1 KONINGS 10

10
Die besoek van die koningin uit Skeba
1Toe die koningin van Skeba van Salomo se aansien en van die Naam van die Here hoor, het sy self gekom om hom met moeilike vrae te toets. 2Sy het in Jerusalem aangekom saam met ’n groot gevolg en kamele belaai met speserye, baie goud en kosbare edelstene. Sy het met Salomo oor alles gepraat wat in haar gemoed was. 3Salomo het ’n antwoord op elkeen van haar vrae gehad. Niks was vir die koning te moeilik om te verduidelik nie. 4Die koningin van Skeba was beïndruk met Salomo se wysheid, die paleis wat hy gebou het, 5die kos op sy tafel, hoe hy sy amptenare laat aansit het, die bediening en die uniforms van sy tafelbediendes en sy kelners, asook die brandoffers wat Salomo by die tempel van die Here geoffer het. Dit alles het haar na haar asem laat snak.
6Sy sê toe vir die koning: “Alles wat ek in my land van u en u wysheid gehoor het, is waar! 7Ek kon dit nie glo voordat ek hier aangekom het en dit self met my eie oë gesien het nie. Trouens, ek het nie eers van die helfte daarvan gehoor nie! U wysheid en voorspoed is baie meer as waarvan ek gehoor het. 8Hoe bevoorreg is hierdie volk! Wat ’n voorreg vir u amptenare om in u diens te staan en hier dag vir dag u wysheid aan te hoor! 9Die Here u God kom die lof toe omdat Hy soveel liefde aan u bewys het en u op die troon van Israel gesit het. Dis omdat die Here Israel eindeloos liefhet dat Hy u koning oor Israel gemaak het sodat u in reg en geregtigheid kan regeer.”
10Toe gee sy vir die koning ’n geskenk van meer as vier ton goud, baie speserye en waardevolle edelstene. Nooit weer is so baie speserye die land ingebring soos wat die koningin van Skeba vir Salomo gegee het nie.
11Toe Hiram se skepe goud uit Ofir gebring het, het hulle ook baie jenewerhout en waardevolle edelstene saamgebring. 12Die koning het die jenewerhout gebruik om relings vir die tempel van die Here en die koninklike paleis te maak, en liere en harpe vir die musikante. Nooit tevore of daarna is sulke pragtige jenewerhout gesien nie.
13Koning Salomo het vir die koningin van Skeba alles gegee waarvoor sy gevra het. Dit was bo en behalwe die ander geskenke wat hy as koning gegee het. Daarna het sy en haar gevolg vertrek en na haar eie land toe teruggegaan.
Salomo se rykdom
14Salomo se inkomste was jaarliks ongeveer 23 ton goud. 15Dit is afgesien van die inkomste wat hy van reisigers en handelaars, al die konings van Arabië en die streeksbestuurders in Israel ontvang het.
16Koning Salomo het 200 groot skilde van bladgoud gemaak. Hy het ongeveer sewe kilogram goud vir elke skild gebruik. 17Hy het ook 300 klein skilde van bladgoud gemaak en ongeveer twee kilogram goud vir elkeen gebruik. Die koning het hierdie skilde in die Libanonsbosgebou geplaas.
18Die koning het ook ’n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek. 19Die troon het ses trappies gehad en die kopstuk agter was rond. Aan albei kante van die troon was daar armleunings met ’n beeld van ’n leeu langsaan. 20Twaalf beelde van leeus het op die ses trappies gestaan, een aan weerskante van ’n trappie. Daar was geen gelyke hiervan in enige ander koninkryk nie.
21Koning Salomo se drinkbekers was van goud. So ook al die gebruiksartikels in die Libanonsbosgebou. Niks is van silwer gemaak nie omdat dit in Salomo se tyd geen waarde gehad het nie.
22Die koning het ’n Tarsisvloot gehad wat saam met dié van Hiram uitgevaar het. Elke drie jaar het hierdie Tarsisvloot teruggekeer, belaai met goud, silwer, ivoor, ape en bobbejane.
23Koning Salomo het al die konings op aarde oortref in rykdom en wysheid. 24Mense oor die hele wêreld wou hom besoek om die wysheid te hoor wat God vir hom gegee het. 25Elkeen wat hom besoek het, het vir hom geskenke van silwer en goud, klere, wapens, speserye, perde en muile saamgebring. Dit het jaar na jaar gebeur.
26Salomo het ’n groot mag van strydwaens en ruiters opgebou. Hy het 1 400 strydwaens gehad en 12 000 perderuiters. Hy het hulle in die strydwastede geplaas en sommige by die koning in Jerusalem. 27Silwer was so volop soos klippe in Jerusalem en sederhout was so algemeen soos wildevye in die Laeveld van Juda. 28Sy perde het hy uit Egipte en Kewé#10:28 Vgl 2 Kron 1:16. ingevoer. Die koninklike handelaars het hulle daar teen ’n bepaalde prys aangekoop. 29Egiptiese strydwaens het sewe kilogram silwer elk gekos en ’n perd sowat een en ’n driekwart kilogram silwer. ’n Perd is teen dieselfde prys aan die konings van die Hetiete en die konings van Aram verkoop. Die transaksies is deur middel van die handelaars gedoen.

Tans Gekies:

1 KONINGS 10: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid