1 KORINTIËRS 1:10-25

1 KORINTIËRS 1:10-25 Bybel vir almal (ABA)

Vriende, julle behoort aan ons Here Jesus Christus. Daarom vra ek mooi vir julle: Julle moet saamwerk met mekaar, julle moenie groepe wees wat teen mekaar werk nie. Julle moet weer wees soos in die begin: Julle moet mekaar aanvaar, julle moet dieselfde dinge wil doen. Vriende, Chloë se mense het vir my vertel dat julle met mekaar stry. Ja, julle stry, want die een sê: “Ek behoort aan Paulus,” 'n ander een sê: “Ek behoort aan Apollos,” 'n ander een sê: “Ek behoort aan Sefas,” en 'n ander een sê: “Ek behoort aan Christus.” Nee, ons kan Christus nie in groepe deel nie. En God het nie vir mý, Paulus, laat kruisig om julle sondes te vergewe nie. En toe julle gedoop is, was dit nie sodat julle aan Paulus sal behoort nie. Ek sê vir God dankie dat ek niemand van julle gedoop het nie, ek het net vir Krispus en Gaius gedoop. Nou kan niemand sê dat julle gedoop is sodat julle aan my sal behoort nie. Ja, ek het ook die huisgesin van Stefanas gedoop, ek is nie seker of ek ook iemand anders gedoop het nie. Christus het my nie gestuur om te doop nie, Hy het my gestuur om die goeie boodskap oor Hom te bring. Ek het die boodskap gebring, maar ek het dit nie gedoen met die slim woorde van mense nie, want as ek dit gedoen het, dan help dit nie dat Christus aan die kruis gesterf het nie. Ja, vir die mense wat verlore gaan, is die boodskap oor die kruis iets wat dom lyk. Maar God het vir óns gered, en die kruis wys vir óns hoe sterk God is wanneer Hy ons red. Want in die Ou Testament is geskryf: Ek sal die planne van die slim mense laat misluk, en die dinge wat slim mense dink, sal Ek laat verdwyn. Die wêreld se slim mense, die skrifgeleerdes en die mense wat goed kan dink en praat, beteken niks by God nie. Alles wat God gedoen het, het gewys die dinge wat slim mense dink, is dom. God was reg toe Hy besluit het dat die slim dinge wat die mense van die wêreld dink, hulle nie sal kan help om Hom te ken nie. Die mense van die wêreld sê die boodskap oor Jesus is iets wat dom lyk, maar God het besluit om die mense te red wat hierdie boodskap glo. Die Jode wil wondertekens sien en die Grieke wil slim dinge hoor, maar ons bring 'n boodskap dat Christus aan 'n kruis gesterf het. Vir die Jode is dit 'n groot probleem, en vir die heidene is dit iets wat dom lyk. Maar God het mense gekies, Jode én Grieke, en vir húlle is Christus die Een wat wys dat God sterk is en dat Hy wysheid het. Want die mense van die wêreld sê die boodskap oor Christus is iets wat dom lyk, maar die boodskap wys dat God meer wysheid het as die mense. En die mense van die wêreld sê God het gewys dat Hy swak is toe Hy Christus laat sterf het aan die kruis, maar toe God dit gedoen het, het Hy gewys dat Hy sterker is as die mense.

1 KORINTIËRS 1:10-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening. Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is. Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus. Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop? Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Crispus en Gajus, sodat niemand kan sê dat ek in my naam gedoop het nie. Ek het ook nog die huisgesin van Stéfanas gedoop. Verder weet ek nie of ek iemand anders gedoop het nie. WANT Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie. Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak. Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red; want die Jode vra 'n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, 'n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God. Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.

1 KORINTIËRS 1:10-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ek doen 'n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging. Ek sê dit, my broers, omdat van Chloë se mense my vertel het dat daar onenigheid onder julle is. Daarmee bedoel ek dat een sê: “Ek is vir Paulus;” een: “Ek is vir Apollos;” een: “Ek is vir Sefas;” en een: “Ek is vir Christus.” Is Christus dan in stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig, of is julle in die naam van Paulus gedoop? Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Krispus en Gaius. Niemand kan dus sê dat julle in my naam gedoop is nie. Nee, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie of ek nog iemand gedoop het nie. Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, en dit nie met woorde van menslike wysheid nie, want dan sou die kruis van Christus sy krag verloor. Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. Daar staan tog geskrywe: “Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig, en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.” Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

1 KORINTIËRS 1:10-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ek pleit by julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus •Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees, en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging. My broers, ek is deur Chloë se mense ingelig dat daar twiste onder julle is. Wat ek bedoel, is dat elkeen van julle sê, “Ek is van Paulus,” of, “Ek van Apollos, ” of, “Ek van Sefas, ” of: “Ek van Christus”. Is Christus verdeel? Paulus is tog nie vir julle gekruisig nie? Of is julle dan in die naam van Paulus gedoop? Ek dank God dat ek, afgesien van Krispus en Gaius, nie een van julle gedoop het nie, sodat niemand kan sê dat julle in my naam gedoop is nie. Ek het wel die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie van iemand anders wat ek gedoop het nie. Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig – nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie van sy krag ontneem word nie. Die boodskap van die kruis is immers dwaasheid vir diegene wat verlore gaan, maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God. Want daar staan geskryf: “Ek sal die wysheid van die wyses tot niet maak en die insig van die verstandiges verwerp.” Waar is die wyse man, waar die skrifkenner, waar die redevoerder van hierdie wêreld? Het God dan nie die wysheid van die wêreld dwaasheid laat word nie? Trouens, deur die wysheid van God het die wêreld Hom nie deur hulle wysheid leer ken nie. God het verkies om hulle wat glo, te verlos deur die dwaasheid van die verkondiging. Die Jode vra tekens en die Grieke soek wysheid. Ons egter, verkondig 'n gekruisigde •Christus. Vir die Jode is dit 'n struikelblok en vir die nie-Jode 'n dwaasheid. Maar vir diegene wat geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. Want die dwaasheid van God is wyser as dié van mense, en die swakheid van God is sterker as dié van mense.

1 KORINTIËRS 1:10-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek smeek julle nou, broeders, by die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle almal dieselfde moet spreek en dat daar geen verdeeldheid onder julle sal wees nie; maar dat julle volkome verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde oordeel. Want dit is aan my van julle verkondig, my broers, deur die wat uit die huis van Chloë is, dat daar twis onder julle is. Dit sê ek nou, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus; en ek van Apollos; en ek van Céfas; en ek van Christus. Is Christus verdeel? is Paulus vir jou gekruisig? of is julle in die naam van Paulus gedoop? Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Crispus en Gajus; Laat niemand sê dat ek in my eie naam gedoop het nie. En ek het ook die huisgesin van Stefanas gedoop; bowendien weet ek nie of ek iemand anders gedoop het nie. Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig: nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie tot niet mag word nie. Want die prediking van die kruis is dwaasheid vir die wat verlore gaan; maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. Want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyses vernietig en die verstand van die verstandiges tot niet maak. Waar is die wyse? waar is die skrifgeleerde? waar is die dispuut van hierdie wêreld? het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? Want nadat die wêreld in die wysheid van God God nie deur wysheid geken het nie, het dit God behaag deur die dwaasheid van die prediking om die wat glo, te red. Want die Jode vra 'n teken, en die Grieke soek wysheid. Maar ons verkondig Christus as gekruisigde, vir die Jode 'n struikelblok en vir die Grieke dwaasheid; Maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke, Christus, die krag van God en die wysheid van God. Omdat die dwaasheid van God wyser is as mense; en die swakheid van God is sterker as die mense.

1 KORINTIËRS 1:10-25 Die Boodskap (DB)

Kinders van die Here, werk asseblief tog saam. Namens ons Here Jesus Christus vra ek julle dit baie mooi, maar baie ernstig. Daar moet nie heeltyd ’n stryery onder julle wees nie. Julle moet met mekaar oor die weg kom. Moenie dwarstrek nie, maar dink en doen liewer soos een man saam. Ek noem dit omdat van Chloë se familie hier by my aangekom en vertel het dat julle so onder mekaar baklei. Laat ek dit so stel: een van julle sal sê: “Paulus is net die man.” Ander sal dan aan die stry gaan en sê dat Apollos of Petrus beter is. “Nee,” sal ander weer sê, “ons volg maar net vir Jesus.” Nou vra ek: Is Christus dan so ’n los klomp stukke? Het ek, Paulus, miskien vir julle daar aan die kruis gehang? Is daar by julle doop miskien gesê dat julle gedoop word omdat Paulus so goed is? Nou is ek eintlik bly dat ek nie te veel van julle gedoop het nie, maar net vir Krispus en Gaius. Daarom kan niemand nou loop en spog dat hy deur my gedoop is asof dit iets besonders is nie. (O ja, amper vergeet ek, ek het nog Stefanas en sy mense ook gedoop. Verder kan ek aan niemand anders dink nie.) Christus het my nie gestuur om mense vir myself bymekaar te maak deur te doop nie. Nee, Hy het my gestuur om vir julle die goeie boodskap oor Hom te kom vertel. Dit moet ek nie doen met vreeslik geleerde en moeilike taal om mense te beïndruk nie. Nie taal nie, maar die werklikheid van die kruisgebeurtenis van Jesus moet mense beïndruk. Daar lê die werklike krag van die boodskap oor Jesus. En dit mag nooit agter slim argumente of geleerde taal weggesteek word nie. Dat Jesus aan die kruis moes sterf, klink wel so onwaar soos ’n feëverhaal vir die mense wat hulle nie aan God steur nie. Hulle is buitendien op pad hel toe. Maar ons wat God leer ken het en nou Syne is, put soveel geestelike krag daaruit. God maak ons sterk deur die boodskap oor wat aan die kruis gebeur het. Daar is geskryf: “God sal vir almal wys hoe verkeerd selfs die slimste mense is. Wat vir hulle so slim lyk, is eintlik maar baie dom.” Gaan roep maar die mense wat sê hulle weet baie. Gaan kry die professore. En waar is die mense met die gladde tong? Het God nie gewys dat al hierdie slimmighede wat mense kwytraak eintlik maar baie dom is wanneer dit kom by dit wat regtig belangrik is nie? Mense met al hulle slimmighede het nie die vaagste benul waaroor dit gaan wanneer dit by die dinge van God kom nie. God het in sy wysheid besluit dat dit so sal wees. Mense dink dalk dat die kruis en wat daar gebeur het nie sin maak nie. Dít is egter die manier waarop God besluit het om mense uit hulle sonde na Hom toe terug te bring. Ek praat van mense wat God vertrou. Die Jode sou wonderlike bomenslike tekens verkies het en die Grieke sou liewer wou gehad het dat alles mooi uitgeredeneer kon word. Maar ons vertel vir almal dat Jesus wat gekruisig is, die manier is waarop God dinge tussen Hom en sondaars regmaak. Die Jode weier botweg om dit te aanvaar en ander mense lag daaroor asof dit sommer ’n storie of ’n feëverhaal is. Onder hierdie klomp spottende pessimiste is daar tog ’n klompie wat God se stem gehoor het en luister. Hulle ken die waarheid. As jy Christus ken, ken jy die krag wat net God kan gee en verstaan jy al God se planne. Menslike dinge kan mos nie met goddelike dinge vergelyk word nie. Om dit so te stel: die “domste” ding wat God volgens die wêreld kan doen, is ver slimmer as die heel slimste ding wat die slimste mens kan uitdink. Al span mense al hulle kragte saam, is dit nog nie eens ’n druppel in die emmer teenoor God se krag nie.

1 KORINTIËRS 1:10-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

En nou, broers en susters, pleit ek by julle in die Naam van ons Here Jesus Christus om eendragtig saam te staan – één in julle oortuigings. Daar mag nie groepvorming onder julle wees nie. Julle moet van harte saamstem in julle denke en in julle visie. Lede van die huisgesin van Chloë het aan my vertel, my broers en susters, dat daar allerlei struwelinge onder julle voorkom. Ek bedoel dat party van julle sê: Ek volg Paulus; ander weer: Ek volg Apollos; nog ander: Ek volg Petrus; en nog ander: Ek volg Christus. Dink julle regtig Christus kan so in stukkies verdeel word? Paulus is tog beslis nie vir julle gekruisig nie! Of is julle dalk in Paulus se naam gedoop? Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie behalwe Krispus en Gaius, want nou kan niemand beweer dat ek mense in my naam gedoop het nie. O ja, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop. Verder weet ek van niemand anders wat ek gedoop het nie. Julle moet verstaan dat Christus my nie in die eerste plek gestuur het om mense te doop nie; Hy het my gestuur om die Goeie Nuus te verkondig – en dit nie met allerlei woordkunsies nie, want daarmee verloor die kruis van Christus sy krag. Ek besef hoe belaglik die boodskap van die kruis moet klink vir hulle wat verlore gaan. Maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God. Soos die Skrif sê: “Ek sal die wyse mense se wysheid tot niet maak; en die skerpsinniges se briljante idees sal Ek van die tafel vee.” Wat het dus geword van die filosowe, die boekgeleerdes, die debatvoerders van hierdie wêreld? God het bewys hoe inherent dwaas die wysheid van hierdie wêreld in werklikheid is. Aangesien God in sy wysheid beskik het dat die wêreld Hom nooit deur menslike slimmigheid sou vind nie, het Hy dit goedgevind om deur die “dwaasheid” van ons prediking dié wat glo, te red. Die Jode wil wondertekens hê om die waarheid van die Goeie Nuus te bevestig en die Grieke wil ’n vertoon van wysheid hê. Maar ons verkondig die gekruisigde Christus. Vir die Jode is dit skokkend en vir die nie-Jode is dit absolute dwaasheid. Maar vir ons almal wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is die gekruisigde Christus die magtige kragwerking van God en die wonderlike wysheid van God. Hierdie Goddelike “dwaasheid” is oneindig wyser as enige menslike wysheid en hierdie Goddelike “swakheid” is oneindig sterker as enige menslike kragvertoon.

1 KORINTIËRS 1:10-25

1 KORINTIËRS 1:10-25 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid