2 KORINTIËRS 12

12
God se genade is vir Paulus genoeg
1As ek dan moet grootpraat – al is dit nou wel nie nuttig nie, sal ek uitkom by gesigte en openbarings deur die Here. 2Ek ken ’n man wat in ’n hegte verhouding met Christus staan. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel. Of dit in die liggaam was of buite die liggaam, weet ek nie, maar God weet. 3En ek weet ook dat hierdie man – of dit in die liggaam was of buite die liggaam, weet ek nie, God weet – 4weggeruk is na die Paradys toe, en dat hy daar dinge gehoor het wat so verhewe is dat dit vir ’n mens onmoontlik is om dit in woorde uit te druk. 5Oor hierdie man sal ek spog, maar oor myself sal ek nie spog nie, behalwe oor my swakhede. 6Al sou ek ook wou spog, sou ek nie dwaas wees nie, want dan sou ek die waarheid praat. Maar ek weerhou my daarvan sodat niemand méér oor my sal sê as wat hy van my sien en van my hoor nie, 7selfs nie as gevolg van die buitengewone openbarings nie.
Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my te kasty. 8Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. 9Hy het egter vir my gesê: “My genade#12:9 Of onverdiende goedheid. is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.”
Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk. 10Ek is dus tevrede met my swakhede, beledigings, ontbe-rings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus, want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk.
Paulus is diep bekommerd oor die Korintiërs
11Ek het nou eintlik dwaas geword, maar julle het my daartoe gedwing. Want ek moes eintlik deur julle aanbeveel gewees het. Al is ek ook niks, staan ek niks agter vir daardie danige superapostels nie. 12Die kentekens van ’n apostel het ek oor en oor uitgewys toe ek by julle was: deur die doen van tekens, wonders en kragtige dade. 13In watter opsig is julle slegter daaraan toe as die ander gemeentes, behalwe dat ek self nie vir julle tot ’n las was nie? Vergewe my hierdie “onreg”!
14Kyk, ek is nou vir die derde keer gereed om na julle toe te kom, en ek sal nie ’n las wees nie: ek is nie agter julle goed aan nie, maar julle self. Want dit is nie dat die kinders vir hulle ouers moet sorg nie, maar die ouers vir die kinders. 15Ek sou baie graag alles wou spandeer vir julle lewe, ja, ook myself. Aangesien ek julle uitermate liefhet, hoe werk dit dat julle my dan minder liefhet?
16Laat dit vasstaan – ek was regtig nie vir julle ’n las nie. Of meen julle dalk ek was te uitgeslape en het julle met ’n slap riem gevang? Hoe? 17Het ek julle miskien mislei deur een van die mense wat ek na julle toe gestuur het? 18Ek het vir Titus gevra en nog ’n broer saamgestuur. Het Titus julle dan gekul? Is ons optrede en styl dan nie in dieselfde gees nie; loop ons dan nie in dieselfde spore nie?
19Julle dink seker al lankal dat ons hierdie dinge uit blote selfverdediging sê. Dis hoegenaamd nie die geval nie! Ons praat openlik oor hierdie dinge met God as ons getuie en vanuit ons hegte verhouding met Christus! Alles wat ons sê, geliefdes, is ter wille van julle opbou.
20Ek is bang dat wanneer ek kom, ek julle nie so sal aantref soos ek julle graag wil hê nie, en dat ek ook nie deur julle so aangetref sal word soos julle my graag sal wil hê nie. Ek is veral bang vir twis, naywer, botsings, selfsugtige ambisie, kwaadstokery, geskinder, verwaandheid en wanordelikheid. 21Ek is ook bang dat wanneer ek weer kom, my God my by julle sal verneder en dat ek sal treur oor baie wat al lank sonde doen en wat nie oor hulle onreinheid, seksuele vergrype en losbandigheid berou het nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid