1 Korinthiërs 1:10-25

1 Korinthiërs 1:10-25 AFR20

Ek pleit by julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus •Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees, en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging. My broers, ek is deur Chloë se mense ingelig dat daar twiste onder julle is. Wat ek bedoel, is dat elkeen van julle sê, “Ek is van Paulus,” of, “Ek van Apollos, ” of, “Ek van Sefas, ” of: “Ek van Christus”. Is Christus verdeel? Paulus is tog nie vir julle gekruisig nie? Of is julle dan in die naam van Paulus gedoop? Ek dank God dat ek, afgesien van Krispus en Gaius, nie een van julle gedoop het nie, sodat niemand kan sê dat julle in my naam gedoop is nie. Ek het wel die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie van iemand anders wat ek gedoop het nie. Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig – nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie van sy krag ontneem word nie. Die boodskap van die kruis is immers dwaasheid vir diegene wat verlore gaan, maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God. Want daar staan geskryf: “Ek sal die wysheid van die wyses tot niet maak en die insig van die verstandiges verwerp.” Waar is die wyse man, waar die skrifkenner, waar die redevoerder van hierdie wêreld? Het God dan nie die wysheid van die wêreld dwaasheid laat word nie? Trouens, deur die wysheid van God het die wêreld Hom nie deur hulle wysheid leer ken nie. God het verkies om hulle wat glo, te verlos deur die dwaasheid van die verkondiging. Die Jode vra tekens en die Grieke soek wysheid. Ons egter, verkondig 'n gekruisigde •Christus. Vir die Jode is dit 'n struikelblok en vir die nie-Jode 'n dwaasheid. Maar vir diegene wat geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. Want die dwaasheid van God is wyser as dié van mense, en die swakheid van God is sterker as dié van mense.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid