1 Korinthiërs 1

1
1Paulus, deur die wil van God 'n geroepe •apostel van •Christus Jesus, en die broer Sostenes,
2aan die •gemeente van God in Korinthe, wat in Christus Jesus geheilig is deur God – geroepe heiliges, saam met almal wat op elke plek die Naam van ons Here Jesus Christus aanroep, hulle Here en ons Here:
3Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.
Danksegging
4Ek dank my God deurentyd oor julle, en vir die genade van God wat aan julle gegee is in •Christus Jesus. 5Want deur Hom is julle in alle opsigte verryk in elke woord en in alle kennis. 6Net so is die getuienis oor Christus stewig onder julle gevestig, 7sodat julle, terwyl julle wag op die openbaarmaking van ons Here Jesus Christus, nie in enige genadegawe tekort skiet nie. 8 Hy sal julle ook tot aan die einde standvastig maak, sodat julle sonder blaam sal wees op die dag van ons Here Jesus Christus. 9God is getrou, deur wie julle geroep is tot verbondenheid met sy Seun, Jesus Christus, ons Here.
Verdeeldheid in die gemeente
10Ek pleit by julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus •Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees, en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging. 11My broers, ek is deur Chloë se mense ingelig dat daar twiste onder julle is. 12 Wat ek bedoel, is dat elkeen van julle sê, “Ek is van Paulus,” of, “Ek van Apollos, ” of, “Ek van Sefas, ” of: “Ek van Christus”. 13Is Christus verdeel? Paulus is tog nie vir julle gekruisig nie? Of is julle dan in die naam van Paulus gedoop? 14Ek dank God dat ek, afgesien van Krispus en Gaius, nie een van julle gedoop het nie, 15sodat niemand kan sê dat julle in my naam gedoop is nie. 16Ek het wel die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie van iemand anders wat ek gedoop het nie. 17Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig – nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie van sy krag ontneem word nie.
Christus as krag en wysheid van God
18 Die boodskap van die kruis is immers dwaasheid vir diegene wat verlore gaan, maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God. 19Want daar staan geskryf:
“Ek sal die wysheid van die wyses tot niet maak
en die insig van die verstandiges verwerp.”
20Waar is die wyse man, waar die skrifkenner, waar die redevoerder van hierdie wêreld? Het God dan nie die wysheid van die wêreld dwaasheid laat word nie? 21 Trouens, deur die wysheid van God het die wêreld Hom nie deur hulle wysheid leer ken nie. God het verkies om hulle wat glo, te verlos deur die dwaasheid van die verkondiging. 22Die Jode vra tekens en die Grieke soek wysheid. 23Ons egter, verkondig 'n gekruisigde •Christus. Vir die Jode is dit 'n struikelblok en vir die nie-Jode 'n dwaasheid. 24Maar vir diegene wat geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25Want die dwaasheid van God is wyser as dié van mense, en die swakheid van God is sterker as dié van mense.
26 Broers, slaan ag op julle roeping: Menslik gesproke, is daar onder julle nie baie wyses, nie baie invloedrykes, of mense van adellike afkoms nie. 27Maar die dwaashede van die wêreld het God uitgekies om die wyses te beskaam, en die swakhede van die wêreld het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 28en die onbelangrike en veragtelike dinge van die wêreld het God uitgekies – dit wat niks is – om wat wél iets was, tot niet te maak, 29 sodat geen mens iets het waarop hy hom voor God kan beroem nie. 30Deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons die wysheid geword het wat van God kom, regverdiging sowel as heiliging en bevryding. 31Daarom, soos daar geskryf staan: “Wie hom op iets wil beroem, moet hom beroem op die Here.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid