Leesplan inligting

Vernietig Kriptoniet (Saam Met John Bevere)Voorbeeld

Killing Kryptonite With John Bevere

DAG 1 VAN 7


Dit mag jou dalk effens verbaas, maar my doel vir die eerste dag van hierdie oordenking was eintlik om jou te frustreer ... kom ek verduidelik hoekom.



Daar is 'n groot misverstand tussen wat in die Nuwe Testamentiese kerk gebeur het en wat in hedendaagse kerke gebeur. Dit sou maklik gewees het om die blaam te plaas op gefragmenteerde instellings, goddelose leiers, die kultuur ensovoorts, maar kom ons gebruik hierdie geleentheid om ons eie lewens te ondersoek. 



Die waarheid is dat die eerste-eeuse Christene as bomenslik in hulle tyd beskou is en dat die wêreld in verwondering oor hulle was. Hier is slegs enkele van hulle wedervaringe wat in die Skrif voorkom:



Geen persoon in hulle gemeenskap het enige tekort gehad nie — niemand het enige fisiese behoeftes van enige aard gehad nie en daar was ook geen ondersteuning van die regering se kant nie (Handelinge 4:33-35). Hele stede het hulle tot Jesus bekeer en die evangelie het slegs binne 'n paar jaar soos 'n veldbrand regdeur verskeie streke versprei (Handelinge 9:32-35, 19:10). 



God het só kragtig deur hulle gewerk, dat hulle selfs mense moes oortuig dat hulle nie gode was nie (Handelinge 10:25-26, 14:8-18) — dink 'n oomblik hieroor na. Hulle tye van aanbidding was soms so kragtig dat 'n gebou geskud het (Handelinge 4:31). As gevolg van hierdie dinge het hulle die reputasie gekry dat hulle mense was wat die wêreld in beroering gebring het (Handelinge 17:6). 



Wat eintlik vir ons 'n uitdaging moet wees, is dat God dit in sy Woord duidelik gemaak het dat Christene in die laaste dae selfs groter dinge sal kan vermag as hierdie vroeë gelowiges. Die vraag is egter hoekom ons nie hierdie groter werke wat God belowe het, sien gebeur nie.



Ek glo, net soos kriptoniet Superman se kragte kon laat verswak, die kerk — die mense wat beweer dat hulle volgelinge van Christus is — ook vandag iets soortgelyks in hulle lewens het. 



Kriptoniet was 'n stof van Superman se tuisplaneet. Wanneer hy na aan dié stof gekom het, het hy al sy bomenslike kragte verloor en swak geword — selfs swakker as 'n gewone mens. As ons na vandag se kerke kyk — die egskeidingsyfer, pornografie en seksuele losbandigheid wat net so erg of selfs erger in die kerkgemeenskap is as in die res van die wêreld — is dit duidelik dat daar ook "kriptoniet" tussen ons is. 



Die toestand waarin die kerk vandag is, is dus onteenseglik die teenoorgestelde as God se bedoeling en doelwitte vir ons lewens as volgelinge van Christus en behoort ons te frustreer. 



In hierdie oordenkings sal ons leer wat hierdie "kriptoniet" is en hoe om daarvan ontslae te raak, maar ons moet eers weet wat ons potensiaal is en daarin glo. Jy sal mos nie gemotiveerd wees om enige potensiaal te ontwikkel waarvan jy nie bewus is nie. 



Wat sal jy doen noudat jy weet wat jou potensiaal is? 


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Killing Kryptonite With John Bevere

Net soos Superman elkeen van sy vyande kan verslaan, so het jy as 'n Christen ook die bonatuurlike vermoë om enige uitdaging te bowe te kom. Die probleem vir beide jou en Superman, is dat daar kriptoniet is (fiktiewe che...

More

Baie dankie aan John & Lisa Bevere (Messenger Int'l) wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek: http://killingkryptonite.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid