1 KONINGS 9

9
Die Here verskyn ’n tweede keer aan Salomo
1Salomo het die tempel van die Here en die koninklike paleis klaar gebou. Hy het alles voltooi soos hy beplan het. 2Toe verskyn die Here vir ’n tweede keer aan Salomo soos voorheen by Gibeon. 3Die Here sê vir hom: “Ek het jou gebed en jou smeking gehoor. Hierdie tempel wat jy gebou het, heilig Ek sodat my Naam altyd daar vereer sal word. Ek sal voortdurend ’n wakende oog daaroor hou en dit onder my sorg neem. 4Wat jou betref: Dien My met opregtheid en vroomheid soos jou pa, Dawid, gedoen het, doen alles wat Ek beveel het en voer my bevele en voorskrifte uit. 5Dan sal Ek jou koningskap oor Israel bevestig soos Ek aan jou pa, Dawid, belowe het: ‘Daar sal altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel wees.’
6“Maar as jy of jou nageslag My verlaat en nie my bevele en gebooie gehoorsaam nie, as julle ander gode dien en voor hulle buig, 7dan sal Ek Israel uitruk uit hierdie land wat Ek vir hulle gegee het. Ek sal hierdie tempel wat Ek tot eer van my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal Israel tot ’n voorwerp van spot en hoon onder die volke maak. 8Al is dit so dat hierdie tempel nou ’n indrukwekkende gebou is, sal dit dan ’n ontstellende gesig word vir almal wat verbygaan. Hulle sal smalend spot en vra: ‘Hoekom het die Here sulke verskriklike dinge aan sy land en sy tempel gedoen?’ 9En daar sal geantwoord word: ‘Omdat hulle die Here hulle God wat hulle voorouers uit Egipte gebring het, vaarwel toegeroep het, ander gode vereer het, voor hulle gebuig en hulle gedien het. Dis hoekom die Here al hierdie rampe oor hulle gebring het.’”
Salomo stel Hiram nie tevrede nie
10Dit het Salomo twintig jaar geneem om die tempel van die Here en die koninklike paleis te bou. 11Toe het hy twintig dorpe in Galilea as betaling vir Hiram van Tirus gegee vir al die sederhout, sipreshout en goud wat hy vir die bouprojek nodig gehad het. 12Hiram het uit Tirus kom kyk hoe die dorpe lyk wat Salomo vir hom gegee het, maar hy was nie daarmee tevrede nie. 13“Watter soort dorpe is dit wat jy vir my gegee het, my broer?” het hy gevra. “Hierdie dorpe is tog waardeloos!” Daarom word dit tot vandag toe Kabulstreek#9:13 Kabul beteken waardeloos. genoem. 14Hiram het meer as vier ton goud aan Salomo gelewer.
Salomo se verskillende projekte
15Salomo het dwangarbeid gebruik om die volgende projekte te bou: die tempel van die Here, die koninklike paleis, die terras en die muur van Jerusalem. Hy het ook die stede Hasor, Megiddo en Geser met hulle herbou. 16Die farao, koning van Egipte, het Geser verower, die Kanaänitiese inwoners doodgemaak en die stad verbrand. Daarna het hy dit as trougeskenk aan sy dogter gegee toe sy met Salomo getrou het. 17Daarom het Salomo Geser herbou, asook Bet-Goron-Onder, 18Baälat en Tamar in die woestyn van Juda. 19Verder het hy voorraadstede gebou en stede waar sy strydwaens en berede mag gehuisves was. Hy het in Jerusalem, die Libanon en dwarsdeur sy hele ryk alles voltooi wat hy hom voorgeneem het om te bou.
20In die land was daar nog inwoners wat nie Israeliete was nie. Hulle was die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en die Jebusiete. 21Hulle was die afstammelinge van die volke wat Israel nie volledig uitgeroei het nie. Salomo het hulle opgekommandeer om dwangarbeid vir hom te doen. Dis vandag nog so. 22Salomo het egter geen Israeliet vir dwangarbeid gebruik nie. Hulle was sy soldate, sy lyfwag, sy staatsamptenare, offisiere in sy leër, aanvoerders van sy strydwaens en sy berede magte. 23Verder het hy 550 van hulle as beamptes aangestel om toesig te hou oor al die verskillende projekte.
24Nadat die dogter van die farao uit die Dawidstad oorgetrek het na die nuwe paleis wat hy vir haar gebou het, het hy ook die terras gebou.
25Salomo het drie keer per jaar brandoffers en maaltydoffers gebring op die altaar wat hy vir die Here gebou het. Hy het ook wierookoffers vir die Here gebrand. So het hy al sy verpligtings in die tempel nagekom.
26Koning Salomo het ook skepe gebou by Esjon-Geber, ’n hawe naby Elat aan die kus van die Rietsee in Edom. 27Hiram het ook vir hom skepe gestuur met gesoute bemanningslede. Hulle het saam met Salomo se matrose 28na Ofir gevaar en daar vir Salomo meer as veertien ton goud gaan haal.

Tans Gekies:

1 KONINGS 9: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid