Leesplan inligting

Here, dis ek hierso!Voorbeeld

Here, dis ek hierso!

DAG 4 VAN 7

VANDAG IS EK MOEDELOOS

"Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie. Moenie twyfel nie. Waarom so hartseer? Vertrou net op God." Psalm 42:6 DB.

Is dit nie so dat wanneer jy sukkel om met jou maandelikse begroting uit te kom en jou kind siek word en iemand ry in jou motor vas, dat jy voel of jy net nooit weer die son sal kan sien opkom nie!! Dalk sukkel jy om ‘n werk te kry, of bid al jare vir genesing vir jou geliefde! Miskien is jy vandag moedeloos omdat jy al soveel keer die teleurstelling van ‘n miskraam moes ervaar. Dalk het jy al jou besittings verloor in ‘n natuurramp of inbraak. Jy is dalk net so moedeloos van elke dag se gesukkel om jouself en gesin aan die lewe te hou!!!

Moenie alleen voel nie. Die Psalmdigter het ook so gevoel. Lees weer ons teksvers.

Eers beskryf hy sy gevoelens oor hoe moedeloos hy is en dan herinner hy homself weer daaraan dat hy net op God moet vertrou. Hy neem ‘n besluit om God te loof, al kry hy swaar. Want hy onthou van die kere wat God hom uit al sy swaarkry gered het.

Wil jy nie ook terugkyk op jou lewe en jouself herinner aan al die kere waar God vir jou deurgekom het nie? Sê dit hardop vir Hom. Verklaar jou afhanklikheid van Hom. In vers 9 staan daar: “Ek sal tot Hom bid, want Hy is die God wat my oppas.” Dis waar. Ek en jy is waar ons is omdat God ons oppas. Verder sien ons ook hoe moedeloos die digter was oor mense wat hom in die rug steek en spot. Maar keer op keer praat hy homself moed in, omdat hy glo en weet en onthou: “Dis Hy wat my sal help. Hy is my God!”

Ek en jy moet ook onthou: Jesus het mos gesê dat ons dit in hierdie wêreld sal moeilik hê. Maar ons moet moed hou, want Hy het die wêreld klaar oorwin (Johannes 16:33). Dus moet jy nie by die hier en nou vassteek nie, maar op die feit dat hierdie dinge alles sal verbygaan. Ons ewige woning gaan in die hemel saam met God die Vader wees.

Gebed:

My Heer, dankie dat ek kan terugkyk op my lewe en die kere raaksien waar U my gehelp, opgetel en vertroos het. Dankie dat U my help in my moedeloosheid. Dankie dat U my verstaan en ken. Amen.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Here, dis ek hierso!

Voel jy soms bang en moedeloos omdat die lewe se uitdagings net te veel vir jou raak? Voel jy soms jy hoor nie meer God se stem nie? Wonder jy selfs oor jou eie identiteit? Gelukkig is God so lief vir jou dat Hy jou vul ...

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid