftig regverdiges daarin nie? U sal tog nie so iets doen en die regverdiges saam met die goddeloses om die lewe bring nie! U sal tog nie die regverdiges soos die goddeloses behandel nie! Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?” Toe sê die Here: “As Ek vyftig regverdiges in Sodom kry, sal Ek die hele plek spaar oor hulle.” Abraham het gesê: “Ek is maar net stof en as, en tog het ek gewaag om met die Here te praat. Sê nou die regverdiges is vyf minder as vyftig: sal U die hele stad vir vyf verdelg?” Hierop antwoord die Here: “Ek sal dit nie verdelg as Ek vyf en veertig daar kry nie.” Toe praat Abraham weer met die Here: “Miskien sal daar veertig gevind word,” en die Here sê: “Ook oor veertig sal Ek dit nie doen nie.” Abraham sê toe: “Moet tog nie kwaad word as ek nog 'n keer praat nie, Here. Miskien sal daar dertig te kry wees,” en die Here sê: “Ek sal dit nie doen as Ek dertig daar kry nie.” Maar Abraham sê: “Ek bly waag om met die Here te praat. Miskien word daar twintig gekry,” en die Here sê: “Oor die twintig sal Ek dit nie verdelg nie.” Toe sê Abraham: “Moet tog nie kwaad word nie, Here! Ek wil nog net een keer praat; miskien word daar tien gekry.” En die Here sê: “Ook oor tien sal Ek dit nie verdelg nie.” Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy weggegaan, en Abraham het na sy plek toe teruggegaan.

GENESIS 18:16-33 Die Boodskap (DB)

Later die middag het die drie mans opgestaan en op ’n plek gekom waar hulle Sodom kon sien. Abraham het ’n ent saamgestap. Terwyl hulle so stap, het die Here gedink: “Sal Ek vir Abraham wegsteek wat Ek met Sodom gaan doen? Abraham se kinders gaan tog ’n groot en sterk nasie word en hulle sal baie mense wees. Al die volke sal Abraham ken; daarom sal dit met hulle goed gaan. Van alle mense het Ek Abraham uitgesoek om my spesiale boodskapper te wees. Hy het nog altyd naby my geleef. Hy sal sy kinders van My vertel en hulle sal ook naby My leef. Hulle sal weet hoe om reg te leef en die regte dinge te doen. Daarom sal Ek nog al my beloftes aan Abraham waar maak.” Die Here het toe vir Abraham alles vertel. “Ek is op pad Sodom en Gomorra toe,” het Hy gesê. “Hulle sonde skreeu ten hemele. Hulle doen die allerverskriklikste dinge. En Ek het kom kyk wat aangaan en of alles so sleg is. Ek moet uitvind of alles oor Sodom en Gomorra waar is of nie.” Twee van die mans het solank aangestap na Sodom toe terwyl die Here nog ’n rukkie met Abraham gepraat het. Abraham vra Hom toe: “Gaan U almal doodmaak, skuldiges en onskuldiges? Sê nou daar is 50 goeie mense in die stad; gaan U dit nogtans verwoes? Sal U nie die stad ter wille van hierdie 50 spaar nie? U sal mos nie goeie mense saam met slegtes laat ly nie. So iets sal U mos nie doen nie. U wat die goeie regter is van die hele wêreld, sal mos nie skuldiges en onskuldiges saam vernietig nie.” Die Here het gesê: “As daar 50 goeie mense in Sodom is, sal Ek die stad ter wille van hulle spaar.” Abraham het weer gepraat: “Voor U is ek niks nie; net maar stof en as. En tog waag ek om U weer te vra: Sê nou daar is nie heeltemal 50 nie, maar net 45 goeie mense. Sal U dan die stad vernietig? Gaan vyf soveel verskil maak?” “Nee,” sê die Here toe, “as daar 45 is, sal Ek nie die stad vernietig nie.” “En sê maar daar is net 40?” het Abraham gevra. Weer het die Here gesê dat Hy nie die stad sal verwoes nie. Abraham sê toe: “Here, moet tog nie kwaad word as ek weer vra nie, maar sê nou daar is net 30?” Weer het die Here Abraham verseker dat Hy die stad sal spaar. Abraham het weer probeer: “Dis verwaand van my om met die Here te redeneer. Maar as daar net twintig is, Here, wat dan?” Weer het die Here gesê dat Hy die stad nie sal vernietig nie. En Abraham het ’n laaste keer gevra: “Here, moenie kwaad wees nie, maar as daar net tien is, wat dan?” En weer het die Here Abraham gerusgestel dat Hy die stad ter wille van hierdie tien sal spaar. Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy omgedraai en in die rigting van Sodom aangestap. En Abraham het teruggegaan huis toe.

GENESIS 18:16-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ná ete het die mans opgestaan en in die rigting van Sodom gestap. Abraham het ’n entjie saamgeloop om hulle af te sien. “Ek kan tog nie my voorneme vir Abraham wegsteek nie!” sê die HERE. “Abraham sal sekerlik ’n groot en magtige nasie word, en al die volke op aarde sal in hom geseën word. Ek het hom gekies sodat hy sy seuns en hulle gesinne kan opvoed om aan die HERE gehoorsaam te wees deur te doen wat goed en reg is sodat Ek vir hom alles kan doen wat Ek hom belowe het.” Toe sê die HERE vir Abraham: “Die boosheid van die mense van Sodom en Gomorra het rugbaar geword, want hulle doen alles wat sondig is. Ek wil afgaan om te gaan kyk of dit waar is of nie. Dan sal Ek vir seker weet.” Terwyl twee van die mans toe verder gaan in die rigting van Sodom, het die HERE nog ’n rukkie by Abraham bly staan. Abraham het nadergekom en gevra: “Sal U die onskuldiges saam met die skuldiges uitroei? Sê nou daar is 50 onskuldige mense in die stad. Sal U nie die stad ter wille van hulle spaar nie? U sal tog sekerlik nie die onskuldiges saam met die skuldiges laat doodgaan nie! Hoekom sou U die onskuldiges en die skuldiges almal oor een kam skeer? U sal dit tog sekerlik nie doen nie! Moet die regter van die hele aarde dan nie doen wat reg is nie?” Die HERE antwoord: “As Ek 50 onskuldige mense in Sodom kry, sal Ek ter wille van hulle die hele stad spaar.” Abraham het toe weer gepraat: “Aangesien ek gewaag het om met die Here te praat, al is ek maar net stof en as, laat my toe om weer te praat. Sê nou daar is 45? Sal U die stad verwoes net omdat daar vyf minder is?” Die HERE antwoord hom: “As Ek 45 kry, sal Ek dit nie verwoes nie.” Abraham het verder aangedring: “Veronderstel daar is net 40?” Die HERE antwoord: “Ek sal dit ter wille van 40 nie verwoes nie.” “Moet asseblief nie vir my kwaad word nie, Here,” het Abraham gepleit. “Laat my toe om te praat. Wat daarvan as daar net 30 is?” Die HERE sê: “As Ek 30 daar vind, sal Ek dit nie verwoes nie.” Abraham het weer gevra: “Terwyl ek dit gewaag het om met U te praat, Here, laat my tog voortgaan. Wat as daar net twintig onskuldiges is?” Die HERE sê vir hom: “Ek sal dit nie verwoes as daar twintig is nie.” Uiteindelik sê Abraham: “Here, moet tog nie kwaad word nie. Ek sal net nog hierdie een keer praat. Sê nou daar is net tien?” En die HERE sê: “Ter wille van tien mense sal Ek dit nie verwoes nie.” Daarna het die HERE sy gesprek met Abraham beëindig en weggegaan. Abraham het na sy tent toe teruggegaan.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid