Leesplan inligting

Die Beloofde MessiasVoorbeeld

Die Beloofde Messias

DAG 7 VAN 29




Naam Bo Elke Naam

Lees: Jesaja 7:14; Matteus 1:18–25; Filippense 2:6–11

SOAP: Filippense 2:8–11

"En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. "

Oordenking

God het belowe om ‘n Messias te stuur wat aan sy naam herken sou word. Jesaja het voorspel dat hierdie Messias regverdig en uit die geslag van Dawid sou wees en lig en vrede vir God se volk sou bring. Hierdie Messias sou uit ‘n maagd gebore word, deur die Heilige Gees verwek word, want Hy is God wat vlees geword het.

Die Messias sou “Immanuel” genoem word wat “God met ons” beteken. Jesus se naam beteken “Jahwe is verlossing” of “Jahwe red”. God het sy voorneme getoon om by die mensdom te kom bly en mens te word om ons van sonde te red.

Toe Jesus die heerlikheid van die hemel verlaat het om na ons gebroke wêreld te kom, het Hy Homself verneder. Nie van sy goddelikheid nie, maar van sy voorregte as God. Jesus, die ewige Seun van God, was bereid om mens te word en al die pyn, frustrasies en beproewings van ons gevalle wêreld te betree. Hy het Homself verneder deur Hom aan die Vader se wil te onderwerp.

Jesus se gehoorsaamheid het verder gegaan as om as mens te leef, selfs so ver as sy grusame dood. Hy is verneder en gehaat en vermoor deur die einste mense wat Hy kom red het. Tog het God Hom juis daarom tot die hoogste eer verhef.

Jesus se naam is verhoog bo elke ander naam. Eendag sal elkeen, of hulle in Hom geglo het of nie, voor Hom neerbuig. Elke persoon sal erken en verklaar dat Hy die Here is. Sy naam is verhoog en sal tot in alle ewigheid verhoog wees omdat Hy die God is wat red. Hy is God met ons.

Watter ongelooflike God dien ons nie! Hy was bereid om Homself heeltemal te verneder om ons te red. Hy het sy plek in die hemel verlaat sodat ons ‘n verhouding met Hom kan hê. Hy het alles gegee sodat ons alles kon verkry. Sy naam is vir ewig verhoog en vir ewig ons lof waardig.

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Die Beloofde Messias

Wanneer God ‘n belofte maak, het Hy reeds ‘n plan om dit gestand te doen. Sy grootste belofte, om vir ons ‘n Verlosser te stuur om ons van sonde te red, word bewys deur die lewe, dood en opstanding van Jesus. In hierdie ...

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.loveGodgreatly.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid