Leesplan inligting

Die Geloof Van GebedVoorbeeld

Die Geloof Van Gebed

DAG 5 VAN 7

Gebed tref baie verder as jou huis se plafon 


Soms voel dit asof ons teen ons huis se plafon vasbid. Dan is dit asof daar ʼn besetkode hemelwaarts is. Ons klop aan die hemelse deure, maar dit bly toe. Ons pleit en smeek, maar dit klink of ons gebede op dowe ore val. Gelukkig is ons nie alleen wat sulke gevoelens betref nie. Bybelskrywers soos Paulus het ook sulke “stiltes” beleef. In Romeine 8:26 sê hy ons grootste swakheid is dat ons nie altyd weet wat en hoe om te bid nie. Maar Paulus stop gelukkig nie hier nie. Hy skryf verder dat die Gees vir ons intree in sulke tye. In ons geestelike windstil dae is dit die Heilige Gees self wat vir ons bid. Hy sug en praat namens ons met God wanneer dit voel of ons gebede kragteloos is. Die beste nuus van alles is dat God altyd na sy Gees se gebede luister! Hy laat geen gebed van die Gees leweloos terugval aarde toe nie.


Ons troos is dat die Heilige Gees vir ons bid. Maar die goeie nuus stop nie hier nie. Paulus skryf verder in Romeine 8:33-34 dat Jesus ook aan die regterhand van God is en dat Hy ook vir ons intree. Ons is regtig in goeie hemelse hande. Die Heilige Gees en Christus praat met God oor ons as Sy kinders. Christus en die Gees se gebede is loshande die kragtigste gebede in die hele heelal. Hierdie intredes vir ons by die Vader maak die wêreld se verskil in die hemel, selfs al verander dinge nie noodwendig in ’n oogwink hier aan ons kant van die draad nie. Wanneer dit partykeer voel asof daar ’n besetkode hemel toe is, troos Romeine 8 se superwoorde ons dat die Gees en Christus vir ons bid. Ons hou vandag en elke ander dag vas aan Jesus en die Gees as ons groot Voorbidders. Die Gees vul ons stomheid aan met die regte woorde voor God se troon. En Jesus tree gedurig vir ons in by die Vader. Die goeie nuus is dat daar geen plafon tussen God en ons is nie. 

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Die Geloof Van Gebed

Voel dit asof jy teen jou huis se plafon vasbid? Voel dit asof God nie jou gebede hoor, of selfs vinnig genoeg antwoord nie? Wonder jy of jou geloof dalk die probleem is vir jou gebedslewe? Volg ons saam oor die volgende...

More

Ons bedank EKERK vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.ekerk.org/skryf-in​​​​​​​

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid