2 KORINTIËRS 11

11
Pas op vir die vals apostels wat ’n ander Jesus kom verkondig!
1Ek wil hê dat julle geduldig met my moet wees as ek ’n bietjie dwaasheid kwytraak. Verdra my tog maar, asseblief!
2Ek is jaloers oor julle eer, want julle is soos ’n jong meisie#11:2 Grondteks maagd. wat ek aan net een bruidegom toegesê het, en wat ek daarom vlekkeloos aan Christus wil oorhandig. 3Ek is tog bang dat julle gedagtes weggevoer sal word van julle opregte en suiwer toewyding aan Christus, net soos die slang Eva met sy listigheid verlei het. 4As iemand ’n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, of ’n ander gees as die Heilige Gees of ’n ander evangelie aanvaar as dié wat julle van ons ontvang het, is julle só maklik tevrede daarmee. 5Ek reken dat ek niks vir daardie superapostels terugstaan nie. 6Al is ons dalk nie opgelei in die redenaarskuns nie – wat kennis betref, staan ons geensins terug nie! Dit het ons, toe ons by julle was, by elke geleentheid duidelik laat blyk.
7Het ek miskien ’n fout gemaak deur myself te verneder om julle gees op te hef omdat ek God se Goeie Nuus#11:7 Of evangelie. gratis aan julle gepreek het? 8Ek het eintlik ander gemeentes beroof deur van hulle vergoeding te aanvaar om julle te bedien. 9Toe ek by julle was en ’n tekort ondervind het, het ek vir niemand ’n las geword nie, want die broers wat van Masedonië af gekom het, het ten volle aangevul wat ek kortgekom het. Ek het my weerhou en sal my ook verder daarvan weerhou om in enige opsig vir julle ’n las te word.
10Die waarheid van Christus leef in my. Hierdie is vir my ’n saak van trots en ek sal nie toelaat dat dit my in die omgewing van Agaje ontneem word nie. 11Waarom nie? Omdat ek julle nie liefhet nie? God weet dat ek julle innig liefhet!
12Wat ek doen, sal ek aanhou doen. Daarmee sal ek die aanleiding afsny van dié mense wat ’n geleentheid soek om as ons gelykes bevind te word in die saak waaroor hulle spog. 13Want sulke mense is vals apostels; hulle is bedrieglike werkers wat voorgee dat hulle apostels van Christus is. 14Geen wonder nie! Satan self gee immers voor dat hy ’n engel van die lig is. 15Daarom is dit ook niks besonders dat sy diensknegte hulle voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Hulle uiteinde sal wees wat hulle volgens hulle dade verdien.
Apostelskap het vir Paulus baie ontberings meegebring
16Ek sê weer ’n keer: Niemand moet dink dat ek die kluts skoon kwyt is nie. Of so nie, beskou my maar as dwaas sodat ek ook ’n bietjie kan grootpraat. 17Wat ek nou gaan sê, kom nie van die Here nie. Nee, in hierdie saak praat ek regtig soos ’n dwaas in die vertroue dat ek wel rede het om te spog. 18Aangesien daar baie mense is wat op menslike gronde spog, gaan ek ook nou spog. 19Julle wat só slim is, verdra mos geredelik die dwase. 20Julle verdra dit as iemand julle op sleeptou neem, as iemand julle uitbuit, as iemand julle inloop, as iemand grootmeneer speel, as iemand julle trompop beledig. 21Ek sê dit tot my “skande” dat ons te “swak” daarvoor was!
Nou praat ek regtig soos ’n dwaas: As iemand dit wil waag om te spog, ek kan nog meer spog. 22Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle die saad van Abraham? Ek ook. 23Is hulle diensknegte van Christus, ek nog meer – nou praat ek regtig asof ek heeltemal van my verstand af is!
Wat harde werk betref, uitermate; wat tronke betref, uitermate; wat katshoue betref, in die oortreffende trap; in doodsgevare dikwels. 24Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry; 25drie maal is ek met stokke geslaan, en een keer is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een van daardie kere het ek ’n dag en ’n nag op die oop see oorleef. 26Ek was dikwels op reis; in gevare van riviere; van rowers; van my volksgenote; van nie-Jode; gevare in die stad en in verlate gebiede; gevare op see en gevare onder vals medegelowiges.
27Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors; van dikwels sonder kos te moet klaarkom, van koue en sonder klere wees. 28Behalwe al dié dinge, was daar nog elke dag die bekommernis oor al die gemeentes. 29Watter medegelowige is swak, en ek voel nie saam swak nie? Wie word tot struikeling gebring, en ek raak nie uiter-mate ontsteld nie?
30As daar dan grootgepraat móét word, sal ek spog, maar dan veel eerder oor my swakhede. 31Die God en Vader van die Here Jesus weet – aan Hom kom die lof toe tot in ewigheid – dat ek nie ’n leuen vertel nie. 32Toe ek in Damaskus was, het die goewerneur van koning Aretas die stad Damaskus laat bewaak om my te arresteer. 33Deur ’n venster in die muur is ek in ’n mandjie neergelaat en het ek sy hande ontglip.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid