1 KONINGS 11

11
Salomo se buitelandse vroue verlei hom
1Koning Salomo het baie buitelandse vroue liefgekry. Benewens die farao se dogter het hy vroue uit Moab, Ammon, Edom, Sidon en uit die Hetiete gehad. 2Die Here het duidelik vir die Israeliete gesê: “Julle mag nie met hierdie nasies ondertrou nie. Hulle sal julle verlei om hulle gode te aanbid.” Nogtans het Salomo op hulle verlief geraak. 3Hy het 700 vroue van koninklike afkoms gehad en 300 byvroue. Hierdie vroue het hom toe inderdaad verlei. 4Toe Salomo oud geword het, het hulle hom verlei om ander gode te dien. Hy het nie meer die Here sy God met soveel toewyding gedien soos sy pa, Dawid, gedoen het nie. 5Salomo het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die afskuwelike godin van die Ammoniete, aanbid. 6Dit wat Salomo gedoen het, was verkeerd vir die Here. Hy het nie meer die Here met volle oorgawe gedien soos sy pa, Dawid, nie. 7Op die heuwel oos van Jerusalem het hy selfs ’n hoogte vir Kemos, die walglike god van Moab, gebou, asook een vir Molek, die afskuwelike god van die Ammoniete. 8Salomo het sulke hoogtes vir al sy buitelandse vroue gemaak sodat hulle daar wierook kon brand en offers aan hulle gode kon bring.
God oordeel Salomo
9Die Here was baie ontevrede met Salomo omdat hy die Here, die God van Israel wat twee keer aan hom verskyn het, verlaat het. 10Hy het Salomo uitdruklik gewaarsku om nie ander gode te dien nie. Nogtans het Salomo nie na die bevele van die Here geluister nie. 11Die Here sê toe vir hom: “Aangesien jy die verbond met My verbreek het en ongehoorsaam was aan my opdragte, sal Ek sekerlik die koninkryk van jou afskeur en dit vir een van jou onderdane gee. 12Ter wille van jou pa, Dawid, sal Ek dit nie in jou leeftyd doen nie, maar wel wanneer jou seun koning geword het. 13Ek sal ook nie die hele koninkryk afskeur nie. Ter wille van my dienaar Dawid en ter wille van Jerusalem wat Ek uitgekies het, sal Ek wel een stam vir jou seun laat oorbly.”
Salomo se vyand Hadad
14Toe het die Here Hadad die Edomiet, ’n familielid van die koning van Edom, aangepor om teen Salomo in opstand te kom. 15Jare vantevore het Dawid saam met Joab, die opperbevelhebber van sy leër, na Edom toe gegaan om dié wat gesneuwel het, te begrawe. Dit was nadat die leër van Israel feitlik elke manlike persoon in Edom doodgemaak het. 16Dit het Joab en sy leër ses maande geneem om al die mans dood te maak. 17Maar Hadad, wat toe nog maar ’n jong seun was, het saam met sommige Edomiete uit die hofhouding van sy pa in die rigting van Egipte gevlug. 18Hulle het deur Midian na Paran toe getrek. Daar het nog mense by hulle aangesluit. Hiervandaan het hulle na Egipte toe gegaan, na die farao, die koning van Egipte. Hy het vir hulle woonplek, kos en grond gegee.
19Die farao het so baie van Hadad gehou dat hy sy skoonsuster, die suster van sy vrou koningin Tagpenes, vir hom as vrou gegee het. 20Sy het vir Hadad ’n seun, Genubat, in die wêreld gebring. Tagpenes het hom saam met die farao se eie kinders in die farao se paleis grootgemaak.
21Toe Hadad in Egipte hoor dat sowel Dawid as Joab, die opperbevelvoerder van sy leër, dood is, sê hy vir die farao: “Laat my gaan sodat ek na my eie land kan terugkeer.”
22“Hoekom?” vra die farao hom. “Kom jy hier iets kort dat jy nou wil teruggaan?”
“Nee, niks is verkeerd nie,” antwoord hy. “Maar laat my tog teruggaan.”
Reson in opstand teen Salomo
23God het ook Reson, seun van Eljada, en onderdaan van koning Hadad-Eser van Soba, aangehits om teen Salomo in opstand te kom. Reson het vir die koning gevlug. 24Hy het ’n klompie manne om hom bymekaargemaak en die leier van die bende geword. In die tyd toe Dawid die magte van Soba verslaan het, het Reson en sy mense na Damaskus toe gevlug. Hy het daar gaan woon en koning geword. 25Solank Salomo geleef het, was Reson ’n vyand van Israel. Dit was benewens die kwaad wat Hadad aangerig het. Reson was koning van Aram en het Israel intens gehaat.
Agija se boodskap aan Jerobeam
26Daar was ook nog ’n ander opstandeling. Sy naam was Jerobeam seun van Nebat, een van Salomo se amptenare. Hy was ’n Efratiet uit Sereda. Sy ma was Serua, ’n weduwee. 27Sy opstand het soos volg verloop: Salomo was besig om die terras te bou om die opening in die muur van die Dawidstad toe te maak. 28Jerobeam was ’n baie bekwame man sodat Salomo hom in beheer geplaas het van die dwangarbeid uit die stamme van Efraim en Manasse#11:28 Grondteks die Josefstam..
29In hierdie tyd het die profeet Agija uit Silo Jerobeam net buite Jerusalem langs die pad teëgekom. Agija het ’n nuwe mantel aangehad. Die twee van hulle was alleen in die veld. 30Agija vat toe die nuwe mantel en skeur dit in twaalf stukke. 31Toe sê hy vir Jerobeam: “Vat vir jou tien stukke, want die Here, die God van Israel sê: ‘So gaan Ek die koningskap van Salomo afskeur en tien van die stamme vir jou gee. 32Ek sal een stam vir hom laat oorbly ter wille van my dienaar Dawid, en ter wille van Jerusalem wat Ek uit al die stamme van Israel gekies het. 33Dit sal gebeur omdat Salomo My verlaat het en Astarte die godin van die Sidoniërs, Kemos die god van Moab, en Milkom die god van die Ammoniete, aanbid. Hy leef nie meer volgens my wil nie en hy doen wat nie vir My reg is nie. Hy kom nie my gebooie en voorskrifte na soos sy pa, Dawid, gedoen het nie.
34“‘Tog sal Ek nie die hele koningskap van hom wegneem nie. Ter wille van my dienaar Dawid, die een wat Ek gekies het en wat my bevele en gebooie gehoorsaam het, sal Ek Salomo toelaat om vir die res van sy lewe te regeer, 35maar Ek sal die koninkryk van sy seun wegneem en tien van die stamme vir jou gee. 36Sy seun sal een stam behou sodat die troon van my dienaar Dawid bestendig sal wees in Jerusalem#11:36 Grondteks sodat daar altyd ’n lamp voor My vir my dienaar Dawid in Jerusalem kan wees., die stad wat Ek gekies het ter ere van my Naam. 37Ek sal jou koning maak volgens jou hartsbegeerte sodat jy oor Israel kan regeer. 38As jy vir My luister en volgens my wil lewe en doen wat Ek as reg beskou; as jy my gebooie en bepalings gehoorsaam soos my dienaar Dawid gedoen het, dan sal Ek altyd by jou wees. Ek sal ’n blywende koningshuis vir jou oprig soos Ek vir Dawid gemaak het en Ek sal Israel vir jou gee. 39Maar die nageslag van Dawid sal Ek verneder weens die sonde van Salomo, hoewel dit nie vir altyd sal wees nie.’”
40Salomo het Jerobeam probeer doodmaak, maar hy het na koning Sisak van Egipte gevlug en daar gewag tot Salomo se dood.
Die einde van Salomo
41Die ander gebeurtenisse tydens Salomo se regering, wat hy gedoen het en sy wysheid, is opgeteken in Die boek van die handelinge van Salomo. 42Salomo het 40 jaar lank in Jerusalem oor die hele Israel regeer. 43Toe hy sterf, is hy in die stad van sy pa, Dawid, begrawe. Sy seun Rehabeam het hom opgevolg.

Tans Gekies:

1 KONINGS 11: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid