2 Konings 5:1-16

2 Konings 5:1-16 AFR20

Naäman, die bevelvoerder van die koning van Aram se leër, was 'n invloedryke man by sy heer, en hoog in aansien, want deur hom het die HERE aan Aram 'n oorwinning gegee. Maar die man, 'n dapper kryger, het 'n velsiekte gehad. Die Arameërs het in roofbendes uitgetrek en 'n klein dogtertjie uit die land Israel weggevoer. Sy was in diens van Naäman se vrou. Sy het vir haar eienares gesê: “As my heer maar net voor die profeet kon verskyn wat in Samaria is, dan sou hy hom van sy velsiekte verlos.” Naäman gaan toe en vertel vir sy heer: “Dit is wat die dogtertjie uit die land Israel gesê het.” Toe sê die koning van Aram: “Gaan dan! Ek is gewillig om 'n brief aan die koning van Israel te stuur.” Hy het toe gegaan en tien kikkar silwer, sesduisend sikkel goud en tien stelle klere saamgeneem. Hy het die brief vir die koning van Israel geneem, wat gelui het: “Wanneer hierdie brief nou by u aankom – kyk, ek stuur na u Naäman, my dienaar, sodat u hom van sy velsiekte kan verlos.” Toe die koning van Israel die brief gelees het, skeur hy sy klere en sê: “Is ek dan God, om dood of lewend te maak, dat hierdie man 'n brief na my stuur om iemand van sy velsiekte te verlos? Ja, weet vir seker en sien in dat hy 'n rede teen my soek.” Toe Elisa, die man van God, hoor dat die koning van Israel sy klere geskeur het, het hy die koning laat weet: “Waarom het jy jou klere geskeur? Laat hom tog na my toe kom, dan sal hy besef dat daar 'n profeet in Israel is.” Naäman het toe met sy perde en strydwa gekom en voor die ingang na Elisa se huis stilgehou. Elisa het 'n boodskapper na hom gestuur met die woorde: “Gaan was jou sewe keer in die Jordaan, sodat jou liggaam kan herstel, en word so rein.” Maar Naäman het hom vererg en weggegaan. Hy het gesê: “Kyk, ek het gedink hy sal beslis na my toe uitkom, en gaan staan en die Naam van die HERE sy God aanroep, en sy hand oor die plek beweeg en die velsiekte wegneem. Is Abana en Parpar, die riviere van Damaskus, dan nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was en rein word nie?” Hy het toe omgedraai en woedend weggegaan. Maar sy dienaars het nader gegaan en met hom gepraat. “My vader,” het hulle gesê, “as dit 'n moeilike opdrag was wat die profeet u gegee het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer wanneer hy vir u gesê het, ‘Was en word rein!’ ” Hy het toe afgegaan en sy liggaam sewe keer in die Jordaan gedompel, volgens die woord van die man van God. Sy liggaam het herstel en geword soos die liggaam van 'n klein seuntjie, en hy was rein. Toe draai hy terug na die man van God, hy en sy hele gevolg. Hy het gekom en voor hom gaan staan en gesê: “Kyk, ek besef nou dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel! Daarom, aanvaar asseblief 'n buitengewone geskenk van u dienaar.” Maar Elisa het gesê: “So waar as die HERE leef in wie se diens ek staan, ek sal dit nie neem nie!” Naäman het by hom aangedring om dit te aanvaar, maar hy het geweier.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid