2 KONINGS 5:1-16

2 KONINGS 5:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Naäman was die hoof van die leër van die koning van Aram. Hy was 'n belangrike man en die koning het hom gerespekteer, want die Here het vir Naäman gebruik om die Arameërs te laat wen teen hulle vyande. Naäman kon goed oorlog maak, maar hy was melaats. Die Arameërs het voorheen eendag 'n paar stede in die land Israel gaan aanval. Naäman het toe 'n klein dogtertjie van Israel saamgebring om vir sy vrou te werk. Die dogtertjie het vir Naäman se vrou gesê: “As Meneer by die profeet Elisa in Samaria kan kom, dan sal die profeet hom gesond maak. Meneer sal dan nie meer melaats wees nie.” Naäman het vir die koning gaan sê wat die dogtertjie sê wat van die land Israel kom, en die koning van Aram het vir Naäman gesê: “Jy moet na Israel gaan, ek sal 'n brief saamstuur vir die koning van Israel.” Naäman het gegaan en hy het tien talente silwer, 6 000 sikkels goud en klere vir tien mense saamgeneem. Hy het die brief vir die koning van Israel gebring. Die koning van Aram het in die brief geskryf: “As hierdie brief by jou kom, dan moet jy weet dit is ék wat my offisier Naäman na jou toe stuur. Jy moet hom gesond maak, hy is melaats.” Toe die koning van Israel die brief lees, het hy sy klere geskeur en gesê: “Dink hy ek is God wat mense kan doodmaak of hulle kan laat lewe? Hoekom stuur hierdie man sy offisier wat melaats is na my toe sodat ek hom moet gesond maak? Julle kan sien hy wil vir my probleme gee.” Elisa, die man van God, het gehoor dat die koning sy klere geskeur het, en hy het vir die koning 'n boodskap gestuur en vir hom gevra: “Hoekom skeur jy jou klere? Stuur Naäman na my toe, sodat hy kan weet daar is 'n profeet in die land Israel.” Naäman het toe met sy perde en sy oorlogkar gekom en hy het gestop voor die deur van Elisa se huis. Elisa stuur toe vir Naäman 'n boodskap en sê: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan-rivier, dan sal jou vel gesond word en jy sal weer rein wees.” Naäman het kwaad geword en hy het gery. Hy het gesê: “Ek het gedink Elisa sal uitkom en by my kom staan. Ek het gedink hy sal sy hand oor die seerplekke beweeg en my gesond maak. Die Abana-rivier en die Parpar-rivier van Damaskus is beter as al die water van Israel. As ek my in 'n rivier moet was om rein te word, dan kon ek dit daar gedoen het.” Naäman was baie kwaad en hy het weggery. Maar sy bediendes het met hom kom praat en hulle het vir hom gesê: “Meneer, as die profeet vir jou gesê het jy moet iets doen wat moeilik is, dan sou jy dit gedoen het. Maar nou het hy vir jou gesê: ‘Gaan was jou, dan sal jy weer rein wees.’ ” Toe gaan Naäman af na die Jordaan-rivier en hy duik sewe maal in die water soos die man van God gesê het. Daarna was sy vel so gesond soos 'n klein seuntjie se vel, en hy was weer rein. Hy het teruggegaan na die man van God toe en hy en al sy mense het voor Elisa kom staan. Naäman het gesê: “Luister asseblief, ek weet nou daar is op die hele aarde nie 'n ander God nie, daar is net die God van Israel. En nou wil ek graag vir jou 'n present gee.” Maar Elisa het geantwoord: “So seker soos die Here lewe, die Here vir wie ek werk, ek sal niks van jou neem nie.” Naäman het aangehou, maar Elisa wou niks neem nie.

2 KONINGS 5:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Naäman, die leërowerste van die koning van Aram, was 'n groot man voor sy heer en hoog in aansien; want deur hom het die HERE aan die Arameërs 'n oorwinning gegee; en die man was 'n dapper held, maar melaats. En die Arameërs het in bendes uitgetrek en uit die land van Israel 'n klein dogtertjie as gevangene weggevoer wat in diens van Naäman se vrou gekom het. En sy het vir haar meesteres gesê: Ag, was my heer maar net by die profeet wat in Samaría is, dan sou hy sy melaatsheid wegneem. Toe gaan hy in en gee dit aan sy heer te kenne en sê: So en so het die dogtertjie gespreek wat uit die land van Israel kom. En die koning van Aram sê: Gaan dan, ek wil 'n brief aan die koning van Israel stuur. En hy het gegaan en tien talente silwer en sesduisend sikkels goud en tien stel klere saam met hom geneem, en aan die koning van Israel die brief gebring van die volgende inhoud: Saam met hierdie brief aan u stuur ek dan nou my dienaar Naäman na u toe, dat u sy melaatsheid kan wegneem. Sodra die koning van Israel die brief gelees het, skeur hy sy klere en sê: Is ek dan God, om dood en lewend te maak, dat hierdie man na my stuur om van 'n man sy melaatsheid weg te neem? Erken en sien tog net hoedat hy 'n geleentheid teen my soek. Maar toe Elísa, die man van God, hoor dat die koning van Israel sy klere geskeur het, laat hy die koning weet: Waarom skeur u u klere? Laat hom maar na my kom; dan sal hy weet dat daar 'n profeet in Israel is. So het Naäman dan gekom met sy perde en met sy waens en voor die deur van Elísa se huis stilgehou. Toe stuur Elísa 'n boodskapper na hom om te sê: Gaan heen, was jou sewe maal in die Jordaan; dan sal jou vlees terugkeer, en jy sal rein wees. Maar Naäman het baie kwaad geword en weggegaan en gesê: Kyk, ek het gedink: Hy sal sekerlik na my uitkom en staan en die Naam van die HERE sy God aanroep en sy hand oor die plek heen en weer beweeg en die melaatsheid wegneem. Is Abána en Farpar, die riviere van Damaskus, nie beter as al die waters van Israel nie? Kon ek my nie daarin was en rein word nie? En hy het omgedraai en vererg weggery. Toe kom sy dienaars nader en spreek met hom en sê: My vader, as die profeet u 'n groot saak beveel het, sou u dit nie doen nie? Hoeveel te meer nou dat hy u gesê het: Was jou, en jy sal rein word? Daarop het hy afgeklim en sewe maal in die Jordaan ondergeduik volgens die woord van die man van God, en sy vlees het teruggekeer soos die vlees van 'n jong seun, en hy het rein geword. Toe draai hy om na die man van God, hy en sy hele gevolg, en hy het ingekom en voor hom gaan staan en gesê: Kyk, nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie, behalwe in Israel. Neem dan nou tog 'n geskenk aan van u dienaar. Maar hy sê: So waar as die HERE leef voor wie se aangesig ek staan, ek sal dit nie aanneem nie! En hy het by hom aangehou om dit aan te neem, maar hy het geweier.

2 KONINGS 5:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was 'n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here 'n oorwinning aan Aram besorg. Die man was 'n dapper soldaat, maar hy het melaats geword. Op een van hulle strooptogte het die Arameërs 'n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.” Naäman het by die koning gekom en hom meegedeel wat die dogtertjie uit Israel gesê het. “Gaan gerus,” het die koning van Aram gesê, “ek stuur jou met 'n brief na die koning van Israel toe.” Hy het vertrek en drie honderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere met hom saamgevat. Hy het die brief na die koning van Israel toe gebring. Dit het só gelui: “Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.” Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.” Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het 'n boodskap aan die koning gestuur: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar 'n profeet in Israel is.” Toe Naäman met sy wa en perde daar aankom, het hy stilgehou voor die deur van Elisa se huis. Elisa het 'n boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.” Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem. Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?” So het hy woedend daarvandaan teruggery. Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?” Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van 'n klein seuntjie en hy was weer rein. Hy en sy hele gevolg het teruggegaan na die man van God toe. Daar aangekom, het Naäman voor die man van God gaan staan en gesê: “Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel. Aanvaar asseblief hierdie geskenk van my.” Maar Elisa het gesê: “So seker as die Here leef in wie se diens ek is, ek sal dit nie aanvaar nie.” Naäman het by Elisa daarop aangedring om dit te aanvaar, maar hy het bly weier.

2 KONINGS 5:1-16 Die Boodskap (DB)

Naäman was die bevelvoerder van die Aramese leër. Hy was ’n dapper soldaat en gewild by die koning van Aram omdat die Here onder sy leiding vir die Arameërs groot oorwinnings gegee het. Naäman het egter ’n aansteeklike velsiekte gehad. Aramese bendes het in dié tyd strooptogte in dele van Israel uitgevoer. Een van hulle gevangenes was ’n jongmeisie. Sy het in Naäman se huis beland as bediende vir sy vrou. Op ’n dag sê die meisie vir Naäman se vrou: “Ek wens Meneer kon by die profeet in Samaria uitkom. Hy sou hom maklik gesond kon maak.” Naäman het daarvan gehoor en vir die koning gaan vertel wat die Israelitiese meisie gesê het. Die koning was dadelik positief en het gesê: “Jy kan gaan en ek sal vir jou ’n brief aan die koning van Israel saamgee.” Naäman het dadelik gereedgemaak en ’n baie waardevolle geskenk van 342 kilogram silwer, 68 kilogram goud en tien stelle klere saamgeneem. Die brief se inhoud was: “Die draer hiervan is my amptenaar Naäman. Sal jy sy velsiekte gesond maak, asseblief?” Toe die koning van Israel die brief lees, was hy baie ontsteld. “Hulle soek net ’n rede om ons aan te val! Is ek miskien God wat oor lewe en dood beskik? Hoe kan hy ’n siek mens na my toe stuur en vra dat ek hom gesond moet maak?” het hy gevra. Elisa het gehoor hoe die koning te kere gegaan en sy klere geskeur het. Hy het toe vir hom ’n boodskap gestuur: “Vir wat is jy so ontsteld? Stuur die man na my toe. Dan sal hy uitvind dat hier werklik ’n profeet in Israel is!” Naäman en sy hele gevolg het toe na Elisa se huis toe gery. Toe hulle daar aankom, het Elisa sy assistent uitgestuur met die boodskap: “Gaan was jou sewe keer in die Jordaanrivier. Dan sal die velsere genees en jy sal heeltemal gesond wees.” Naäman het hom bloedig vir Elisa vererg. Hy het weggegaan en gesê: “Ek het gedink dat hy ten minste na my toe sou uitkom en dat hy die Here sy God se Naam sou aanroep. Ek het gedink dat hy dan sy hand oor die seerplekke sou beweeg sodat die vel gesond kan word. Is die Abanarivier en die Parparrivier van Damaskus nie in elk geval beter as al Israel se riviere saam nie? Waarom kan ek my nie dáár gaan was om gesond te word nie?” Hy is toe woedend daar weg. Sy offisiere het Naäman tot bedaring probeer bring. Hulle het versigtig met hom gepraat en gesê: “Meneer, as hy nou vir u gesê het om ’n baie moeilike ding te gaan doen, sou u dit tog gedoen het? Maar nou het hy ’n maklike opdrag gegee. Moet u nie maar gaan was soos hy gesê het om gesond te word nie?” Naäman het toe na die Jordaanrivier toe afgedraai en hom sewe keer in die water gewas, soos Elisa gesê het. Hy het heeltemal gesond geword en sy vel was weer soos ’n jong seun s’n. Naäman en sy hele gevolg het na Elisa toe teruggegaan. Hy het vir Elisa gesê: “Ek weet nou beslis dat Israel se God die enigste God op aarde is. Aanvaar asseblief die geskenk wat ek saamgebring het.” Elisa het volstrek geweier. Hy het gesê: “Net so seker as wat ek is dat die Here wat ek dien, lewe, so seker is ek dat ek nooit die geskenk van jou sal aanvaar nie!” Hoe Naäman ook al by hom gepleit het, Elisa het die geskenk bly weier.

2 KONINGS 5:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Naäman was die koning van Aram se bevelvoerder van die leër. Hy was ’n belangrike man en hoog in aansien by die koning, want die HERE het deur hom groot oorwinnings aan Aram gegee. Hoewel Naäman ’n magtige krygsman was, was hy melaats. Die Arameërs het strooptogte in die land Israel uitgevoer en ’n jong Israelitiese meisie gevang. Sy het die diensmeisie van Naäman se vrou geword. Sy het vir haar meesteres gesê: “As Meneer net na die profeet in Samaria kan gaan, sal hy hom van sy melaatsheid gesond maak.” Naäman het die koning gaan vertel wat die meisie uit Israel gesê het. “Gaan gerus,” sê die koning van Aram. “Ek sal ’n brief skryf wat jy vir die koning van Israel kan gee.” Naäman het toe gegaan. Hy het 342 kilogram silwer, 68 kilogram goud en tien stelle klere saamgeneem. Hy het die brief aan die koning van Israel gegee. Dit het gelui: “Ek stuur my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe sodat jy hom van sy melaatsheid kan gesond maak.” Toe die koning van Israel dit lees, het dit hom ontstel sodat hy sy klere geskeur het en sê: “Hierdie man stuur ’n melaatse na my toe om hom gesond te maak! Is ek dan God wat kan doodmaak en laat lewe? Kyk, hy soek net moeilikheid met my!” Elisa, die man van God, het gehoor van die koning se reaksie en stuur toe vir hom ’n boodskap: “Hoekom is u so ontsteld? Stuur Naäman na my toe. Dan sal hy agterkom dat daar ’n ware profeet in Israel is.” Naäman het met sy perde en strydwaens gekom en voor Elisa se huis gewag. Maar Elisa het ’n boodskap aan hom gestuur: “Gaan en was jou sewe keer in die Jordaanrivier. Dan sal jou liggaam herstel en sal jy van die melaatsheid gesond word.” Maar Naäman het baie kwaad weggegaan en gesê: “Ek het gedink hy sal uitkom en my ontmoet! Ek het verwag dat hy sy hand oor die melaatsheid sou waai en die Naam van die HERE sy God aanroep en so vir my gesond maak! Is die Abana en Parpar van Damaskus nie beter riviere as al die riviere van Israel saam nie? Hoekom kan ek my nie in een van hulle gaan was en so gesond word nie?” Naäman het toe omgedraai en in woede weggegaan. Maar sy amptenare het probeer om hom te oortuig en gesê: “Meneer, as die profeet gesê het dat u een of ander moeilike ding moes doen, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy sê: ‘Gaan en was jou en jy sal gesond word’?” Naäman het toe afgegaan na die Jordaanrivier toe en hom sewe keer in die rivier gewas, soos die man van God hom beveel het. Toe word sy vel gesond soos dié van ’n jong seun s’n. Hy was volkome genees! Naäman en sy hele gevolg gaan toe terug na die man van God toe. Hy het voor hom gestaan en gesê: “Nou weet ek dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel. Aanvaar asseblief my geskenk.” Maar Elisa antwoord hom: “So seker as die HERE leef, Hy vir wie ek dien, ek sal geen geskenke aanvaar nie.” Naäman het daarop aangedring dat hy die geskenk aanvaar, maar Elisa het geweier.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid